• Login
  • Search Icon

Sonkrag ingespan om elektrisiteitsrekening in toom te hou

November 2015

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Met die vraag na elektrisiteit wat kort-kort die aanbod oorskry, is dit onvermydelik dat die prys van elektrisiteit gaan styg. Te midde van die druk op die elektrisiteitsnetwerk kan daar verwag word dat die instel van beurtkrag ‘n werklikheid is wat toenemend sal voorkom.

Baie produsente bedryf ‘n besproeiingsbesigheid wat totaal en al afhanklik van elektrisiteit is en waar die gebruik van kragopwekkers nie ‘n opsie is nie. Met hierdie verwagting van te min krag en krag wat al duurder word, word produsente gedwing om self iets aan die saak te doen.

Die Schoeman Boerdery het onlangs byna 800 ha hoëpotensiaal landbougrond aan myne vir steenkoolontginning afgestaan. Daarom is besluit om ander alternatiewe te ondersoek om elektrisiteit volhoubaar en winsgewend op te wek. Die moontlikheid om sonkrag as energiebron te gebruik, is derhalwe ondersoek.

Hierdie ondersoek was ‘n lang en intensiewe proses. Aspekte wat oorweeg is, sluit in:

  • Gaan daar van die subsidies wat beskikbaar is, gebruik gemaak word?
  • Hoeveel uitstraling is daar in die gebied?
  • Hoe lank gaan dit neem om die kapitale uitleg terug te betaal?
  • Hoe lank is die verwagte lewensduur van die toerusting en sonpanele?
  • Bied die stelsel elektrisiteitsekerheid?
  • Gaan die stelsel winsgewend wees of nie?

Elke produsent wat besluit om elektrisiteit vanaf sonkrag op te wek, moet vir homself vra wat sy doel is met die opwekking. Dié antwoord sal voorts bepaal watter proses of metode gevolg moet word. Die oprigting en besluite rondom die beplanning van ‘n sonkragplaas moet verkieslik in samewerking met ‘n kundige persoon geskied.

Daar is verskeie maniere om sonkragelektrisiteit aan te wend, wat kan insluit om:

  • Totaal van die netwerk af te wees.
  • Die sonkragelektrisiteit aan Eskom te lewer en dit dan later weer te onttrek.
  • Die sonkragelektrisiteit direk aan Eskom te verkoop.

Sonkrag ingespan om elektrisiteitsrekening in toom te hou

As daar besluit word om van die netwerk af te gaan, moet die kosteaspek deeglik oorweeg word. Die kapitale uitleg sal aanvanklik baie hoog wees, maar sodra die kapitaal verhaal is, sal die elektrisiteit amper verniet wees.

As die ander opsies gevolg word, is daar ook sekere voor- en nadele wat oorweeg moet word. Indien die roete van elektrisiteitslewering en weer onttrekking gevolg word, is die voordeel dat die prys van elektrisiteit vir die volgende 25 jaar vasgepen word.

Die nadeel van hierdie opsie is dat die rekening waar krag opgebou en dan later onttrek word, een maal per jaar na nul herstel word. Dit maak nie sin om in hierdie geval meer krag op te wek as wat gebruik word nie. Die besigheid bly in hierdie geval steeds afhanklik van Eskom vir kraglewering. As daar beurtkrag is, sit die onderneming ook sonder krag.

In die stelsel waar die krag aan Eskom verkoop word, is dit die belangrikste dat die stelsel op sy eie moet kan wins maak. Verdere voorwaardes waaraan voldoen moet word, sluit in die BBBEE-status van die onderneming asook dat daar ‘n omgewingsimpakstudie gedoen sal moet word. Sonpanele wat uit fotovoltaïese selle bestaan, word gebruik om sonlig na gelykstroom-elektrisiteit (DC) om te skakel. Hier die krag word dan deur middel van omskakelaars (inverter) omgesit na wisselstroom-elektrisiteit wat in die Eskomnetwerk gebruik kan word. Op dié manier word daar ‘n inkomste geskep.

Vir sonpanele om effektief te werk, moet die hoeveelheid stof op hulle beperk word. Om hierdie rede moet die panele op ‘n gereelde basis skoongemaak word. Die hoek waarteen hierdie panele ten opsigte van die son opgestel word, bepaal ook tot ‘n groot mate hul effektiwiteit. Dit is dus die moeite werd om die installasie se hoek en rigting te kan verander.
Sommige installasies verander outomaties die rigting en hoek van die panele.

