• Login
  • Search Icon

Sojaboonkultivaraanbevelings vir 2012/2013

March 2013

AS DE BEER, LNR INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE, POTCHEFSTROOM

Hoewel sojabone ‘n gewas is wat bykans wêreldwyd verbou word, het individuele kultivars ‘n beperkte gebiedsaanpassing. Gevolglik sal die kultivar wat die beste aangepas is vir ‘n gegewe lokaliteit, dié een wees wat oor ‘n aantal jare die hoogste opbrengs en saadkwaliteit lewer.

Onder vergelykbare omgewingstoestande en produksiepraktyke, kan ‘n seleksie uit kultivars gemaak word wat ‘n hoë opbrengs en ‘n meer akkurate oessekerheidswaarde het. Die Nasionale Sojaboonkultivarproewe van die LNR-Instituut vir Graangewasse en verskeie medewerkers lewer in hierdie opsig waardevolle inligting ten opsigte van verskillende produksie- areas in Suid-Afrika.

Belangrike inligting vir kultivarkeuse

Die belangrikste inligting wat in ag geneem moet word ten opsigte van kultivarkeuse by sojabone, is lengte van groeiseisoen. Anders as by die meeste algemeen verboude gewasse, is sojabone gevoelig vir daglengte en sal ‘n gegewe kultivar al hoe later ryp word hoe verder suid dit in Suider-Afrika geplant word. Vir dieselfde rede sal die plantdatum ook die lengte van die groeiseisoen beïnvloed en sal ‘n gegewe kultivar heelwat gouer blom by ‘n later plantdatum. Heersende temperatuur (veral nagtemperatuur) het ook ‘n invloed en sojabone groei heelwat stadiger op die Hoëveld, vergeleke met die warmer Laeveld.

Tabel 1 illustreer die invloed wat die lengte van groeiseisoene het ten opsigte van die verskillende kultivars asook vir ‘n spesifieke kultivar in verskillende produksiegebiede. Dit is belangrik om te onthou dat vroeë en later plantdatums binne dieselfde gebied ook die groeiseisoenlengte van ‘n kultivar beïnvloed.

image

Vir produsente met ondervinding van sojaboonproduksie kan die gevoeligheid vir daglengte en die genetiese variasie vir relatiewe groeiseisoenlengte, met vrug gebruik word vir byvoorbeeld hooiproduksie (die gebruik van lang groeiseisoen-kultivars), stroopskedulering (die plant van kultivars met verskillende rypword datums) en vir droogte-ontwyking of noodaanplantings (kultivars met ‘n relatief kort groeiseisoen).

Vir produsente wat nie ondervinding het van sojaboonproduksie nie, kan dié eienskap ook by wyse van verkeerde kultivarkeuse tot gevolg hê dat die sojabone:

  • nie wil ryp word nie in die geval van waar ‘n kultivar met ‘n te lang groeiseisoen in die gebied aangeplant is,
  • reeds oesgereed is terwyl reën en hoë temperature stroop bemoeilik en kwaliteit benadeel waar ‘n kultivar met ‘n té kort groeiseisoen vir ‘n gebied gekies is; en
  • onstroopbaar is as gevolg van ‘n té lae peulhoogte.

Prosedure vir kultivarkeuse op grond van groeiseisoenlengte is dan soos volg: Die lokaliteite waar sojaboonkultivarproewe uitgevoer is, is gegroepeer om warm-, matig- en koel gebiede aan te dui (Tabel 2). Wanneer daar ‘n kultivarkeuse gemaak word, is dit belangrik om die gebied te identifiseer wat dieselfde klimaatstoestande het en dan die tabelle te gebruik wat dieselfde klimaatstreek verteenwoordig.

image

Risiko kan geminimaliseer word wanneer Tabel 1 en Tabel 3 gebruik word. As algemene reël word aanvaar dat kultivars met ‘n langer groeiseisoen die beste sal doen in gebiede met ‘n warmer klimaat, medium groeiseisoen-kultivars in gebiede met ‘n gematigde klimaat en korter groeiseisoen-kultivars in gebiede met ‘n koeler klimaat.

image

Dit is egter belangrik om te onthou dat daar ook uitsonderings op die reël is en daarom word aanbeveel dat sowel opbrengs en aanpassingsvermoë van kultivars soos aangedui in Tabelle 4, 5, 6, 7, 8 en 9 saam met groeiseisoenlengte gebruik sal word om ‘n meer akkurate kultivarkeuse vir ‘n spesifieke gebied te maak.

