• Login
  • Search Icon

Terugblik op die internasionale Sojaboonnavorsingskonferensie

May 2013

PETRU FOURIE, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Die negende internasionale Sojaboonnavorsings konferensie het vanaf 17 tot 22 Februarie in Durban plaasgevind en is deur die Proteïen-navorsingstigting (PNS) en die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT) aangebied.

Die konferensietema was veral op Derdewêreld- en ontwikkelende lande gemik. “Van China tot in Afrika kan navorsing die gaping tussen sojaboonproduksie en die stygende wêreldvraag oorbrug?” was as ‘n baie gepaste tema beskou aangesien die vraag na sojabone jaarliks styg en produksie daarmee moet tred hou.

Beleidmakers, navorsers, verbruikers van sojaboonprodukte sowel as produsente, het in Durban byeengekom om inligting en navorsingsbevindings uit te ruil. Diverse onderwerpe is bespreek waarvan voedselsekerheid, volhoubaarheid, genetika en teling, akkerbou, gesondheid en voeding, verwerking, vervoer en berging sowel as ‘n oorsig van die kommoditeitsmark maar net ‘n paar was.

Dié internasionale konferensie vind net elke vier jaar plaas en dit was die eerste van sy soort wat op die Afrika-kontinent gehou is. Na afloop van die konferensie kan daar gesê word dat die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf goeie blootstelling gekry het en dit ‘n besonderse aanwins vir die plaaslike sojaboonbedryf is wat teen so ‘n geweldige tempo groei.

Mnr Gerhard Scholtemeijer (voorsitter van die PNS) asook mnr Willem Engelbrecht van K2Agri is by dié konferensie as lid van die internasionale Sojaboonnavorsingsorganisasie vir Afrika, Indonesië, Europa, die Midde-Ooste, Oseanië, die Filippyne, Sri Lanka, Australië, Nieu-Seeland, Japan, Rusland en die Oos-Europese lande aangewys.

image

Sprekers

In hierdie artikel gaan ‘n kort oorsig van die openingsdag se vier sprekers gegee word, terwyl die res van die voorlegging op PNS se webblad (www.proteinresearch.net) besigtig kan word.

Scholtemeijer het gemeld dat die verbouing van sojabone in Afrika en Suid-Afrika nog in sy kinderskoene is, maar dat die vasteland besig is om te ontwaak en “dat die kind begin groot word”. Hy het genoem dat Afrika met sy groot potensiaal om voedsel te produseer, baie belangrik vir die hele wêreld is en sodoende kan bydra om arm mense se lot te verbeter.

Mnr Thomas Mielke (direkteur van Oil World) het ‘n volledige oorsig van die internasionale sojaboonbedryf gegee. Hy het melding gemaak dat die groei in sojaboonproduksie in lande, soos Amerika, China en Indië begin stagneer en dat ‘n groter afhanklikheid van Argentinië, Brasilië en Paraguay af gaan kom.

Dr Dennis Byron (visepresident, Gewas Genetika Navorsing en Ontwikkeling, DuPont Pioneer Internasionaal) het oor die hekkies gepraat waaroor ontwikkelende lande moet kom soos byvoorbeeld infrastruktuur, die aanvaarding van GMO-eienskappe, intellektuele eiendomsisteme en keuses vir alternatiewe gewasse. Molekulêre merkers en die ontwikkeling van nuwe GMO-eienskappe is as noodsaaklik beskou.

Mnr Derek Hanekom (Suid-Afrikaanse Minister van Wetenskap en Tegnologie) het die huidige situasie in Suid-Afrika ten opsigte van produsente geskets. Hy het gemeld dat die aantal produsente aan die afneem is as gevolg van toenemende insetkoste en winsgewendheid wat dus verswak.

Talle werksgeleenthede het saam met die afname in produsente verlore gegaan en hy het die effek van meganisering ook bespreek. Die groter prentjie moet in gedagte gehou word en navorsing moet daarvolgens gedryf word.

Publication: May 2013

Section: Other Articles

Search