• Login
  • Search Icon

Toekomsgedrewe mielieprodusent houer van Graanprodusent-titel

November 2017

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker

“AC van Wyk leef met ‘n absolute toekomsvisie. Hy weet presies waar hy wil uitkom en ook hoe hy daar gaan uitkom. Hy is in absolute beheer van sy eie toekoms.” 

Só het die beoordelingspaneel mnr AC van Wyk, die 2017 Graan SA/ Syngenta Graanprodusent van die Jaar, se bestuur­styl opgesom. 

Die sukses van Van Wyk se besigheid lê in die kombinasie van entrepreneurskap en bestuur. “Jy moet ‘n langtermyndoelwit hê, en op die kort termyn moet jy jou hulpbronne en prioriteite só organiseer dat jy al nader aan jou langtermyndoelwit beweeg,” het hy op ‘n DVD-produksie, wat gedurende die toekenningsgeleentheid vertoon is, gesê.

Hy boer op grond in die Bultfontein-omgewing wat reeds sedert 1841 aan die familie behoort. Alhoewel hy ‘n veevertakking het, bly mielies sy eerste liefde. “Die grond waarop ons boer, is hoofsaaklik sanderige grond met ‘n laag van 2 m wat goeie vogbewaring verseker. Ons beplan ons benadering tot die nuwe seisoen hoofsaaklik volgens die aantal vog waarmee ons moet werk.”

Van Wyk het sy privaat vlieglisensie (PPL) in 2014 verwerf en so­doende kan hy sy wydverspreide lande met ‘n arendsblik besigtig en maklik potensiële uitdagings identifiseer. 

Trots en dankbaar
Hy het sy vrou, Lizelle, bedank vir die manier waarop sy hul huishouding bestuur asook haar waardevolle insette in die boerdery. Sy doen die boekhouding van dié besigheid. 

“Dit is ook vir my ‘n besondere voorreg om my ma en pa vanaand hier te hê. Die afgelope 18 jaar was daar min produsente wie se ouers teenwoordig kon wees wanneer hul dié toekenning ontvang het,” het hy, kort nadat hy as die wenner aangewys is, gesê. Hy het sy ouers ook bedank vir die goeie opvoeding en waardes wat hy van hulle ontvang het. “Dankie vir die insigte wat ek van julle ontvang het ten opsigte van diens, produktiwiteit en besigheid.”

Hy het ook die res van sy span van ACH Boerdery bedank. “Julle is ‘n besondere span mense en die verbintenis, samewerking, produktiwiteit en positiewe energie wat tussen julle vloei, is iets besonders om te beleef.”

Verder het hy sy medefinaliste asook al die wenners en finaliste in die ander vier kategorieë (bestaansboer, kleinskaalboer, potensiële kommersiële boer en nuwe era potensiële boer) gelukgewens. Vir laasgenoemde het hy die volgende boodskap gehad: “Deur jul stories in die media te lees en na die DVD-produksies van jul boerderye vanaand te kyk, het ek opgemerk dat elkeen van julle ‘n groot stap vorentoe neem. Dit is lekker om al die entoesiasme en moeite wat julle in jul boerderybesighede insit, te sien. Hou aan om die saad te saai en mag julle die sukses daarvan oes.”

Laastens het hy vir Graan SA bedank vir die positiewe beeld van landbou en produsente, wat só eg en só nodig is, wat hulle uitbou. “Dankie vir jul groot bydrae in die wye gebied waarop jul beweeg – van die voortreflike NAMPO Oesdag, jul landbou-ontwikkelingsprogram, wat ek dink ongelooflike resultate lewer, jul toekomsgeoriënteerdheid, skep van markte en onderhandelinge met die buiteland.”

Gepas by die aard van die funksie en die saaiprodusente teenwoor­dig dié aand, het hy met ‘n treffende vers uit ‘n gedig van Jan FE Cilliers, wat in sy kantoor teen die muur pryk, afgesluit: “Saaier, saai! Dis Gods gebod, al verdroë vrug en blare, al verslaan hael die are. Saai die sade van gedagte, laat die oes aan nageslagte.” 

Publication: November 2017

Section: Grain SA

Search