image

image

image

image

image

image

Plantdatum beïnvloed sojabone se aanpassing en gevolglik ook kultivarkeuse. Die optimale plantdatum is normaalweg tydens November. In warmer gebiede kan produsente egter tot die eerste week in Januarie nog plant, maar dan word nouer rywydte, hoër plantpopulasie en ‘n vinniger groeiende kultivar aanbeveel. Waar grond- en lugtemperature aanvaarbare vlakke vroeg in die seisoen bereik, word ‘n Oktober-plantdatum, veral op die hoërliggende gebiede aanbeveel. Dit is belangrik om te onthou dat ‘n vroeër of ‘n later plantdatum in al die produksiegebiede, kultivarkeuse kan beïnvloed.

Peul- en planthoogte beïnvloed die stroopbaarheid en die staanvermoë van sojabone en is faktore wat in ag geneem moet word by kultivarkeuse. Oor die algemeen is daar ‘n verband tussen peul- en planthoogte en die relatiewe lengte van die groeiseisoen. Relatief kort groeiseisoen-kultivars het gewoonlik ‘n laer peul- en planthoogte as lang groeiseisoen-kultivars onder vergelykbare toestande.

Beide eienskappe word egter ook deur produksiepraktyke beïnvloed. ‘n Nouer tussenry- en binnery-spasiëring sal peulhoogte betekenisvol verhoog. In die Nasionale Kultivarproewe word by gestandaardiseerde toestande vir peulhoogte geëvalueer en kan kultivars met aanvaarbare peulhoogtes gekies word. Peulhoogte word aangedui in Tabel 3.

Staanvermoë kan beïnvloed word deur die aantal bewolkte dae wat tydens die seisoen voorkom. Dit kan tot gevolg hê dat kultivars wat normaalweg goed staan, hoër groei en dus word die risiko van omval verhoog.

Groeiwyse onderskei tussen bepaalde en onbepaalde groeiers. Kultivars met ‘n bepaalde groeiwyse word verkieslik onder besproeiing geplant, terwyl kultivars met ‘n onbepaalde groeiwyse (wat nie lengtegroei tydens blom staak nie) onder droëlandtoestande verkies word. Die groeiwyse van die kultivars word in Tabel 3 aangedui.

Rywydte kan ook kultivarkeuse beïnvloed aangesien ‘n betekenisvolle interaksie tussen die twee bestaan. Kultivars wat geneig is tot sytakvorming en ‘n digte blaredak het, is beter aangepas in wye rye, terwyl kultivars met ‘n oop blaredak en min sytakke, beter aangepas is by relatief nouer rywydtes.

Weerstand teen oopspring van peule kan ‘n belangrike rol speel tydens ongunstige toestande gedurende die oes van sojabone

Volgens inligting uit die Nasionale Kultivarproewe is dit duidelik dat relatief kort groeiseisoen-kultivars die grootste risiko vir oopspring het, terwyl relatief lang groeiseisoen-kultivars die minste daardeur geraak word. ‘n Aanduiding ten opsigte van genetiese weerstand tussen kultivars van dieselfde groeiseisoenlengte wat oopspring aanbetref, kon egter nie verkry word nie. Kultivars word geëvalueer op ‘n skaal van 1 (goed) tot 9 (swak) wat oopspring aanbetref en die resultate word in Tabel 3 aangebied.

Gevoeligheid vir onkruiddoder kan in sommige gevalle kultivarkeuse beïnvloed. Geen sojaboonkultivar is bestand teen die atrazine-tipe onkruiddoders nie en die volle wagperiode moet nagekom word voordat die plant van sojabone oorweeg word. In alle gevalle moet seker gemaak word dat die aanwysings op die onkruiddoderetiket voorsiening maak vir die kultivar wat aangeplant gaan word.

Saadgrootte, hilumkleur, proteïengehalte en GMO-status is eienskappe waarop ‘n premieprys moontlik betaal kan word. Saadgrootte is geneties, maar word sterk beïnvloed deur omgewingstoestande. Gunstige toestande tydens die saadvulperiode sal saadgrootte positief beïnvloed.

