• Login
  • Search Icon

"Skop ons deur oop"

December 2012

RUTH SCHULTZ, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

image

“As ‘n staatsdepartement se deur toe is, kom skop die ANC se deur oop, sodat ons julle kan help om daardie deur oop te kry.”

Dit was mnr Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, se terugvoer op verskeie Agri SA kongresgangers se reaksies dat hul geen samewerking van sekere staatsdepartemente kry nie of dat vergaderings op nommer 99 gekanselleer word.

Mantashe het by Agri SA se kongres op 11 Oktober vanjaar in Johannesburg met Agri SA en kongresverteenwoordigers gesels oor die uitkomste van die ANC-beleidskonferensie wat vroeër vanjaar
plaasgevind het.

‘n Eeu sedert die Natives Land Act

Volgende jaar sal dit ‘n honderd jaar wees sedert die afkondiging van die Natives Land Act van 1913, wat 87% van die grondbesit van die Afrika-mense weggevat het. Die Grondwet vereis dat die staat grondbesit moet teruggee aan diegene wat deur die 1913-wet van grond ontneem is.

“Die ANC-beleidskonferensie het dié 100ste bestaansjaar beklemtoon, omdat dit druk op almal sal plaas om toegang tot grond te fasiliteer vir diegene wat van grond ontneem is,” het Mantashe gesê.

“Meer belangrik is die fokus wat geplaas is op grond en landbou as ‘n ekonomiese sektor. Voedselsekerheid en voedselproduksie moet die beslissende faktore in hierdie proses wees,” het hy gesê. Volgens Mantashe moet die herkapitalisering- en ontwikkelingsprogramme die ondersteunende faktore wees in die herverdeling van grond.

“Die ontwikkeling van vaardighede in die landbousektor moet veral opgeskerp word. Landboukolleges moet geherkapitaliseer word en ondersteuning kry. Dit sal verseker dat grondhervorming gebalanseer word met voedselproduksie en dan is dit nie meer ‘n getallespeletjie wat gespeel word nie,” het hy gesê.

Grond-oudit

Mantashe het die belangrikheid van die voltooiing van die grond-oudit beklemtoon. “Sekerheid moet gekry word oor die grond wat aan die staat behoort en die grond wat deur die staat gekoop is vir herverspreiding. Die grond wat privaat gekoop is deur swart produsente moet gekwantifiseer word, omdat hierdie produsente toegewyd is tot
die landbousektor.”

Hy meen die vrywillige koper/verkoper-beginsel moet vervang word met die regverdige en billike beginsel. “Die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling kry ‘n waardasieprys vir ‘n plaas van byvoorbeeld R12 miljoen, maar die produsent se waarde vir sy plaas is byvoorbeeld R5 miljoen. Die R7 miljoen-verskil verdwyn dan tussenin. Dit is waarom ‘n grondwaardeerder-generaal wat grondwaardasies sal standaardiseer nodig is.”

Volgens hom moet betalings vinniger gedoen word waar die staat grond koop, omdat die vertraging van betalings die lewe van die produsent kompliseer en toegang vir die nuwe begunstigde verlangsaam.

Agri SA en die debat oor grondbesit

“Agri SA het nie die opsie om weg te stap en nie met die staat samesprekings te voer nie. Dit is jul verantwoordelikheid om namens die produsente op te tree,” het Mantashe gesê.

Mantashe meen Agri SA moet hul insette gee in die debat wat handel oor toepaslike grondbesit vir Suid-Afrika. Die besprekingspunte waaraan Agri SA moet deelneem, sluit in:

  • om nie die staat en publieke grond te verkoop nie, maar te ver huur vir ‘n minimum van 30 jaar;
  • daar moet ‘n verbod op buitelandse grondbesit wees, maar ‘n huurkontrak met voorwaardes;
  • grond in privaat besit met beperkte omvang. Die “een grootte pas almal”-beginsel kan nie van toepassing wees in landbou nie, omdat die weidingskapasiteit nie oral dieselfde is nie. Die definisie van klein, medium en groot kommersiële boerdery gebaseer op die grootte, moet meer wetenskaplik bepaal word.

