• Login
  • Search Icon

Vang gevleuelde luise en waarsku produsente

May 2014

GODDY PRINSLOO, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem

image Gedurende verlede jaar is daar in besproeiingsgebiede waar koring geplant word vier suigvalle strategies opgerig vir die monitering van vlieënde plantluise. Die suigvalle is geleë by Koedoeskop, Brits, Groblersdal en Winterton (Foto 1).

Die suigvalle is 12,2 m hoog en vang plantluise en ander insekte, heel dag, elke dag terwyl lug teen ‘n tempo van ongeveer 0,75 m3 per sekonde ingesuig word.

Aan die binnekant van hierdie val is daar ‘n metaal gaastregter wat eindig in ‘n houer wat preserveermiddel bevat, waarin die insekte versamel word. Die monsters word een keer per week uit die val gehaal en die luise
word getel en by die Universiteit van Pretoria uitgesorteer.

Die inligting hieruit verkry, gaan gebruik word om koringprodusente in die besproeiingsgebiede te waarsku oor die teenwoordigheid van koringluise wat gars geeldwergvirus (GGDV), ook bekend as barley yellow dwarf virus (BYDV), kan oordra.

Plantluise migreer in lugstrome en veral in lugstrome
12,2 m en hoër bokant die grond. Hoewel korter suigvalle ook effektief is, vang sulke valle gewoonlik luise wat lokaal tussen plante beweeg op soek na ‘n geskikte gasheer en nie noodwendig plantluise wat vanuit ander areas inbeweeg nie.

Migrerende plantluise se oorsprong kom van plante waar luispopulasies te groot geword het en die plant nie meer ‘n goeie voedselbron is nie. Indien hierdie plante met virusse besmet was, kan die migrerende plantluise maklik die virus oordra wanneer dit op ‘n nuwe plant land en begin voed. As ons dus kan vasstel wanneer en hoeveel plantluise (wat moontlik virusse kan dra) in ‘n gebied inbeweeg, kan ons die produsente waarsku dat die moontlikheid van virusoordraging groot of klein is, sodat hulle daarvolgens kan optree.

Koringluise kan op twee maniere skade aan koring aanrig, naamlik deur direkte voeding en deur die oordrag van plantvirusse. Sommige plantluisspesies veroorsaak baie min voedingskade en word nie as skadelik beskou nie. Indien hierdie plantluise egter goeie plantvirusoordraers is, word hulle indirek as baie skadelik beskou.

So byvoorbeeld is hawerluis oor die algemeen nie ‘n skadelike voeder nie, maar ‘n goeie draer van die gars geeldwergvirus wat hierdie plantluis baie gevaarlik maak wanneer gars geeldwergvirus in hierdie gebiede teenwoordig is. Russiese koringluis wat baie skade met voeding veroorsaak, is ‘n swak oordraer van plantvirusse.

Hoe dra plantluise virusse oor?

Koringluise voed in die vaatbondels van plante en onttrek voedingstowwe wat die plant nodig het vir optimale opbrengs. Sommige virusse, soos gars geeldwergvirus, kom net in die vaatbondels van plante voor en word tydens voeding deur die plantluis ingeneem. Dit beweeg in die dermkanaal van die plantluis en beland in die bloedholte waarna dit weer in die speekselkliere inbeweeg en met die volgende voeding kan die virus in ‘n plant ingespuit word.

Gewoonlik gebeur dit dat ‘n gevleuelde plantluis op ‘n plant land en begin voed. Die virus word dan onmiddellik na die plant oorgedra. Die kleintjies wat kort daarna gebore word sal ook op die plant begin voed en stelselmatig die virus uit die plant opneem.

Sodra die nageslag dan te veel word op die plant, sal van die plantluise begin rondbeweeg na aangrensende plante om daar te voed. Wanneer dit gebeur, word die virus na aangrensende plante oorgedra en so ontstaan die kolverspreiding van virusbesmette plante. Plantluise wat wegvlieg van die plant dra weer die virus saam.

Voorlopige vlugpatrone

Die valle monitor sedert middel verlede jaar en die preserveermiddels moes eers uitgetoets word. Dus het ons laat begin monitor en is daar nog min data beskikbaar. Tans is 16 verskillende luisspesies uit die suigvalmonsters geïdentifiseer waarby al die koringluisspesies ingesluit is.

Die suigval by Koedoeskop het alreeds aanduidings begin gee dat baie hawerluise gedurende Julie en Augustus migreer het (Grafiek 1). Hierdie getalle moet nou met die groeistadium van die koring op daardie stadium in verband gebring word. Indien koring in dié tyd nog klein is, sou die virus ‘n groter impak op die oesopbrengs gehad het.

image

Die suigval by Brits het gedurende dieselfde tyd min hawerluise gevang en die verspreiding het regdeur die moniteringsperiode voorgekom (Grafiek 2). Die tydperk waarin die virus oorgedra word, is dus hier groter, maar die hoeveelheid luise is min, wat ‘n kleiner risiko aandui.

image

Aanduidings is reeds daar dat die suigvalle die gewenste data vir ons sal voorsien. Daar is egter ‘n hele paar jaar se data nodig voordat ons met voorspellingsmodelle kan begin. Die data gaan binne die afsienbare toekoms aan produsente beskikbaar gestel word deur middel van ‘n webtuiste. Besonderhede hieroor sal later bekend gemaak word.

Skakel met aartappelprodusente

Aangesien aartappelprodusente alreeds van hierdie tegnologie gebruik maak en alle plantluise by die Universiteit van Pretoria geïdentifiseer word, is daar besluit om by die netwerk van valle in te skakel.

Die data wat deur die vier nuwe valle ingesamel word, kan ook tot voordeel van aartappelprodusente in die gebiede gebruik word, terwyl inligting vanaf die valle in aartappelstreke voordelig vir koringprodusente is.

Verdere navrae oor die nuwe suigvalle, kan aan dr Goddy Prinsloo gerig word by 058 307 3435 of Prinsloogj@arc.agric.za.

Hierdie navorsing is moontlik gemaak met die finansiële ondersteuning van die Wintergraantrust en die Landbounavorsingsraad.

Publication: May 2014

Section: Input Overview

Author: GODDY PRINSLOO, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem

Search