• Login
  • Search Icon

Vasbyt

December 2014

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

2014 sluit af soos ‘n slegte herinnering wat kom uit my army-dae. As jy doodmoeg, op 'n warm dag by die basis inhardloop met 20 kg op jou rug; jou gedagtes gevestig op 'n heerlike, koue stort en om baie water te drink...Dan gee die korporaal, vir geen rede waaraan jy onder die son kan dink nie, die bevel: “Omkeer!”

Almal is verward, onseker, dink slegte, negatiewe gedagtes en sommer nog ‘n hele klomp goed wat ek nie nou kan noem nie. Skielik lyk die Swartberge baie hoër as toe jy nou net daar afgehardloop gekom het.

Die afgelope kongresse van Agri SA en AFASA was amper soos die suidhek by Oudtshoorn se Infanterieskool. Ons het net gedink die jaar se harde werk is beloon – ons het gearriveer – ons grondhervormingsplan is uiteindelik op papier en almal is aan boord; toe roep die politici: “Omkeer!”

Skielik verander die Maart 2015-datum om die details voor te lê na “Begin volgende week!” Ander skree weer “Moratorium op plaasafsettings, ongeag!” Hierdie optredes van die laaste paar weke van 2014 het baie gou vir my gewys wat die pas en bevele in 2015 gaan wees.

Moeg gehardloop of nie, swaar gedra of nie, vuil en sweterig of nie, tel nie punte nie. De Villiers, die berg voor ons moet ons oor! Die ding wat in my weermagdae die deurslag gegee het, was daardie een troep wat begin sing het. Dit was daai leier wat die ander moeë troepe aangemoedig het met ‘n lied en die groep skielik in ‘n groep saamgebind en almal se gedagtes weggelei het van die negatiewe.

Baie van julle sal dit nog onthou. Nooit, ooit het ‘n korporaal ons dan gestop om te sing nie, want hy het geweet hy is besig om sy doel te bereik – eenheid en vasbyt.

Waarom ek dié storie deel, is om die eerste noot in te sit vir die jaar wat voorlê. Om eenheid en vasbyt uit te roep onder ons produsente en te pleit dat ons nie met mekaar besig moet raak nie, maar sal fokus op die doelwitte van volhoubare, winsgewende graanproduksie om ons land en sy mense kos te gee en ‘n toekoms vir ons kinders en kleinkinders te verseker.

Die Swartberge van Oudtshoorn gaan plek maak vir grondhervorming, klimaatskommelings, geen oesversekering, politieke wispelturigheid en oormatige geldgierigheid van korrupte mense. Dit is die dinge wat ons met ons moeë lywe in 2015 gaan aanpak.

Waar ek hier op die vliegtuig sit en hierdie artikel skryf, gaan my gedagtes terug na 1980 en kan ek maar net getuig daarvan dat ons daardie tyd so ‘n “omkeer” oorleef het en beter anderkant uitgekom het. Ek kan maar net glo en vertrou dat dit weer so sal wees. Dit is wat van ons goeie soldate gemaak het en wat vandag van ons goeie produsente maak.

Ha-di-hê oh, ha-di-hô

Publication: December 2014

Section: Features

Search