Mantashe sê hy is self ‘n opkomende produsent en is trots daarop. “Ek hoop om in vyf jaar se tyd Agri SA se kongres as ‘n lid by te woon om as produsent my standpunte weer te gee.”

image

Kongres neem deel

Louw Steytler (voorsitter: Graan SA)
“Volgens die Maplecroft voedselsekerheid risiko-indeks is die risiko van voedselsekerheid in 75% van Afrika-lande hoog of kritiek. Altesaam 39 uit 59 hoë-risiko-lande is in Afrika. Indien ons nie ‘n vlak van samewerking tussen alle rolspelers in die samelewing en in georganiseerde landbou bereik nie, sal ons misluk. Dialoog is nodig in die totale waardeketting om sodoende toe te sien dat die uitdagings wat landbou in die gesig staar, aangespreek word.”

Dan Kriek (president: Vrystaat Landbou)
“Mnr Mantashe, u moedig Agri SA aan om samesprekings te voer en die ANC se denkwyse te beïnvloed. Die insette wat ons gegee het vir die groenskrif oor grondhervorming, bevat die beste ekonomiese, praktiese, regs- en grondwetlike advies om die ANC te help om die landbousektor in terme van die groenskrif te omskep. Ons toegewydheid is dus onbetwyfelbaar. Ons benodig egter vertroue, respek en dialoog om sukses te behaal.

Ons is pynlik bewus daarvan dat 2013 die eeufeesjaar van die Natives Land Act is – dit is hoekom ons onsself moet weerhou van politieke opportunisme en kruheid. Laastens, mnr Mantashe, die ANC het ook nie die luukse om weg te stap van ons af nie – Agri SA en die ANC het ‘n gemeenskaplike doelwit.”

Volgens mnr Pieter Mulder (adjunkminister: Landbou, Bosbou en Visserye) wat op Twitter Gwede Mantashe se toespraak gevolg het, swaai die pendulum tussen twee debatte. “Aan die een kant moedig Gwede Mantashe kommersiële produsente aan om hulp te verleen aan ontwikkelende produsente, maar in dieselfde asem maak hy standpunte soos die vrywillige koper/verkoper-beginsel wat nie suksesvol kan wees nie en die grondwaardeerder-generaal wat die grondpro bleme moet oplos,” het hy tydens ‘n vlugtige besoek aan die kongres gesê.

Met al die buitengewone veranderings bly mnr Johannes Möller (president: Agri SA) steeds positief oor landbou en sien hy dié sektor as die voorkeurbedryf vir ekonomiese ontwikkeling. Tydens sy presidentsrede het hy ‘n paar redes vir sy positiwiteit uitgelig:

  • Die behoefte om voedselproduksie in die kort en lang termyn uit te brei is vir Suid- en Suider-Afrika, met sy knaende voedseltekorte maar terselfdertyd onderbenutte landboupotensiaal, ‘n selfs groter prioriteit as wat die internasionale gemeenskap reeds aan hierdie uitdaging gee.
  • Terwyl dit nie noodwendig in elke landboubedryfsvertakking en op elke plaas rooskleurig gaan nie, het die landbou in Suid-Afrika die afgelope vyf jaar goed presteer. Netto boerdery-inkomste het vir die middeljaar van 2011/2012 tot R51,5 miljard verbeter vergeleke met R32,8 miljard vir die ooreenstemmende tydperk in 2010/2011.
  • Die erkenning wat in die regering se beleidsdokumente, soos die Nuwe Groeipad en die Nasionale Ontwikkelingsplan (Visie 2030), aan landbou-ontwikkeling gegee word vir die doeleindes van verbeterde voedselsekerheid, maar ook omdat landbou in landelike gebiede die potensiaal het om ruim by te dra tot verdere werkskepping en die maatskaplike opheffing van gemarginaliseerde gemeenskappe.

Beleidsessies

Effektiewe waardekettings, sosiaal-maatskaplike uitdagings vir die landbou asook grondhervorming en boerontwikkeling was die beleidsessies se temas by vanjaar se kongres. Luidens ‘n Agri SA e-nuusbrief is die besluite wat by die beleidsessies geneem is onder die toepaslike ministers en belanghebbendes se aandag gebring.

Verdere hantering daarvan het tydens die November-vergaderings van Agri SA se beleidskomitees en Algemene Raad, aandag geniet. Die kongresbesluite is in ‘n skrywe saamgevat en is saam met ander kongresbydraes op Agri SA se webtuiste (www.agrisa.co.za) beskikbaar.

Publication: December 2012

Section: Other Articles

Search