• Login
  • Search Icon

Suksesvolle bestuursopvolging: die groot uitdaging vir familieboerderye

May 2012

image

PROF STEPHAN VAN DER MERWE, POTCHEFSTROOM BESIGHEIDSKOOL, NOORDWES-UNIVERSITEIT

Familie-ondernemings lewer reeds die afgelope 300 jaar en langer ‘n beduidende bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. Net so speel die landbousektor al vir etlike jare ‘n belangrike rol in Suid-Afrika. Baie boerderye word as familie-ondernemings bedryf en hierdie familieboerderye vorm die grondslag van die landbousektor.

Die suksesvolle vervanging van senior geslag familielede (ouers) met die jonger geslag (kinders) word as een van die mees kritieke bestuursvraagstukke in familieboerderye beskou. Navorsing toon dat slegs 30% van familie-ondernemings suksesvol na die tweede geslag en slegs 10% suksesvol na die derde geslag oorgedra word.

Hoewel dié statistiek nie direk op die Suid-Afrikaanse landbousektor van toepassing gemaak kan word nie, is dit nogtans skokkend. Verskeie familieplase beland binne tien jaar nadat die jonger geslag familielede dit oorgeneem het, in die hande van vreemdelinge.

Die belangrikheid van bestuursopvolging

In die praktyk begryp min produsente egter wat daarmee bedoel word en baie onderskat ook die belangrikheid van ‘n tydige en goed beplande bestuursopvolgingsproses in familieboerderye. Die vraag ontstaan egter: Is bestuursopvolging werklik so belangrik soos wat deskundiges beweer en wat behels dit nou eintlik?

Die antwoord is onteenseglik ja! Bestuursopvolging is noodsaaklik vir enige familieboerdery. Bestuursopvolging omvat veel meer as net die opvolging van leierskap van een geslag deur die volgende. Dit is ‘n proses wat oor etlike jare strek en behels ‘n hele aantal aktiwiteite en besluite wat verwant is aan die oorgang van een geslag na die volgende – die ontwikkelingsproses van die opvolger(s), aftrede-voorsiening vir die ouers en die voorbereidings wat getref word om familieharmonie te handhaaf en terselfdertyd ook die voortbestaan van die onderneming te verseker.

Bestuursopvolging eindig nie noodwendig wanneer die jonger geslag oorneem nie. Dit is ook belangrik om die gevolge wat die bestuursopvolging vir alle belanghebbendes inhou, te oorweeg. Die besigheid kan byvoorbeeld nog baie winsgewend wees vyf jaar nadat die leierskap formeel aan die jonger geslag oorgedra is, maar dit kan wees dat die familielede glad nie met mekaar praat nie en daar konstante konflik tussen familielede is oor besluite wat tydens die proses geneem is. Die vraag is dan of só ‘n opvolging nog as geslaagd beskou kan word?

‘n Weldeurdagte plan vir bestuursopvolging maak die kanse soveel groter om betyds ‘n geskikte opvolger te kry en verseker ‘n gladde oorgang van leierskap na ‘n volgende geslag. Dikwels word daar te laat begin om bestuursopvolging in die familieboerdery te beplan, met die gevolg dat geskikte opvolgers óf moed verloor en elders ‘n heenkome vind óf glad nie gemotiveerd is om die plaas te bestuur nie. Die gevolg is dat ouers maar tevrede moet wees met die naasbeste om die plaas te bestuur, wat weer nadelig is vir die voortbestaan van die plaas.

Die rol van die senior geslag of ouers

Goeie samewerking tussen die senior en jonger geslag familielede is belangrik om die sukses van die familieboerdery te verseker. Kinders worstel dikwels met die vrees dat dit moeilik gaan wees om die boerdery suksesvol op hul eie te bestuur.

Ouers kan egter met die nodige leiding en ondersteuning die voornemende opvolger beter voorberei vir die bestuurstaak wat voorlê. Daardeur kan die voortbestaan van die familieboerdery verseker word.

