• Login
  • Search Icon

Terugblik op Graan SA Kongres 2015

April 2015

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Vir my was daar twee groot nuwe tendense by Graan SA se 2015 Kongres, naamlik: Politici het begin luister na produsente; en die vermoë van produsente om probleme te oorkom.

Minister Senzeni Zokwana was die eerste Minister van Landbou sedert 2004 wat die Kongres bygewoon het en nie net sommer ingestap, ‘n toespraak gelewer en weer weggery het nie. Minister Zokwana was ‘n hele vyf ure by Kongres. Die LUR van Landbou van die Noordwes Provinsie was ook daar.

Ek het dit só geniet toe die media hom vra waar die LUR’e van die ander provinsies is en hy antwoord ferm: “Hulle sal almal volgende jaar hier wees!” Kom ons hou hieraan vas en ontwikkel die goeie gesindheid wat daar by Kongres was waar politici ons opinie gevra het.

Die minister se simpatie met die droogtesituasie waarin die produsente hulself bevind was opreg en het uit sy hart gekom. Ek kan ook nie anders as om mnr Ralph Swart (nuwe era produsent van Elim) se pa se woorde in dié verband aan te haal nie: “Praat is afdraand en doen is opdraand.” Hierdie gesegde is presies waar ons land homself nou bevind wat grondhervorming betref en ook ten opsigte van hulp met die huidige droogte.

So drie weke voor Kongres het ‘n groep mielieprodusente hul vliegtuie NAMPO Park toe gebring om met ons oor die Noordwes Provinsie en die Noordwes Vrystaat te vlieg om die toestand uit die lug waar te neem. Met die terugkomslag het al die verslae en waarnemings vanuit al die windrigtings ons almal mismoedig gestem. Ek kan steeds nie die prentjie van die produsent wat sommer net so met sy bakkie deur sy mielielande ry uit my gedagtes kry nie. Die emosie en alleenheid van daardie produsent het my heeltemal oorweldig.

Wat my opgeval het, is dat daardie selfde produsente drie weke later Kongres bygewoon het en aanbeweeg het na die volgende seisoen. Dit vat nie die pyn van die huidige droogte en probleme weg nie, maar hierdie unieke mense het die vermoë om probleme te oorkom en te hanteer wat jy nie sommer elders in die samelewing kry nie. Dit wil gedoen wees!

Die hele konsep van data science wat die Amerikaanse produsent, mnr Kip Tom, met ons kom deel het, het ‘n nuwe era van tegnologiese graanproduksie kom aanwakker. Dit was eintlik jammer dat die grondkwessie die gesprekke so oorheers het dat ons nie meer van dié man kon hoor nie.

Graan SA se personeel het egter die bal opgetel en ons sal die saak verder neem om elke graanprodusent te help om sin uit al die massas inligting te probeer maak. Sy wenk bly egter vasstaan: “'n Droë jaar is die beste om die meeste inligting in te samel!” Kom ons maak seker ons meet die plante se reaksies op die omgewing sodat ons beter kan presteer in die komende seisoene.

Ek is ook vol moed dat ons binne die volgende maande iets konkreets vir ons koringprodusente sal kan gee om mee vorentoe te gaan. Die gesindheid van al die rolspelers is bemoedigend en as alles saamgevat kan word, kan ons ‘n nuwe bedeling inlui.

Publication: April 2015

Section: Features

Search