• Login
  • Search Icon

Tyd vir 'n nuwe Besigheidsplan

May 2016

image

DAWIE ROODT, hoofekonoom: Efficient Groep

Ek is nie 'n landbou-ekonoom nie, maar ek weet dat die basiese beginsels van alle besighede dieselfde is. Daarom is dit vir my duidelik dat landbou 'n nuwe besigheidsplan nodig het.

Die wêreld bevind hom in die midde van 'n nywerheidsrevolusie, maar dié keer is daar 'n verskil. Nywerheidsrevolusies van die ver - lede was grootliks vervoerrevolusies. Mense is bymekaargebring in groot fabrieke waar massaproduksie die doelwit was. Massageproduseerde goedere is wêreldwyd versprei aan die verbruikers – wat grootliks die werkers was wat deel was van die nuwe produksierevolusie. Die miljoene werkers was terselfdertyd die miljoene verbruikers.

Vandag is dit anders. Werkers van die verlede se werke was grootliks repeterend van aard. Ekonome het geteoretiseer oor spesialisasie en produktiwiteitsverbetering wat daarmee gepaard gaan. Maar vandag is dit anders. Vandag se nywerheidsrevolusie is 'n tegnologiese revolusie en nêrens is dit méér sigbaar as juis in landbou nie.

Tipies ontwikkel 'n ekonomie vanaf die “vuil” bedrywe, soos landbou en mynbou (primêre sektore), na die bedrywe wat sekondêr waarde toevoeg – vervaardiging en uiteindelik tot die dienstebedryf. Ryker lande se dienstebedrywe is groter as hulle primêre sektore, terwyl die teenoorgestelde waar is in armer lande.

Waar trek Suid-Afrika op hierdie evolusionêre pad en is ons gereed vir die veranderinge wat op pad is? Ek dink ons kan meer doen. Landbou is 'n goeie voorbeeld daarvan.

'n Hektaar grond van vandag is presies dieselfde as 'n hektaar grond van 'n honderd jaar gelede. Tog word daar vandag veel meer op dieselfde hektaar geproduseer as 'n honderd jaar terug. Waarom?

Daar is slegs twee redes: Tegnologie en vaardighede. Die “ekstra” produksie wat vandag op grond geproduseer word, het niks met die grond self te doen nie, maar alles met die vaardighede en tegnologie wat met grond gepaard gaan.

Daarom het ons politieke leiers dit mis indien hulle dink dat grond die sleutel tot rykdom is. Grond is totaal waardeloos sonder tegnologiese insette en (bestuurs)vaardighede. Verder maak ons owerhede ook die fout om te dink dat miljoene werke “in landbou geskep” gaan word – veral deur kleinboere te vestig.

Nêrens in die wêreld word plase kleiner nie en nêrens in die wêreld word meer mense in “landbou” in diens geneem nie. Hoekom sal dit hier werk?

Maar dit is nie net politici wat landbou misverstaan nie. Produsente moet ook anders na landbou kyk. 'n Plaas is niks anders as 'n pro duksie-eenheid nie en behoort soos enige ander produksieeenheid behandel te word.

Indien 'n fabriek nie winsgewend bedryf kan word nie, word dit ver koop of word die model aangepas totdat dit winsgewend raak. Waar om raak ons produsente so emosioneel oor grond? Baie ander bedrywe besit nie die eiendom vanwaar hulle bedryf word nie, waar om moet landbou?

Die bedryf wat ons vandag “landbou” noem, gaan in die toekoms in elk geval totaal anders lyk as vandag. Die tegnologiese revolusie waarin die wêreld homself vandag bevind, word veral goed ge ïllustreer in landbou.

Tipies lyk die besigheidsplan van 'n plaas so: Die grond behoort aan een eienaar, hy is die werktuigkundige, personeelbestuurder en rekenmeester – sonder hom kan die eenheid nie voortbestaan nie. Elke jaar word geld by die bank geleen om die insetkoste te financier en elke jaar na die oes word die lening terugbetaal – of dalk nie.

In die toekoms gaan dit anders lyk. Landbou is reeds besig om te migreer vanaf 'n “vuil” bedryf na 'n dienstebedryf. Groot maatskappye gaan in die toekoms grond besit en diegene wat 'n lewe in “landbou” wil maak, gaan dienste aan landboumaatskappye lewer – gespesialiseerde dienste soos rekenmeesters, genetici, per soneel bestuurders en dies meer, want dit is waar die ware waar detoevoeging plaasvind, nie in die grond nie.

Dieselfde geld vir die wyse waarop landbou homself finansier. In ander bedrywe word finansies al vir 'n geruime tyd anders benader. Besighede word genoteer en gebruik finansiële markte vir finansiering – landbou kan nog baie by hulle leer.

Die veranderinge wat ons in landbou opmerk, is dieselfde as wat in ander dele van die ekonomie plaasvind. Tegnologiese veranderinge is besig om werkers se toekoms as werkers radikaal te verander. Of jy nou in landbou werk of in enige ander vertakking in die ekonomie, sonder die vaardighede wat nodig is vir 'n tegnologies-gedrewe ekonomie, gaan jy deel van die werkloses word.

Dit is daarom nodig dat ons politieke leiers ons probleme raaksien vir wat dit is. Dit is nie die eienaarskap van grond wat armes en werkloses deel van 'n moderne ekonomie gaan maak nie, dit is hulle vaardighede en toegang tot werksgeleenthede. Ons moet van grond begin vergeet en eerder op vaardigheidsontwikkeling en 'n gunstige arbeidsomgewing begin konsentreer.

Nietemin, landbou is stadig besig om homself te herontdek. Hierdie “vuil” bedryf is besig om die sprong te maak na 'n dienstebedryf en die landbou van die toekoms gaan heeltemal anders lyk as die landbou vandag. Politici en produsente moet dit besef.

Publication: May 2016

Section: Focus on

Search