• Login
  • Search Icon

Stand van bewaringslandbou in die Wes-Kaap

November 2013

image

DR JOHANN STRAUSS, WETENSKAPLIKE: VOLHOUBARE PRODUKSIESTELSELS: DIREKTORAAT PLANTWETENSKAPPE, WES-KAAP DEPARTEMENT VAN LANDBOU EN SEKRETARIS: BEWARINGSLANDBOU WES-KAAP

Graanproduksie in die Wes-Kaap is afhanklik van reën en dit is dus belangrik dat enige produksiestelsel vog moet bewaar en die beskikbare vog optimaal moet kan benut om volhoubare produksie te verseker.

Mnr Jack Human van Heidelberg (Eerstekop) het die besluit geneem dat daar ‘n verandering in die manier van boer in hulle area moes kom, nadat hy gesien het hoe tonne vrugbare grond weggespoel het in die vroeë 80’s. Geenbewerking is toe gevestig in die Wes-Kaap. Sedertdien het geenbewerking ver gevorder, maar die vraag is nou: Waar staan Suid-
Afrikaanse landbouers in terme van dié bewaringslandboufilosofie?

In Augustus vanjaar, vir die eerste konferensieweek van die vereniging vir Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK), is ‘n bewaringslandboukenner van Suid-Amerika uitgenooi om sy kennis met produsente te deel.

Dr Rolf Derpsch, konsultant uit Paraguay, het kennis van bewaringslandbou van regoor die wêreld en hy is gevra om terugvoer te gee ná sy besoek. Die konferensieweek het bestaan uit drie praktiese toerdae en een konferensiedag.
Gedurende die drie praktiese dae is 14 plase besoek waaraan 160 mense deelgeneem het, terwyl die konferensiedag deur 183 produsente, navorsers en die wyer landboubedryf bygewoon is.

Dank moet ook hier gaan aan die Wintergraantrust, Landbouweekblad en Nedbank vir hulle borgskappe tydens die konferensieweek.

So ‘n ongelooflike ondervinding laat ‘n mens terugsit en nadink oor waar ons in Suid-Afrika staan in terme van volhoubare bewaringslandbou. Die beste is om te kyk na die stand van ons bewaringslandbou in terme van die drie
bene van bewaringslandbou soos uiteengesit deur die FAO (www.fao.org/ag/ca/6c.html), naamlik:

  • Minimum grondversteuring
  • Permanente organiese bedekking van die grond
  • Diversifikasie deur middel van wisselbou en groenbemestingdekgewasse

Minimum grondversteuring

Sedert die aanvang van geenbewerking in die Wes-Kaap, is daar hewig gesteun op die gebruik van tand- of mespuntplanters en het hierdie implemente vir produsente se situasie wondere verrig. Daar was ook skyfplanters, maar hierdie implemente was nie op daardie stadium opgewasse vir die doel van geenbewerking in die klipperige gronde nie.

Die tandplanters het gehelp om ontslae te raak van die ploeg en het al die aksies van saadbedvoorbereiding, wat die ou konvensionele grondvoorbereiding voorafgegaan het, vervang. Geenbewerking of no-till (soos dit meer algemeen bekend is) vereis dat die grondoppervlak minder as 25% versteur word tydens die plant-aksie.

Saaidigthede het verlaag en brandstofbesparing was aan die orde van die dag. Die koolstofinhoud van produsente se gronde het verbeter en beter vogbewaring het daarmee gepaardgegaan.

Ná die praktiese toer het dit duidelik na vore gekom dat van die produsente wat al ‘n geruime tyd geenbewerking beoefen, voel asof hulle ‘n plafon bereik het met die toename in die koolstofinhoud van hul grond. Die rede hiervoor, volgens dr Derpsch, is die feit dat die tandimplemente steeds te veel versteuring van die grondoppervlakte veroorsaak, wat verbranding van organiese materiaal aanwakker en ook vogverlies tot gevolg het (hierdie feit het duidelik na vore gekom uit werk wat ‘n student tans oor koolstoffraksies onder verskillende wisselbousisteme in die Wes-Kaap doen).

Sy voorstel was dat sulke produsente die punt bereik het waar hulle dit moet oorweeg om oor te skakel na skyfplanters, wat slegs ‘n dun groefie oopmaak en die saad en kunsmis daarin plaas. Hy het al vantevore dieselfde probleem teëgekom en nadat daardie produsente oorgeskakel het, het die koolstof van hulle grond weer begin toeneem.

Die ou verskoning van “ons grond is te klipperig vir skyfplanters” is die nek ingeslaan nadat die Riversdal-wisselbouproef (die plaas Uitkyk, van Jan-Hendrik en Lindi Joubert) besoek is. Binne hierdie proef (van die Wes-Kaapse Departement van Landbou) was dit duidelik dat die nuwe-generasie-skyfplanters kan werk.