Om optimale benutting van ‘n statiese installasie te kry, kan die panele twee statiese posisies hê. Een vir die somer- en een vir die wintermaande. Hierdie veranderings van die sonpanele moet ook in aanmerking geneem word ten opsigte van waar die sonpanele opgerig sal word. Die stelsel kan óf op die grond óf op dakke aangebring word. Elkeen van hierdie opsies het sekere voor- en nadele.

Geboudakke beskik oor dié voordeel dat die sonpanele nie so maklik gesteel kan word nie, maar baie dakoppervlaktes word vir paadjies opgeoffer om byvoorbeeld tussen die panele rond te beweeg. ‘n Dak se hoek en val kan dit ook moeilik maak om op die dak rond te beweeg om die panele skoon te maak en die hoeke van die sonpaneel ten opsigte van die son reg te stel omdat ‘n gebou se oriëntasie nie noodwendig ideaal is nie. Verder is dit gewoonlik baie warm op so ‘n dak en dit benadeel die effektiwiteit van die sonpanele.

Sonpanele op die grond het ook voor- en nadele. Diefstal en baie meer stofbedekking is van die grootstes. Die area moet ten alle tye met veiligheidsheinings toegespan wees en daar moet verkieslik ‘n wag ook wees om diefstal te voorkom. Met sonpanele op die grond kan die panele maklik skoongemaak word en kan die hoek van die sonpanele ten opsigte van die son maklik verander word. Verder is dit ook heelwat koeler en is die sonpanele se effektiwiteit as gevolg hiervan ook bietjie beter.

Sonkrag ingespan om elektrisiteitsrekening in toom te hou

Sonkrag ingespan om elektrisiteitsrekening in toom te hou

Schoeman Boerdery

Schoeman Boerdery het besluit om eerder die sonkrag in die stelsel te bank en dan die krag te gebruik soos benodig. Op dié manier kan die krag op een plek opgewek word en op verskillende punte gebruik word.

‘n Gekonsolideerde rekening word gebruik om die aanbod en vraag na krag af te speel. In hierdie berekening word die randwaarde van die krag soos gelewer, gebank. Die prys wat vir die energie ontvang word, is gelyk aan die tarief waarteen dit deur Eskom verkoop word.

In piektye kry jy derhalwe baie geld en in aftye kry jy minder. As daar krag gebruik word, word dit teen die standaardkoste vir die tyd geboek.

Uiteindelik word die randwaarde krag gelewer, afgetrek van die randwaarde krag gebruik, en sodoende word bepaal hoeveel inbetaal moet word of na die volgende maand oorgedra word. Een maal per jaar word die rekening afgesluit en as daar nog surplusse is wat oorgedra word, sal dit dan verloor word.

Vir elke grootte opwekkingstelsel, is daar verskillende vereistes. Sodra daar meer as 1 mW opgewek word en as daar meer as 1 ha grond gebruik word vir die sonplaas, is ‘n omgewingsimpakstudie ‘n voorvereiste.

Alhoewel Schoeman Boerdery meer as 4 mW krag gebruik, is daar besluit om ‘n 1 mW stelsel op te sit. Met hierdie grootte is ‘n omgewingsimpakstudie nie ‘n vereiste nie. Tog het dit ‘n reuse-impak op die koste van die besigheid se krag. Die koste vir die oprig van só ‘n 1 ha-sonplaas sal van geval tot geval verskil. Laat die kundiges jou help met die kosteberekeninge. Die verwagte produksie van hierdie sonplaas by Schoeman Boerdery is ongeveer 1 899 mWh per jaar. Voorts kan daar met hierdie produksie, die koste per kWh oor ‘n 25 jaar periode rondom 32c/kWh vasgepen word.

Ander industrieë wil ook graag help met die oprigting van sonplase. Die Departement van Handel en Nywerheid het ook ‘n subsidie beskikbaar wat die hoë kapitaalkoste help verskans. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) help verder ook met toegewings om die kapitaal maklik af te skryf en daar is sommige handelsbanke wat lae rente lenings beskikbaar stel.

Met hierdie en ander sonplase is die toekoms vir volhoubare, goedkoop, skoon elektrisiteit inderdaad ‘n werklikheid.

Vir meer inligting kan Christo de Jonge (die operasionele bestuurder by Schoeman Boerdery) by 013 262 6610 of Pietman Botha by 082 759 2991, gekontak word.

Sonkrag ingespan om elektrisiteitsrekening in toom te hou

Sonkrag ingespan om elektrisiteitsrekening in toom te hou

Publication: November 2015

Section: Focus on

Search