Die ouers behoort aktief leiding te neem in die opleiding en ontwikkeling van die jong produsent. Produsente moet besef dat die bestuur van ‘n boerdery veel meer behels as die bemeestering van tegniese vaardighede. Baie jong produsente weet hoe om te plant en te oes, maar faal in die bestuur van die boerdery. ‘n Deelnemende bestuursbenadering en mentorskap deur die ouers is die grondslag vir die ontwikkeling en bemagtiging van die jong produsent. Die ouers moet hulle mettertyd aan die boerdery onttrek en meer bestuursverantwoordelikhede na die jong produsent delegeer. Sodoende word die jong produsent mettertyd gereed gemaak om die uitvoerende bestuur van die boerdery oor te neem.

‘n Pa dink dalk as sy seun die beesboerdery in ‘n gediversifiseerde boerdery bestuur, is hy ten volle bemagtig. Dit is wel ‘n stap in die regte rigting, maar die seun moet ten volle aanspreeklik wees vir die beesboerdery asook betrokke wees by die strategiese besluitneming in die boerdery as ‘n geheel. Dit gebeur te dikwels dat die jong produsent slegs die rol van ‘n plaasvoorman vertolk en nie die nodige vaardighede ten opsigte van uitvoerende bestuur aanleer nie.

Die ontwikkeling en bemagtiging van die jong produsent kan bewerkstellig word deur:

  • Die opstel van ‘n persoonlike en leierskapontwikkelingsplan vir elke jong produsent. Die ontwikkelingsaksies, verantwoordelike persone, teikendatums en hulpbronbehoeftes moet duidelik uiteengesit word. Kinders verskil van mekaar. Daarom moet die leierskapsplan elkeen se unieke sterk- en swakpunte in ag neem.
  • Die jong produsent saam te neem na veilings, kongresse, boeredae en onderhandelings met die verskaffers van produksiemiddele, klante en finansiële instellings. Die jong produsent moet nie net as waarnemer saam met sy of haar pa daar wees nie, maar die geleentheid kry om aktief leiding te neem.
  • Die delegering van besluitnemingsbevoegdheid na die jong produsent. Die ouer moenie altyd die kastaiings uit die vuur krap nadat foute gemaak is nie. Die jong produsent behoort aanspreeklikheid te aanvaar vir sy of haar besluite en gedrag.
  • Die jong produsent die geleentheid te gee om foute te maak en daaruit te leer. Die ouers het ook foute gemaak – vra maar die grootouers. Foute moet gebruik word as ‘n leerervaring. Om kinders gereeld aan hulle foute te herinner, breek net hulle moed.
  • Die daarstel van ‘n gunstige omgewing vir die ontsluiting van die jong produsent se volle potensiaal. Die jong produsent moet dit geniet om in die boerdery te werk, self planne te kan maak en met nuwe idees te kan eksperimenteer. Dit gee hom of haar die selfvertroue om veranderinge en uitdagings die hoof te bied.
  • Die daarstel van ‘n tydraamwerk waarvolgens sekere verantwoordelikhede vanaf die ouer(s) na die kind(ers) oorgedra word, die afskaling en latere uittrede van die ouers en ander relevante sake.

Ouers het dus ‘n verantwoordelikheid om die voornemende opvolger gereed te maak vir die bestuurstaak wat voorlê. Hulle moet hulself die volgende afvra: Sal die kind eendag die bestuur van die plaas alleen kan behartig? Indien nie, wat kan ons daaraan doen? Die voortbestaan van die familieplaas is immers op die spel. Hulle moet egter leiding neem in die proses en ‘n plan met doelwitte en ‘n tyd raamwerk daarstel.

Die verantwoordelikheid van die jong produsent

Jong produsente moet besef dat die sukses van die familieboerdery swaar op hulle skouers rus. Hulle behoort kennis te neem van die eise wat aan hulle gestel gaan word om ‘n beduidende bydrae tot die boerdery te lewer en daardeur die voortbestaan van die familieplaas te verseker.

