• Login
  • Search Icon

Só lyk besproeiing se bydrae tot graanproduksie

February 2015

RONA BEUKES, senior statistikus, Nasionale Oesskattingskomitee

Suid-Afrika is ‘n relatiewe droë land met ‘n uiters wisselvallige reënval en oorvloedige sonskyn. Ook is ons reënval redelik onbetroubaar en onvoorspelbaar.

Die land word van tyd tot tyd deur ernstige en langdurige droogtes geteister. As gevolg hiervan kan die produksie van graan baie varieer en daarom speel besproeiing ‘n belangrike rol (veral in 'n droogtejaar) om graanproduksie te stabiliseer.

Mielies

Alhoewel die grootste persentasie mielies onder droëlandtoestande geproduseer word, het aanplantings onder besproeiing die afgelope paar jaar stelselmatig toegeneem. Sedert 1996 het mielie-aanplantings onder besproeiing van 80 000 ha tot ongeveer 227 000 ha toegeneem – ‘n styging van 184% of 147 000 ha.

Die gegewens van mielies onder besproeiing, word in Grafiek 1 ten toon gestel vanaf die 2004- tot die 2014-seisoen. Gedurende dié dekade-tydperk, het die hektare mielies onder besproeiing beplant, met 33,5% of 57 000 ha toegeneem; vanaf 170 000 ha tot 227 000 ha.

In Grafiek 2 kan gesien word dat geelmielies onder besproeiing die grootste gedeelte uitmaak van die totale mielie-oppervlakte tussen wit- en geelmielies onder besproeiing. Gedurende 2004 was die geelmielies se oppervlakte onder besproeiing 10% teenoor witmielies se 4,1%. Die geelmielie-oppervlakte onder besproeiing het vinniger toegeneem sedert 2004 en maak tans (2014) 13,2% uit van die totale mielie-oppervlakte, teenoor witmielies se 5%.

Gedurende 2004 is 9,482 miljoen ton mielies geproduseer, dit bestaan uit 85,9% (8,142 miljoen ton) droëlandproduksie, terwyl besproeiing se produksie 14,1% (1,34 miljoen ton) beloop. In 2014 is die tweede hoogste mielie-oes op rekord geproduseer, naamlik 14,307 miljoen ton, waarvan 83,4% of 11,939 miljoen ton droëlandproduksie is en 16,6% of 2,368 miljoen ton besproeiingsproduksie is (Grafiek 3).

Ten opsigte van witmielies (Grafiek 4) is daar 5,805 miljoen ton wit mielies gedurende 2004 geproduseer, waarvan 91,6% of 5,320 miljoen ton vir produksie onder droëland was, terwyl besproeiing se produksie 8,4% of 485 360 ton was. Gedurende 2014 is daar 7,697 miljoen ton witmielies geproduseer, waarvan 91,4% of 7,034 miljoen ton onder droëland was en 8,6% of 663 600 ton onder besproeiing.

Gedurende 2004 het geelmielie-produksie (Grafiek 5) 3,677 miljoen ton beloop – 76,8% of 2,822 miljoen ton onder droëland en 23,2% of 854 800 ton onder besproeiing. In 2014 is 6,610 miljoen ton geelmielies geproduseer, waarvan 74,2% of 4,906 miljoen ton droëlandproduksie is en 25,8% of 1,704 miljoen ton besproeiingsproduksie is.

In die algemeen is die nasionale gemiddelde opbrengs van geelmielies hoër as vir witmielies; hoofsaaklik vanweë die groter gedeelte geelmielies wat onder besproeiing geplant word as witmielies. Sedert 2004 is die toename in opbrengste onder besproeiing ook hoër by geelmielies (Grafiek 7) as by witmielies (Grafiek 6), terwyl die toename onder droëland min of meer dieselfde was vir beide wit- en geelmielies.

Die kombinasie van verbeterde opbrengste onder besproeiing en groter oppervlakte beplant onder besproeiing het ongeveer 2,4 miljoen ton mielies onder besproeiing gedurende 2014 geproduseer.

imageimage

imageimage

imageimage

image

Koring

Koring word in Suid-Afrika ook onder droëland én besproeiing verbou. Vanaf die 2004- tot die 2014-seisoen, het die hektare koring beplant onder besproeiing met 4,8% of 6 580 ha afgeneem; vanaf 138 080 ha tot 131 500 ha (Grafiek 8). Dit is skokkend dat koring se oppervlakte onder droëland ge durende dieselfde tydperk met 50,1% of 346 850 ha gedaal het. Een van die hoofredes vir hierdie afname is die effek van die swak winsgewendheid van koring vir produsente.

Besproeiingskoring se bydrae tot die finale oes is heelwat meer as in die geval van mielies. Hoewel die besproeiingsarea vir koringverbouing tans uit 28% (Grafiek 9) van die totale oppervlakte bestaan, dra dit bykans 50% by tot die totale koringoes van Suid-Afrika. Hierdie verskynsel beklemtoon dat koring onder besproeiing ‘n belangrike rol in die koringbedryf speel.

Omdat Suid-Afrika ‘n netto invoerder van koring is, is dit noodsaaklik dat koring onder besproeiing verbou word aangesien dit so ‘n groot bydrae tot die totale produksie lewer. As die besproeiingsoppervlakte egter sou afneem, kan dit tot gevolg hê dat Suid-Afrika meer koring moet invoer om aan die plaaslike vraag te voldoen.

Koring se opbrengste – beide onder besproeiing en droëland – het sedert 2004 geleidelike toenames getoon (Grafiek 10). Vir koring onder besproeiing het die opbrengs met 17,2% of 0,94 ton/ha toegeneem, terwyl die opbrengs vir droëland verdubbel het, van 1,34 ton/ha in 2004 tot 2,74 ton/ha in 2014.

image

imageimage

Publication: February 2015

Section: On farm level

Search