• Login
  • Search Icon

Tydigheid: Die belangrikste aspekte van graanproduksie – meet jouself hieraan

August 2017

Pietman Botha, SA Graan/Grain medewerker

As ‘n spesifieke gewas ná die optimale plantvenster van die gewas geplant word, is die gewas se verwagte opbrengs laer is. Gewoonlik beteken dit dat die gewas nie optimaal sal produseer nie en daarom dat die opbrengste in die meeste van die gevalle laer is.

Om tydig te kan plant, verg dat al die bewerkingsaksies tydig uitgevoer moet word. Ten einde die bewerkings tydig gedoen te kry, moet produsente oor voldoende trekkers en toerusting beskik. As die lengte van die bewerkingsvenster bekend is, kan die produsent bepaal hoeveel trekkers van watter grootte nodig sal wees om die werk tydig afgehandel te kry.

Winsgewendheid is aan die einde van ‘n finansiële jaar die aspek waaraan ‘n besigheid gemeet word. Daarom is dit noodsaaklik dat die produsent die regte hoeveelheid trekkers en toerusting besit of kan bekom om die werk binne die bewerkingsvenster te kan afhandel.

Om trekkers en toerusting te besit, het ook uitdagings. Arbeid, waardevermindering en herstelwerk is maar net ‘n paar daarvan. Een van die belangrikste punte is die hoeveelheid kapitaal wat in dié gedeelte van die boerdery opgesluit word. Hierdie toerusting moet ook een of ander tyd vervang word en dit bly ‘n uitdaging om te besluit wat en wanneer dit vervang moet word.

Behalwe vir die vervanging, is die besluit oor watter grootte trekkers en hoeveel waarvan aangeskaf moet word, ‘n uitdaging. Moet ons net groot trekkers koop? Of moet ons net een groot trekker koop en ‘n paar kleiner trekkers, of moet ons net klein trekkertjies besit? Voorwaar ‘n uitdaging om ‘n keuse te maak aangesien elke boer­dery se samestelling verskil.

Om die besluit te neem oor watter grootte trekkers aangeskaf moet word, moet jy as produsent vir jouself uitklaar watter bewerkings binne watter tydsduur gedoen moet word. Vir elke aksie moet jy weet hoe lank die bewerkingsvenster is en ook hoe-veel hektaar jy per dag met watter trekker kan doen. Die koste om hierdie spesifieke trekker te bekom, is ook belangrik.

Daar is heelwat publikasies wat die meeste van die inligting rondom die bewerkingskostes asook die bewerkingstempo’s kan verskaf. Bekom gerus die Direktoraat Landbou-ekonomie se publikasie Guide to machinery costs, of dalk die Meganisasiegids soos saamgestel deur mnr JP le Roux, of kontak die meganisasie- of landboudienste-afdeling by die meeste landboubesighede.

In Tabel 1 word die kostes, asook die werktempo’s van 70 kW tot 80 kW vierwieldryftrekkers gegee. Tabel 1 is opgestel deur gebruik te maak van die Guide to machinery costs en ander meganisasie­gidse en aangepas na 2017 se gemiddelde nuwe pryse.

In Tabel 1 word getoon dat ‘n 77 kW trekker 14,91 liter diesel gebruik om ‘n hektaar te ploeg en dat ‘n trekker 1,07 uur benodig om 1 ha te ploeg. Dieselfde 77 kW trekker behoort 5,15 liter diesel te gebruik om 1 ha met ‘n 6 ry-geenbewerkingsplanter te plant en só ‘n kombinasie behoort ongeveer 27 ha in tien ure te kan plant. Die totale koste om ‘n hektaar te dis, behoort R239,24 te beloop.

Wat egter nie uit die oog verloor moet word nie, is dat die meeste produsente dink hulle trekkers werk tien ure per dag, maar wanneer jy die uurmeters nagaan, is daar groot afwykings. In die meeste van die gevalle is die werkstyd heelwat minder.

Die arbeiders mag dalk tien ure by die werk wees, maar net die tyd wat die trekker staan omdat die drywer eet, 'n draai loop en ander staantyd, maak dat die trekker minder ure opdoen. Maak die trekker vol met diesel en nog ‘n halfuur is weg. En so kan jy aangaan...

Dit sal moontlik wees om 23 ha met ‘n 240 kW trekker in tien ure te ploeg en 42 ha in tien ure te beitel.