Die proteïeninhoud van die saad is ook geneties, maar kan nadelig beïnvloed word deur omgewingstoestande (reënval, temperatuur en stremming) en bestuur (swak of geen nodulering nie, suur grond en lae grondvrugbaarheid). Proteïeninhoud (vogvrye basis) onder 36% is onbevredigend en bokant 40% is uitstekend wat sojabone aanbetref.

Saadopbrengs gee ‘n aanduiding van ‘n kultivar se genetiese aanpassing en geskiktheid vir ‘n bepaalde gebied. Vir die 2011/2012-seisoen is 23 kultivars geplant en geëvalueer en was die data van 19 proewe aanvaarbaar vir statistiese analises. Tabelle 5, 7 en 9 bevat inligting aangaande die opbrengs van die kultivars vir die 2010/2011- en 2011/2012-produksieseisoene op die onderskeie lokaliteite. Gebruik die opbrengsdata saam met die oessekerheidstabelle om jou kultivarkeuse te maak.

Die oessekerheidswaardes van die 15 kultivars vir die drie verbouingsgebiede (warm, matig en koud) word in Tabelle 4, 6 en 9 aangebied. Tabelle 4, 6 en 8 bevat inligting oor kultivars wat vir onderskeidelik drie jaar in dié proewe ingesluit was. Dit is belangrik dat jy die verdeling van lokaliteite in Tabel 2 gebruik om te bepaal in watter gebied jou plaas geleë is. Vergelyk dan die kultivars in die oessekerheidstabel wat jy gekies het met mekaar by die realistiese opbrengsmikpunt vir jou plaas.

Kultivarbeplanning – ‘n Waardevolle hulpmiddel by kultivarbeplanning is die oessekerheidswaardes, wat ‘n afleiding is van inligting wat deur die regressiegrafiek van ‘n kultivar uitgebeeld word. Hierdie oessekerheidswaardes word verkry van die onderste betroubaarheidsband van die regressiegrafiek by ‘n 90% waarskynlikheidspeil. Dit beteken dat die oessekerheidswaarde van ‘n kultivar by ‘n sekere potensiaal die minimumopbrengs is wat daardie kultivar in nege uit tien gevalle kan behaal. By die berekening van oessekerheidswaardes (opbrengste) word die opbrengsgeneigdheid, gemiddelde opbrengs en stabiliteit in ag geneem.

In die oessekerheidstabelle word die volgende inligting verskaf: Eerstens word die oessekerheidswaardes by verskillende potensiaaltoestande aangetoon. Tweedens volg die gemiddelde opbrengs van die kultivar vir die stel proewe wat gebruik is. Laastens volg die opbrengstabiliteit wat deur die D²-waarde aangedui word. Hoe meer die D²-waarde neig na nul, hoe meer stabiel en voorspelbaar is die kultivar in terme van opbrengs en hoe groter die D²-waarde is, hoe meer sal die opbrengs tussen seisoene wissel.

Die prosedure wat gevolg word vir die maak van kultivaraanbevelings is kortliks soos volg: Eerstens moet vasgestel word vir watter opbrengspotensiaal aanbevelings gemaak word. Die produsent moet homself vergewis van die potensiaal wat ter sprake is. Stap twee is om die oessekerheidstabel te raadpleeg by die vasgestelde potensiaal. Selekteer by die gekose potensiaal daardie kultivars met die hoogste oessekerheidswaardes. Die kultivars met die hoogste waardes behoort vir jou die beste kans op ‘n stabiele, suksesvolle opbrengs te verseker. Indien verdere verfyning in die keuse nodig is, kan die stabiliteit (D2) gebruik word.

Verdere inligting

Vir volledige inligting oor die Nasionale Sojaboonkultivarproewe en ‘n nuttige bron van inligting oor sojaboonproduksie, skaf die Sojaboon produksiehandleiding aan. Dit is beskikbaar by die LNR-Instituut vir Graangewasse, Privaat sak X1251, Chris Hani-straat 114, Potchefstroom, 2520. Skakel hulle by (018) 299-6100.

* Kultivars wat in die verslag opgeneem is, is die enigste kultivars wat deur die LNR getoets en aanbeveel word.

Erkenning

Die uitvoer van die proewe is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die Landbounavorsingsraad, die Proteïennavorsingstigting, verskeie saadmaatskappye en ‘n groot aantal medewerkers wat proewe uitgevoer het. Tegniese ondersteuning is verleen deur me Heila Vermeulen.

Publication: March 2013

Section: Other Articles

Search