• Login
  • Search Icon

Veranderinge by Agri SA

January 2017

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA

Agri SA het gedurende 2016 besluit om ‘n tweede fase van herbesinning oor die toekoms te betree. Gedurende 2013 het ‘n komitee heelwat rigtinggewende aanbevelings gemaak om Agri SA beter vir die toekoms te posisioneer.

Na verskeie gesprekke en debat, is die meeste van daardie aanbevelings alreeds geïmplementeer. Hier is ‘n paar daarvan:

  • ‘n Nuwe uitvoerende direkteur (mnr Omri van Zyl) is aangestel ná mnr Hans van der Merwe se aftrede.

  • ‘n Tweede adjunk-uitvoerende direkteurspos is geskep met die fokus op sosiaal-maatskaplike sake. Mnr Christo van der Rheede is in die pos aangestel.

  • Daar is aandag daaraan geskenk om die personeelkorps meer verteenwoordigend van die samelewing te maak en op grond daarvan is die vakante ekonoompos in Oktober 2016 deur mnr Hamlet Hlomendlini gevul.

  • Na die Grondwetverandering is mnr Phenias Gumede in 2014 as tweede vise-president van Agri SA verkies.

  • ‘n Winsgewende maatskappy is gestig met die oog daarop om konsultasiewerk te doen en sodoende fondse vir Agri SA te genereer.

  • ‘n Vertaaldiens is sedertdien beskikbaar tydens vergaderings.

  • Hantering van Afrika-aangeleenthede geskied op ‘n armlengtebasis – Africa-All-Africa is gestig as onafhanklike been van Agri SA.

  • ‘n Gedragskode is vir die Algemene Raad goedgekeur.

Gedurende 2016 is verskeie strategiese sessies gehou en dieselfde komitee, onder leiding van mnr Dan Kriek, is weer versoek om na ‘n volgende fase van aanpassings te kyk om Agri SA nóg beter vir die toekoms te posisioneer. Die klem is veral op groter eenheid in landbou, die struktuur van die organisasie en verbeterings aan korporatiewe bestuur. Laasge melde sluit in om te besin oor die formaat van die organisasie. Daar word oorweeg om Agri SA se huidige formaat van ‘n nie-wins gewende organisasie met ‘n algemene raad na ‘n nie-winsgewende maatskappy met ‘n direksie te verander.

Een van die belangrike aspekte wat heelwat uitdagings inhou, is die rol van die Bedryfskamer (Graan SA is ‘n lid daarvan). Sekere bedrywe het alreeds hul lidmaatskap by Agri SA opgesê. Hul motivering was dat die pas van eenheid binne landbou te stadig is.

Een van African Farmers' Association of South Africa (AFASA) se leiers het die situasie onlangs raak opgesom: “‘n Lang, uitgerekte hofmakery is beter as ‘n móét troue.”

Hierdie saak het egter die potensiaal om landbou verder te verdeel, wat nie op hierdie stadium wenslik is nie. Dit was bemoedigend dat beide Agri SA en AFASA se leierskap onlangs ‘n Memorandum van Voorneme goedgekeur het vir hierdie nuwe rigting. Dit was egter opvallend dat daar weinig van ons nuwe era-boere by die Agri SA Kongres te sien was.

Die meeste wat daar was, was afgevaardigdes wat deur bedrywe genomineer is. Met Brexit en die VSA-verkiesingsuitslag is daar nie ‘n manier waarop iemand sonder meer kan aanspraak maak dat hulle weet hoe mense op enige nuwe prikkel gaan reageer nie.

Vir die leiers van georganiseerde landbou lê daar beslis ‘n groot uitdaging voor in die vind en aanwys van die nuwe pad.

Publication: January 2017

Section: Relevant

Search