• Login
  • Search Icon

Somergewasoesskattings — 2013 se veldopname

January 2013

RONA BEUKES, DEPARTEMENT VAN LANDBOU, BOSBOU EN VISSERYE

Die Nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) se Oesskattingskomitee het die Landbounavorsingsraad (LNR) versoek om 1 950 produsente in die Vrystaat, Mpumalanga, Noordwes Provinsie en Gauteng op hulle plase te gaan besoek.

Hierdie veldwerkers sal inligting oor die aantal hektare wat met somergraangewasse beplant is asook verwagte oesopbrengste, inwin. Die opname sal plaasvind vanaf 21 Januarie 2013 tot 21 Februarie 2013. Die projek is van stapel gestuur om die akkuraatheid en betroubaarheid van die skatting van graangewasse te verbeter. ‘n Steekproef wat arbitrêr gekies is deur van Geografiese Inligtingstelsels (GIS) en databasisse gebruik te maak, vorm die groep produsente wat deur die veldwerkers in die vier provinsies besoek gaan word.

Globale posisioneringstelsels sal gebruik word om die veldwerkers na die punte te navigeer. Veldwerkers sal goed opgelei wees en duidelik onderskei kan word deur ‘n blou en bruin pet met die woord “Oesskatting” daarop. Elke veldwerker sal ook in besit wees van ‘n identiteitskaart met sy foto en die registrasienommer van sy voertuig daarop.

Daar word ‘n dringende beroep op produsente gedoen om hulle samewerking te verleen. Akkurate, objektiewe en betroubare oesskattings is van kardinale belang om ‘n gelyke bedingingsmag tussen die koper en verkoper te verseker en sodoende het niemand ‘n onregverdige voordeel nie. Oesskattings word hoofsaaklik gedoen om ‘n vroeë aanduiding van die verwagte produksie van spesifieke gewasse te verkry. Hierdie inligting is van groot nut vir alle rolspelers in die landbousektor om te beplan vir die verkoop, vervoer, berging en bemarking van gewasse.

Alle inligting wat ingesamel word, sal as 100% vertroulik beskou word en slegs vir oesskattingsdoeleindes gebruik word. Vir meer inligting kan mnr Rodney Dredge of me Rona Beukes van DAFF by (012) 319-6046/8032 of rodneyd@daff.gov.za of RonaB@daff.gov.za gekontak word.

Publication: January 2013

Section: Other Articles

Search