• Login
  • Search Icon

'N TOEBROODJIE VIR VOLHOUBARE VERHOUDINGS

April 2013

image

My storie gaan vandag oor die volhoubaarheid van verhoudings. Ná so 'n bietjie meer as twee jaar by Graan SA meen ek dat ek genoeg ure in vergaderings en gesprekke met lede was om 'n opinie oor dié saak te kan waag.

Volgens my dagboek spandeer ek meer as 20 ure per week in direksie-, werkgroep- en ander vergaderings. Die storie van die toebroodjie handel oor Graan SA-lede se "sagte kundigheid" of sogenaamde soft skills. Hoe lyk ons kundigheid as dit by ons verhoudings met mense kom?

Produsente is beslis meer bekend daarvoor dat hulle baie meer taak- as mensgeoriënteerd is. Ek self is ook baie meer geneig om eerder die taak as die mens raak te sien. Ek ontvang gereeld raad en teregwysings van die mense naaste aan my om meer gebalanseerd te wees. Dis nie 'n maklike saak nie. Met 'n hele kabinet vol einalêers (pain files) en jare se oefening, vind ek dit egter ál makliker om nie net op die taak op hande te fokus nie, maar om die mens agter die taak raak te sien.

Om mense in jou span en jou gesin te motiveer, moet 'n mens soms van verskeie metodes gebruik maak.

Sommige dae is net 'n kort opmerking, soos "Ag nee wat, jy kan mos beter!" genoeg om iemand tot hoër hoogtes aan te spoor. Dan is daar dae wat by my en my vrou bekend is as: "sit-eers-op-die-mat-en-speel-' n-rukkie-saam"-dae, voor jy die werklike saak op die tafel sit. Die ander naam daarvoor is die "toebroodjiebenadering".

As sy eers die dag vir my sê: "Onthou die toebroodjie!", dan weet ek, ek moet eers met iets positief begin voor ek by die vleis van die saak uitkom en dan ook weer met iets sag moet afsluit. Ek weet nie van jou nie, maar probeer dit gerus.

Ek pas dit toe per telefoon, e-pos en in persoonlike gesprekke en veral as dinge warm raak. Die resultaat is eenvoudig verbasend! 'n Kwaai e-pos sonder 'n naam of groet is net 'n dik, taai stuk vleis (wat stink) wat die meeste mense demotiveer (behalwe natuurlik hiënas wat daarop floreer). Ek mis egter nooit die vleis in die middel nie, glo my! Die brood aan die kante help om beter verhoudings te bou en om minder kabinette en argiewe van eina-lêers hoef aan te hou.

Die motivering van ons mense op alle vlakke van die samelewing hang af van jou leierskapstyl en sagte kundigheidsvlakke. Graan SA en sy lede is 'n klein familie en die manier waarop ons met mekaar omgaan en mekaar aanmoedig, bepaal ons volhoubaarheid as organisasie. Voor jy dus volgende keer iemand wil teregwys of aanmoedig met positiewe kritiek, dink aan die toebroodjie van volhoubare verhoudings.

Ek sluit af met 'n storie wat iemand vertel het van die pa wat op die trein klim met twee baie jong kinders. Die kinders is stout en klim oral op, stamp aan ander passasiers en is bloot net moeilik. Die pa doen net mooi niks totdat een persoon dit net nie meer kan hanteer nie en die man vra om sy kinders te dissiplineer en tot orde te bring. Sy antwoord was verskonend, want sien, hulle kom nou net van die hospitaal af en hulle ma is so pas oorlede.

So, probeer gerus volgende keer die toebroodjiebenadering voordat jy dalk self 'n dik stuk taai "biefstuk" moet sluk!

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: April 2013

Section: Editorial

Search