• Login
  • Search Icon

Sleutel(s) tot sukses

March 2013

PHILIP SMITH, BESTUURDER: BEMARKING, GRAAN SA

Ons lewe in interessante tye. Volgens ekonome is 2013 ‘n waterskeidingsjaar of soos die Engelse sê: “A tipping point year”. As ekonomiese beleid in Suid-Afrika nie hierdie jaar resultate oplewer nie, kan dit noodlottige gevolge hê, nie net vir landbou nie, maar ook vir die land.

As sekere strategiese beleidsake nie aandag kry nie, kan dit internasionale beleggers verder ontmoedig en verdere druk op die ekonomie plaas. Dit bring ons by die punt waar ons vra: “Wat kan ek daaraan doen?” of “Wat is my bydrae?” Vir my is die antwoord eenvoudig dat waar ek ook al betrokke is, moet ek ‘n verskil maak.

In enige besigheid of boerdery is daar verskeie faktore wat tot die sukses daarvan bydra. Daar is faktore waaroor ons beheer het, soos ‘n realistiese visie, effektiewe bestuur, harde werk en deursettingsvermoë. Aan die ander kant is daar faktore waaroor ons geen of minder beheer het, naamlik die weer en wat in die internasionale omgewing gebeur.

‘n Kombinasie van hierdie faktore bepaal ons sukses. In Graan SA is dit presies dieselfde. Daar is baie aksies en funksies wat saam bydra tot die suksesse van Graan SA. Elkeen in die waardeketting, elke personeellid van Graan SA, elke rolspeler in die graanbedryf en elke graanprodusent het ‘n sleutel in sy/haar hand. Wat jy daarmee maak, is jou keuse. Jy kan toesluit of oopsluit.

In die graanbedryf is daar talle rolspelers wat bydra tot ‘n gesonde omgewing waarin die graanprodusent optimaal kan funksioneer. Die rol van Graan SA is een van koördinering, onderhandeling en ondersteuning.

Die sleutel is in jou hand

Die Landbounavorsingsraad (LNR) het onlangs die Sojaboon Produksiehandleiding uitgebring. Die handleiding bevorder sojaboonproduksie. Die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) het vir die 2011/2012-seisoen die “Soybean Crop Quality Report” vrygestel, wat bewys dat Suid-Afrikaanse sojaboonkwaliteit internasionaal goed meeding en dat ons nie hoef terug te staan vir uitvoere nie.

Die sojaboonbedryf bied soveel meer geleenthede in die volgende paar jaar met addisionele perskapasiteit wat geskep is. Dit beteken dat die sojaboonprodusente hul produksie binne twee jaar sal moet verdubbel om in die vraag te kan voorsien. Dit is ‘n sleutel wat ‘n deur oopmaak tot groter geleentheid.

In 2012 het die Vraag en Aanbod Ramingskomitee of te wel die Supply and Demand Estimates Committee tot stand gekom. ‘n Vrye mark kan alleenlik funksioneer as inligting vrylik en deursigtig beskikbaar is. Dié komitee is ‘n sleutel wat sal seker maak dat nie spekulasie nie, maar wel vraag en aanbod die mark dryf.

Ander sleutels wat geleenthede in die bedryf kan “oopsluit” is die verpligte inmengingsregulasies vir bio-etanol, die koringtariefaansoek, fokus op navorsing, nuwe koringkultivargraderingsregulasies, kwaliteits monitering by kunsmis en chemikalieë, leierskapopleiding, uitvoerbevordering en effektiewe kommunikasie.

Een van die belangrikste sleutels tot sukses in Graan SA en die bedryf, het te doen met leierskap. Die gravering op die sleutel van leierskap is:

  • ‘n Sterk visie
  • Integriteit
  • Die belang van die organisasie bo dié van die individu
  • Dienende leierskap (servant leadership)
  • Aanpasbaarheid
  • Aanspreeklikheid
  • Sterk karakter
  • Vennootskappe
  • Gesonde verhoudings
  • Afhanklikheid van God

Sleutels wat nog geslyp moet word:

  • Afskaffing van die liggingsdifferensiaal
  • Uitklaring van die dieselkorting
  • Invoertarief op koring
  • Skep van uitvoermarkte

Graan SA het die afgelope jaar baie deure oopgesluit en waar die deur dalk sukkel om oop te sluit, gaan lê ons nie, maar gaan ons terug na die slotmaker.

Graan SA is ‘n nie-winsgewende organisasie wat ‘n bedryfstrategiese diens lewer vir sy lede – die graanprodusente van Suid-Afrika. Graan SA is ook die amptelike mondstuk van die graanprodusent en ons hoofdoel is om seker te maak dat die graanprodusent winsgewend en volhoubaar is en bly.

Publication: March 2013

Section: Other Articles

Search