• Login
  • Search Icon

Streeksvergaderings 2017 skop af

March 2017

LIANA STROEBEL, ontwikkelingskoördineerder: Wes-Kaap, Ontwikkelende Landbou, Graan SA
en DIRK KOTZÉ, ledebemarking- en kommunikasiebeampte, Graan SA

Graan SA se streeksvergaderings, wat jaarliks voor Kongres plaasvind, het op ‘n positiewe noot op 24 Januarie op Delmas, Middelburg, Frankfort en Reitz afgeskop. Verskeie vergaderings is daarna weekliks in die onderskeie streke gehou. Die ervarings tydens die byeenkomste is oor die algemeen uiters positief en die goeie reën wat in die somerreënvalgebiede geval het, die beginpunt van menige besprekings.

Produsente is tydens die vergadering ingelig oor die volgende:

  • Graan SA se visie met betrekking tot volhoubare graanproduksie, winste/verliese, navorsing, produktiwiteit en beleidsake;
  • markinligting en status van verkillende gewasse en vooruitsigte;
  • produksie-insetkostes; en
  • terugvoer oor die stand van heffings deur produsente in die streke, asook maniere om die heffings te betaal.

Daar was groot belangstelling onder produsente rakende die bekendstelling van die nuwe Graan SA-toepassing (App) wat uitsluitlik en eksklusief inligting aan opbetaalde Graan SA-lede gaan verskaf. Die toepassing kan gebruik word as ‘n bestuursinstrument waarmee die produsent sy boerdery teen ander boerderye in sy streek, landwyd of teenoor ander streke in die land, kan meet. Alle inligting op die toepassing is privaat en een produsent kan nie ‘n ander se inligting besigtig nie.

Tydens die streeksvergaderings is lede ook ingelig oor die verandering in Graan SA se grondwet met betrekking tot die verkiesing van ‘n tweede visievoorsitter vir Graan SA se bestuurspan, wat vir goedkeuring tydens Kongres 2017 voorgelê gaan word.

Produsente het verder die geleentheid gekry om knelpunte in die bedryf onder Graan SA se aandag te bring. Na afloop van die vergadering het produsente en Graan SA-personeel ook die geleentheid gehad om mekaar beter te leer ken.

Streeksvergaderings het steeds ten doel om belangrike inligting aan produsente in die streke oor te dra.

...en die Wes-Kaap-streeksvergaderings motiveer nuwe denke
Die Wes-Kaap-streeksvergaderings van streke 26 en 27 het on derskeidelik op 31 Januarie by Rietpoel buite Caledon en op 1 Februarie by die Hut op Moorreesburg plaasgevind.

Die opkoms van produsente en rolspelers van die bedryf was uitstekend met ‘n totaal van 185 belanghebbendes gesamentlik. Sprekers tydens hierdie geleenthede het ingesluit mnre Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder), Andries Theron (visevoorsitter, Graan SA), Jaco Minnaar (voorsitter, Graan SA), Dirk Strydom (bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA), Toit Wessels (assistent-bestuurder: NAMPO en Bemarking) asook ʼn spesiale gasspreker, mnr Thinus van Schoor van AB InBev.

De Villiers, Minnaar en Theron het produsente ingelig oor Graan SA se werksaamhede die afgelope jaar, insluitend die vordering wat gemaak is, uitdagings wat hul teëgekom het, asook ‘n blik op die veranderinge wat in die bedryf verwag word.

Wessels het produsente ingelig oor die vrywillige heffings wat per streek ingevorder word, asook presies hoe ledegelde aangewend word. Produsente is gemaan om bewus te wees daarvan dat hul elke jaar toestemming aan hul graankoper of invorderingsagent moet verleen om hul vrywillige Graan SA-heffing oor te betaal – asook in die geval van ‘n produsent wat meer as een koper het of van koper verander.

Produsente is ook ingelig oor die Graan SA-toepassing wat afgelaai kan word en waar pryse wat hul vir produkte betaal met dié van ander produsente binne en buite hul area en streek vergelyk word, om sodoende uitermatige prysverskille te monitor en aan te spreek. Dit is belangrik dat soveel moontlik produsente deelneem om die inisiatief te laat werk.

Strydom het op sy beurt ‘n deeglike oorsig in terme van die plaaslike en internasionale mark- en prystendense voorsien en ook lig gewerp op hoe gebeurtenisse op beide vlakke die wisselwerking tussen die twee en die uiteindelike pryse op plaasvlak beïnvloed.

Die gasspreker, Van Schoor, het aan die vergaderings inligting voor sien rakende SAB se oorname deur AB InBev, asook die toekomsplanne wat die maatskappy vir die Suid- en Wes-Kaap se garsbedryf het.

Groot investering waarna produsente kan uitsien, word op produksievlak asook in die waardeketting beplan. Dog het Van Schoor produsente ernstig gemaan om bemagtiging op hul plase toe te pas, siende dat hierdie investering grootliks daarvan sal afhang.

Daar is ook tydens hierdie vergaderings terugvoer verskaf oor die werksaamhede van die Wes-Kaapse Ontwikkelingsafdeling, asook erkenning gegee aan nuwe era-boere wat by die 250 Ton Klub aangesluit het en aan produsente wat in ‘n kategorie in terme van tonne gelewer, opgeskuif het. Verder is daar sertifikate aan ‘n handvol kursusgangers, wat tydens die Graan SA-opleidingskursusse uitgeblink het, uitgedeel.

Ten slotte wil ons graag die produsente bedank wat vrymoedigheid geneem het om beskrywingspunte wat van kardinale belang vir die bedryf is, tydens hierdie vergaderings te opper. Hierdie punte sal by die Graan SA Kongres in Maart ter tafel gelê word.

Graan SA wil graag alle borge van hierdie streeksvergaderings bedank vir hul betrokkenheid en bydrae om van die geleenthede ʼn sukses te maak.

Publication: March 2017

Section: Grain SA

Search