Die jong produsent kan dus nie net terugsit en wag dat sy of haar ouers die inisiatief neem nie. Jong produsente moet self inklim en hard daaraan werk om hulself te bemagtig en sodoende hulle suksesvolle deelname aan die familieboerdery te verseker. Hulle moet leergierig en innoverend wees en elke moontlike geleentheid aangryp om ervaring op te doen, hulle vaardighede te slyp en hulle aansien binne die boerdery te verhoog.

‘n Jong produsent kan hom- of haarself op die volgende wyses beter toerus:

  • Kry formele opleiding by tersiêre opvoedkundige instellings. Doen graad- of kort kursusse om tegniese, vakkundige en bestuursvaardighede te ontwikkel.
  • Kry informele opleiding by die verskaffers van dienste en produksiemiddele. Woon kort kursusse of demonstrasies by om tegniese vaardighede te verbeter.
  • Kry indiensopleiding op die plaas. Pas die teorie in die praktyk toe en bemeester boerderypraktyke en bestuursvaardighede.
  • Woon boeredae, skoue en kongresse by en raak ook betrokke by die reël en aanbieding daarvan.
  • Doen navorsing op die plaas of in studiegroepe. Eksperimenteer met verskillende praktyke en wees voortdurend innoverend.
  • Ken die boerdery. Maak seker jy het die tegniese aspekte van die boerdery ten volle bemeester en beweeg nie net in die skaduwee van jou ouers of ouer broers en susters nie.
  • Wees betrokke by die georganiseerde landbou. Sluit by studiegroepe, boereverenigings en jongboerverenigings aan en dien op komitees en werkgroepe om jou vaardighede te slyp.
  • Raak aktief by die gemeenskap betrokke. Sluit aan by gemeenskapsverenigings wat uitstekende geleenthede vir groei bied, byvoorbeeld op die gebied van die kerk, skool, kultuur en sport.
  • Teken in op landbou- en vaktydskrifte. Lees dit en pas die beginsels toe.
  • Bou aktief netwerke en hou dit in stand. Netwerkvorming beteken dat wedersydse samewerkingsverhoudinge gesmee en gehandhaaf word met ander persone en instansies wat die sukses van die boerdery kan ondersteun.
  • Gryp geleenthede aan om jouself te bemagtig. Wees ontvanklik vir geleenthede om iets te leer en jou tegniese en bestuurs vaardighede te ontwikkel.
  • Moenie twee keer dieselfde fout maak nie. Leer uit jou foute.
  • Wees goed georganiseerd en weet waarheen die boerdery en jyself op pad is. Maak seker dat jy genoegsaam klem lê op detail en streef altyd uitnemendheid na.
  • Moenie deel van die probleem wees nie. Maak self planne om oplossings vir probleme te vind.
  • Neem leiding om uitdagings die hoof te bied. Lees byvoorbeeld meer oor nuwe wetgewing, bemeester die toepassing daarvan en sien die geleenthede daarin raak.
  • Kweek die regte gesindheid – dit is belangrik as jy die boerdery wil laat slaag. Besef dat dit ‘n voorreg is om ‘n familieplaas oor te neem en beslis nie ‘n reg nie.
  • Bou met verloop van tyd geloofwaardigheid in die boerdery op. Dit kom deur harde werk, verantwoordelikheid en leiding.

Jong produsente moet besef dat daar ‘n groot verantwoordelikheid op hulle skouers rus om die boerdery te laat slaag. Dit verg harde werk en deur settingsvermoë. Die beloning is egter die moeite werd. Dit kan die voortbestaan van die boerdery as ‘n familieboerdery in die toekoms verseker.

Indien die hele familie saamwerk, gereeld oor die sensitiewe sake gesels, seker maak die opvolger is gereed om die mas ná opvolging op te kom, die senior sy/haar aktiwiteite afskaal en later self finaal uittree en steeds daar is vir raad op versoek, dan kan die voortbestaan van die boerdery oor geslagte heen verseker word. Kontak prof Stephan van der Merwe by Stephan.VanDerMerwe@nwu.ac.za.

Publication: May 2012

Section: Input Overview

Search