Daar is nog ontwikkelingswerk rondom die gebruik van skyfplanters wat moet plaasvind, maar produsente kan nou vorentoe kyk en die probleme aanpak. Dr Derpsch som dit só op: “Tine seeders can be used in case of extremely
degraded soils during an initial phase to recompose microbiological activity and increase the organic matter content of the soil.”

Dr Derpsch het aangedui dat dit ongelooflik is om te sien tot waar daar al gevorder is in terme van bewaringslandbou in Suid-Afrika, maar dit ook duidelik gemaak dat ons grootste tekortkoming nog lê in die feit dat ons nie genoeg materiaal bo-op die grondoppervlak los nadat ons geplant het nie. ‘n Minimum syfer vir residuvlakke na-plant behoort 30% te wees.

Permanente organiese bedekking

Die behoud van residu’s op die grondoppervlak is noodsaaklik vir die sukses van bewaringslandbou binne die produksie-omgewing van die Wes-Kaap. Genoegsame materiaal help nie net vog bewaar nie, maar help ook om die temperatuur van die grond koel te hou.

Die afbraak van organiese materiaal in die grond deur grondorganismes kan beïnvloed word en selfs gestaak word as die temperature nie geskik is nie. Tans benut produsente baie van die residu’s met ‘n veefaktor; sommige produsente baal en verkoop egter hulle materiaal en oor tyd werk dit negatief in op die opbou van organiese materiaal en gevolglik die koolstofinhoud van die grond.

Produsente moet mik vir ten minste 30% bedekking nadat hul geplant het en met die gebruik van ‘n tandplanter sal hulle nie maklik daarby kom nie. Hoe meer materiaal, hoe meer probleme verskaf die plant-aksie met ‘n tandplanter. Dr Derpsch het aanbeveel dat produsente opnuut moet kyk na hoe hulle hul veefaktor en gewasverbouing by mekaar inskakel. Sy aanbeveling is dat die twee eenhede apart van mekaar moet wees en dat geen diere op die kontantgewaskampe moet wei nie. Só kan produsente seker maak dat hul kontantgewaskampe vinniger vorder in terme van die opbou van organiese materiaal en koolstof.

Diversifikasie

Wisselbou is onlosmaaklik deel van enige bewaringslandboustelsel. Hierdie been van bewaringslandbou is tans redelik onder beheer en die meerderheid van graanplase in die Wes-Kaap het ‘n goeie wisselboustelsel in plek. Daar is seker geen perfekte stelsel wat vir almal sal geld nie, wat meer van belang is, is dat daar soveel as moontlik verskillende gewasse binne die stelsel moet wees. Dr Derpsch het dit weer beklemtoon dat afwisseling belangrik is, dit sluit peulgewasse en gewasse soos kanola in.

“Crop rotation also reduces and facilitates weed and pest control and has a number of advantages (www.fao.org/ag/ca/6c.html). The inclusion of green manure cover crops into the production system contributes to achieve the desired diversification,” het Dr Derpsch gesê.

Die insluiting van groenbemestingdekgewasse is die volgende trappie vir bewaringslandbouprodusente. Hierdie komponent van bewaringslandbou is tans die fokuspunt in navorsingsprogramme in Brasilië en Noord-Amerika.

Verdere aanbevelings

Ná sy besoek het dr Derpsch ook die volgende aanbevelings gemaak:
“…study mixtures of cover crops are also important because they have shown to be more efficient than single cover crops. On farm and on station research needs to be encouraged to show producers the economic advantages of crop rotation and the use of cover crops…”.

“Economists need to apply a holistic, longterm systems approach to show the economic advantages of diversification over the whole cycle of a rotation”.

“….the economic value of separating sheep and cattle from the cropping operation needs to be analysed”.

“It will be important to make producers aware of the value of residues as there are still producers burning or selling their residues”.

Ter afsluiting

Produsente het baie stof tot nadenke gekry tydens die praktiese besoeke asook die konferensie. Gevolglik gaan baie van die aanbevelings van dr Derpsch in die komende jaar ondersoek word.

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het nou die geleentheid om die navorsing rondom die gebruik van skyfplanters onder die loep te neem en die fynere punte van die beste praktyke uit te sorteer.

Sodoende is die skoolgeld reeds betaal as produsente begin oorskakel. Ontwikkeling van dekgewasse en kombinasies van dié gewasse geskik vir die Suid-Afrikaanse klimaat en wat ons produksiestelsels ondersteun, sal ook ondersoek word.

Dit is nou die tyd om bewaringslandbou verder te neem in die Wes-Kaap, sodat produsente ook die term “bewaringslandbou” ten volle verdien en daarmee volhoubaarheid verseker.

Vir meer inligting, kontak dr Johann Strauss by johannst@elsenburg.com of 082 907 3109.

Publication: November 2013

Section: Input Overview

Search