• Login
  • Search Icon

Van hierdie plae moet sojaboonprodusente weet

October 2012

JEAN-MARÉ TRUTER, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Die uitbreiding van sojaboonproduksie in Suid-Afrika het sonder groot bedreigings deur plae geskied. Trouens, dit kan algemeen gestel word dat die sojaboonproduksie in Suid-Afrika uitbrei sonder dat groot hoeveelhede chemiese middels aangewend moet word om plae te beheer.

Terselfdertyd kan dit egter aanvaar word dat gewasuitbreiding in enige land gepaard gaan met ‘n verhoogde voorkoms van plae en dit is noodsaaklik om op potensiële toekomstige bedreigings voorbereid te wees.

Die artikel fokus op ekonomiese belangrike plae op sojabone waarvoor produsente op die uitkyk moet wees. Let net op, meeste insekte neem net van tyd tot tyd plaagafmetings aan, in ooreenstemming met die beginsels van bevolkingsdinamika. Dit kan dus gebeur dat ‘n plaag later opduik bloot omdat dit tans in ‘n laagtepunt van sy siklus is.

Afrika bolwurm, Helicoverpa armigera Hübner

Die plaag was voorheen foutiewelik bekend as die Amerikaanse bolwurm. Die kleur van groot larwes varieer van groen tot geel, pienk tot rooibruin en bruin tot swart.

Larwes kan tot 40 mm lank wees en het enkele hare op die liggaam asook
‘n kenmerkende longitudinale streep (vaal tot wit van kleur) aan elke sy (Foto 1). Bolwurm motte vertoon bruin, groen, geel of grys-bruin met
donker merke op die voorvlerke. Hul agtervlerke is vaal met donker vlerkare (Foto 2).

image

image

Bolwurms voed op blare en peule, wat sodoende lei tot gate in ouer peule en skade aan sade. Chemiese beheer sal nodig wees as ‘n groot aantal larwes gedurende vroeë peulvulstadium aanwesig is.

Koolvalslandmeterrusper, Trichoplusia orichalcea F.

Larwes is blou-groen en tot 40 mm lank. Larwes beweeg met ‘n kenmer-
kende dubbelvou-aksie (Foto 3). Die mot word uitgeken aan ‘n groot, byna driehoekige, goue/geel area op elke voorvlerk. Die res van die liggaam is bruin en wanneer die mot rus, kan ‘n harige kuif op die boonste deel van die liggaam gesien word (Foto 4).

image

Die landmeterrusper voed op blare. Gate word in ouer peule gevreet en
sade word beskadig. Beheer word slegs by swaar infestasies oorweeg. ‘n Sojaboonplant kan gedurende die vegetatiewe stadium tot 35% blaarverlies verdra sonder dat saadopbrengsverliese plaasvind.

Groen stinkbesie, Nezara viridula L.

Volwasse groen stinkbesies is skildvormig, ongeveer 15 mm lank en 8 mm breed. Besies is gewoonlik groen, maar kan ook geel of bruingroen wees (Foto 5).

Plantsappe word uit die peule gesuig en laat ‘n kleurlose letsel op die peul agter, wat later insink en verbruin (Foto 6). Onegalige saadvul en die afsterf van enkele sade in die peul lei tot kwaliteitverlies. Nimfe sowel as volwas-
senes is skadelik. Chemiese beheer is selde op groot skaal nodig. Die gewas kan ook beskerm word deur die lande met spuitstof te omsoom.

image

Rooispinmyt, Tetranychus cinnabarinus Boisd.

Wyfies is ‘n bruinerige rooi, strooikleurig/gelerig of groenerig en is ongeveer 0,5 mm in lengte. Twee donker kolle kom voor op die kante van die liggaam (Foto 7).

Myte voed hoofsaaklik aan die onderkant van die blare. Namate populasies toeneem, versprei hulle oor die blare en die hele plant. Eerste simptome is chlorotiese stippels op die blare, wat verbrons, uitdroog en afval. Spindrade is sigbaar met hoë infestasie en onderkante van blare vertoon poeieragtig wit (Foto 8). Beheer is moeilik, omdat die onderkante van blare met die insekmiddel bedek moet word.

image

Sondagsrokkie, Cynthia cardui L.

Die larwes vertoon swart met ‘n geel streep aan die sye. Lang liggaam-
stekels kom voor en kan tot 30 mm lank word (Foto 9). Die skoenlapperis oranje en swart en op die vlerkpunte is ‘n paar wit kolle op die swart boonste end; die vlerkspan is sowat 40 mm - 50 mm (Foto 10).

Larwes voed op die blare. Kenmerkend van die larwes is dat blare aanme-
kaar of teen stamme vasgespin word (Foto 11). Die skoenlappers rig geen skade aan nie, maar lê hul eiers op gepaste gasheerplante. Chemiese beheer word oorweeg as meer as ses larwes per meter op jong plantjies voorkom.

image

Valsdraadwurm, Somaticus spp.

Larwes is roomwit en die kop vertoon rooibruin as gevolg van haartjies aan die kant van die kop. Larwes is tot 32 mm lank en 4 mm dik (Foto 12). Dié kewers is tipiese toktokkies, grys-swart, met ‘n duidelike afgebakende kop, bors en agterlyf (Foto 13).

image

Larwes voed op saad, ontwikkelende saailinge en stamme van saailinge na-opkoms. Kewers rig geen skade aan nie. Saadbehandeling is slegs gedeeltelik doeltreffend en die inwerk van ‘n insekdoder lewer beter resultate.

Insekbiodiversiteitstudie

Sojabone se gewildheid as rotasiegewas het beslis toegeneem as gevolg van produsente wat oorskakel na bewaringsboerdery. Daarom bleik dit duidelik dat die belangrikheid van insekbiodiversiteit in Suid-Afrika gemonitor moet word om gerat te wees vir moontlike insekplae wat kan kop uitsteek. Kennis en begrip van die hele sojaboonstelsel, en nie net die plaag alleen nie, moet aandag geniet as geïntegreerde plaagbeheer vir sojabone ontwikkel moet word.

Tydens ‘n voorlopige opname, is ‘n totaal van 639 insekindividue versamel, wat bestaan uit 85 verskillende morfo-spesies. Die spesies bestaan uit 296 predatore (35 morfo-spesies), 302 herbivore en 78 ontbinders (11 morfo-spesies) (Figuur 1). Dit is duidelik dat ‘n langtermynstudie nodig is om ‘n meer volledige lys van insekspesies te verkry.

image

‘n Studie oor insekbiodiversiteit in Suid-Afrikaanse sojaboonlande word tans deur die LNRInstituut vir Graangewasse in Potchefstroom beplan. Die beoogde studie sal fokus op insekbiodiversiteit en die hoeveelheid insekte wat in die spesifieke area se sojaboonlande voorkom. Dit sal ook fokus op insekplae of nuwe insekprobleme indien dit in die veld waargeneem word.

 

Publication: October 2012

Section: Input Overview

Search