Gegewe hierdie inligting en die kennis dat die lande binne 15 dae geploeg moet wees en daar is 1 000 ha om te werk, sal 66 ha per dag geploeg moet word. As aanvaar word dat die trekker tien ure per dag kan werk, sal drie 240 kW-trekkers benodig word om die werk binne die tyd afgehandel te kry. Ten einde dieselfde plaas met 70 kW tot 80 kW trekkers te ploeg, word om en by sewe trekkers benodig.

Daar is verskeie wiskundige metodes wat gebruik kan word om die optimale kombinasie van trekkers en toerusting te bepaal. Liniêre programmering is ‘n bekende metode wat aangewend kan word om die optimale trekkergroottesamestelling te bepaal.

Indien ‘n keuse tussen modelle gemaak moet word, is dit belangrik dat die volgende inligting beskikbaar moet wees:

  • Die bewerkings wat gedoen moet word;
  • binne hoeveel dae die bewerkings gedoen moet word;
  • watter bewerkings gelyktydig gedoen moet word;
  • hoeveel hektare per dag per trekker per bewerking gedoen kan word;
  • koste vir die aankoop van die verskillende trekkers;
  • koste per trekkerdrywer;
  • hoeveelheid diesel per trekker per aksie benodig; en
  • herstelwerk per trekker per aksie benodig.

Met hierdie inligting beskikbaar, is dit moontlik om ‘n optimale trekkersamestelling te bereken, wat die produsent in staat stel om die koste vir die plaas te minimaliseer.

As Tabel 2 se inligting in ‘n kosteminimaliserings-liniêrebewerkingsmodel opgeneem word, kan die beste en goedkoopste kombinasie trekkers bereken word. Hierdie modelle se antwoorde is gewoonlik reg en soms is ‘n mens geskok om die verskil tussen die keuse van model en dít wat werklik gebeur, te sien.

Die grootste drywers in die keuse van die trekkersamestelling is hoofsaaklik:

  • Aanwendingsmoontlikhede van die trekkers;
  • koste per kilowatt;
  • dieselgebruik; en
  • arbeidskoste van die drywers.

Anders as verwag, het die koste van die drywers nie regtig ‘n effek op die keuse van die trekkers nie. Wat wel ‘n verskil in die keuse van die trekkers maak, is die koste per kilowatt. Sodra die koste per kilowatt op dieselfde vlak is, speel die brandstofgebruik per hektaar ‘n groot rol in die keuse van die trekkers.

In Tabel 3 word die resultate van die liniêre model (om die beste kombinasie te kry) aangetoon.

Hierdie resultaat toon duidelik dat die werk met vyf 92 kW-trekkers en een 66 kW-trekker binne die verwagte tyd gedoen kan word. Indien een van die trekkers tydelik onklaar raak, behoort daar ge­noeg kapasiteit te wees om nie té ver agter te raak met die werk nie.

Sodra die pryse per kilowatt dieselfde gemaak word, verander die prentjie dramaties. Tabel 4 bevat hierdie antwoorde. Omdat daar soveel in kapitaal belê word, speel die koste van arbeid ‘n minderwaardige rol.

Voor die model enige verandering in die kombinasie trekkers gekoop aandui, moet die koste van arbeid dramaties bo die huidige en verwagte pryse styg.

Hierdie antwoord toon dat dieselfde werk met net vyf trekkers gedoen kan word. Daar behoort in hierdie kombinasie genoeg spaar­kapasiteit te wees om ‘n ernstige brekasie te kan akkommodeer.

Die inligting in Tabel 3 ingesluit, is verkry uit verskillende bronne waar die effektiwiteit van trekkers en hul dieselgebruik gemeet is. Volgens hierdie bronne is die groter trekkers swaarder op diesel as die kleiner modelle. Hierdie inligting word ook in die optimale kombinasie opgeneem. As die effek van dieselgebruik reggestel word, kies die model om eerder groter trekkers te kies, maar die koste per kilowatt speel nog steeds ‘n beduidende rol in die keuse van trekker.

In praktyk beteken dit dat daar nie ‘n standaardresep vir almal is nie. Gelukkig hou ons almal ook van verskillende trekkerfabrikate en modelle en daarom bly dit jou as produsent se keuse. Let net daarop dat jou keuse finansiële gevolge gaan hê. Te veel trekkers is net so ondoeltreffend soos te min. Doen moeite om die regte kombinasie en hoeveelhede trekkers te kies en maak seker dat hulle effektief kan werk.

Vir navrae hieroor, kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

Publication: August 2017

Section: Focus on

Search