• Login
  • Search Icon

Verlaag met kultivarkeuse die risiko van koringverbouing onder droëlandtoestande

April 2012

WILLEM KILIAN EN GERRIE SAAYMAN, ALBEI VAN DIE LNR-KLEINGRAANINSTITUUT

As gevolg van wisselvallige klimaatstoestande in die somerreëngebied sal koringverbouing onder droëlandtoestande maar altyd ‘n mate van risiko inhou.

Daar is ‘n droë tydperk vanaf planttyd totdat lentereëns gedurende September verwag kan word en die duur van hierdie periode bepaal tot ‘n groot mate die sukses van koringaanplantings. Daar is ook rede om te glo dat die begin van die lentereëns nou later is as wat ‘n klompie jare gelede die geval was.

Die spektrum van kultivars wat vir droëlandtoestande in die somerreëngebied beskikbaar is, bied ‘n goeie geleentheid om die risiko wat wisselende klimaatstoestande inhou tot ‘n minimum te beperk. Daar is kultivars beskikbaar wat van baie vroeg tot so laat as Augustus aangeplant kan word.

In die Nasionale Kultivarevaluasieprogram in die somerreëngebied word aanplantings gedoen in vier produksiegebiede, wat drasties van mekaar verskil ten opsigte van klimaats- en grondtoestande.

Die vier gebiede is die Suidwes-, Noordwes-, Sentraal- en Oos-Vrystaat. In elkeen van hierdie gebiede word proewe in ‘n vroeë sowel as ‘n laat planttyd aangeplant. Omdat daar ten minste vier lokaliteite in elke gebied gebruik word, is hierdie data van groot waarde vir produsente om gegronde besluite te maak rakende die keuse van kultivars sowel as plantdatum.

Dit is nie moontlik om hier al die detail van die interaksies tussen gebied, planttyd en kultivarreaksie te bespreek nie, maar dit is belangrik dat produsente bewus is van die databasis wat beskikbaar is. In die bespreking hieronder word die resultate wat gedurende 2011 in die vroeë planttye in elke gebied behaal is, aangebied.

Die drie jaar gemiddelde opbrengste van kultivars wat vir die volle tydperk van 2009 tot 2011 ingesluit was, word ook opgesom. Laasgenoemde data verskaf inligting oor die opbrengsstabiliteit van die kultivars.

Opbrengsresultate

Suidwes-Vrystaat
Die gemiddelde opbrengste was soortgelyk as in die vorige seisoen. Die gemiddelde opbrengs vir die vroeë aanplantings was 1,98 ton/ha (Grafiek 1).

SST 3120 het die beste opbrengs gehad, terwyl die kultivars PAN 3118 en SST 347 statisties nie betekenisvol verskil het van die beste kultivar nie. Twaalf kultivars was ingesluit oor ‘n driejaar-tydperk vanaf 2009 tot 2011 (Grafiek 2). Die gemiddelde opbrengs wat verkry is, was 2,01 ton/ha. In hierdie tydperk het PAN 3120 die beste presteer, met SST 347, PAN 3118 en Matlabas wat statisties nie betekenisvol verskil het van die beste kultivar nie.

image

Noordwes-Vrystaat
Die kultivarprestasie vir die Noordwes-Vrystaat (2011) word in Grafiek 3 weergegee. PAN 3379 het die hoogste opbrengs gehad, gevolg deur SST 387 en PAN 3120. Laasgenoemde twee kultivars het statisties nie betekenisvolle laer opbrengste gehad as PAN 3379 nie.

Die driejaar-data vir 2009 tot 2011 (Grafiek 4) dui aan dat die boonste twee kultivars, PAN 3120 en PAN 3118 nie betekenisvol van mekaar verskil het in opbrengs nie. Die gemiddelde opbrengs was 3,55 ton/ha.

image

Sentraal-Vrystaat
Die kultivars Gariep, Matlabas en PAN 3379 het die eerste drie plekke ingeneem in die Sentraal-Vrystaat in 2011 (Grafiek 5). Ander presteerders, wat statisties nie betekenisvol van die eerste drie verskil het nie, was PAN 3161, Elands, PAN 3118, PAN 3355 en PAN 3120. Die gemiddelde opbrengs van al die kultivars in hierdie streek was 1,53 ton/ha.

Wat die langtermyndata vir 2009 tot 2011 betref (Grafiek 6), het Matlabas, PAN 3120 en SST 347 uitgestaan as kultivars wat in die mediumtermyn goed presteer. Hierdie drie kultivars het betekenisvol beter opbrengste gelewer as al die ander inskrywings in die Sentraal-Vrystaat-gebied. Die gemiddelde opbrengs van die 13 kultivars wat vir die volle driejaar-tydperk in die proefreeks ingesluit is, was 1,71 ton/ha.

image

Oos-Vrystaat
Die gemiddelde opbrengs in 2011 van al die kultivars in die gebied was 2,32 ton/ha (Grafiek 7). Die beste prestasie is gelewer deur PAN 3120, gevolg deur Matlabas en PAN 3161. Tot en met die kultivar PAN 3379 het opbrengste statisties nie van mekaar verskil nie.

In die medium termyn, van 2009 tot 2011 (Grafiek 8), het SST 356 en Matlabas ‘n statisties beter opbrengs gehad as die ander 13 kultivars wat vir hierdie tydperk in die veldproewe ingesluit is. Die gemiddelde opbrengs van al die kultivars oor die driejaartydperk was 3 ton/ha.

image

Aanbevelings

Tydens die vergadering van die Nasionale Kultivarevaluasie Werkgroep is die kultivars wat in elke spesifieke gebied aanbeveel word, ook gefinaliseer. Die amptelike aanbevelings vir kleingrane sowel as die opsomming van die resultate wat in die 2011-seisoen behaal is, is meer breedvoerig ingesluit in die LNR-Kleingraaninstituut se 2012 Handleiding vir die produksie van kleingrane in die somerreënvalgebied. Hierdie handleiding word eersdaags aan produsente versend en kan geraadpleeg word vir meer inligting oor algemene produksieknelpunte.

Die navorsing is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die Wintergraantrust en die Landbounavorsingsraad.

Publication: April 2012

Section: Input Overview

Search