• Login
  • Search Icon

Skatting laat NOK kop krap

January 2013

PETRU FOURIE, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Die 2011/2012-produksieseisoen was sonder twyfel een van die Nasionale Oesskat tingskomitee (NOK) se moeilikste jare om produksieskattings daar te stel. Die wisselende reënval het meegebring dat een produsent sy mielies as weiding moes afsny, terwyl sy buurman ‘n bogemiddelde oes behaal het.

Groot debat het tussen produsente, insetverskaffers, handelaars, graanmarkanaliste en ekonome ontstaan oor presies wat die impak van die droogtetoestande op opbrengste is. Alle oë was op die NOK aangesien die bekendmaking van akkurate en tydige inligting ‘n direkte impak op prysvorming in die vrye mark het. Die komitee doen alles in hul vermoë om dan ook seker te maak dat dit die geval is. In hierdie artikel word daar gepoog om te kyk hoe die komitee gevaar het en wat die moontlike redes vir afwykings kan wees.

Verloop van die 2011/2012- produksieseisoen

In Grafiek 1 kan die maandelikse produksieskattingsyfers vanaf die eerste (Februarie) tot die finale oes (September), soos bekend gemaak deur die NOK, gesien word. Die rooilyn dui die finale mielie-oes aan, en die gaping tussen die finale skatting en die maandelikse skattings is duidelik sigbaar. Die onderskatting van die mielie-oes, hoofsaaklik gedryf deur die klimaatsomstandighede, kan op ‘n maandelikse basis opgemerk word.

image

Hoewel die NOK met sy eerste skatting in Februarie weggespring en ‘n mielie-oes van 11,7 miljoen ton beraam het, was die meeste ontleders dit eens dat dit bars sou gaan om eers 11 miljoen ton te haal. Verskeie rolspelers in die mark het geargumenteer dat daar nie eers ‘n mielieoes van 10 miljoen ton gehaal sou kon word nie.

Norm waarbinne die NOK moet skat

In Suid-Afrika het die graanindustrie ‘n norm/grens vir die NOK gestel waarbinne die oesskattings gedoen moet word, naamlik om vanaf die eerste tot die vierde skatting (Februarie tot Mei) nie meer as 8% vanaf die finale oes af te wyk en om vanaf die vyfde tot die sewende skatting (Junie tot Augustus) nie meer as 5% vanaf die finale oes af te wyk nie. Grafiek 1 dui die boonste en onderste aanvaarbare grens aan waarbinne die NOK moet wees. Indien die skatting (syfer) op ‘n groter afwyking as die toelaatbare norm/grens dui, kan daar in retrospek na ‘n oor- of onderskatting verwys word.

In Grafiek 2 kon die afgelope seisoen se skatting vir mielies in totaal, maar ook afsonderlik vir wit- en geelmielies, gedurende Junie, Julie en Augustus buite die gestelde norm/grens geval het. Die pas afgelope seisoen se oesskatting vir mielies is deurentyd laer geskat as dit waarop die oes gerealiseer het, naamlik 11,83 miljoen ton.

image

Objektief versus subjektief

Dit is vir Graan SA saam met die Oesskatting-skakelkomitee (CELC) van kardinale belang dat geloofwaardige skattings vrygestel moet word. Daar word voortdurend na nuwe metodieke en tegnologieë gesoek om ondersteunend tot die huidige sisteem te wees.

Om die korrekte gemiddelde opbrengste te bepaal, is een van die NOK se moeilikste take aangesien klimaat so ‘n groot rol speel. Die komitee maak dus van objektiewe sowel as subjektiewe inligting gebruik om sodoende diverse opbrengsdata uit die verskillende produserende streke te verkry. Hierdie data word dan met mekaar vergelyk en verskillende gewigte word aan hulle toegeken.

Objektief: Hierdie insette is wetenskaplik en statisties van aard en dit moet ‘n gewig van ongeveer 90% tot die skatting bydra.

Subjektief: Hierdie insette is hoofsaaklik van produsente en ander landbou-organisasies en is nie wetenskaplik van aard nie. Die insette word vernaamlik gebruik om die objektiewe insette te evalueer/verifieer.

Soos reeds genoem, poog die komitee om tydens die vyfde skatting, wat Juniemaand vrygestel word, nie meer as 5% vanaf die finale oes af te wyk nie. In Tabel 1 word die persentasie afwyking vanaf die vyfde skatting met die finale oes tussen die objektiewe en subjektiewe data vergelyk.

image

Uit die tabel is dit duidelik dat twee van die vyf seisoene buite die 5% afwykingsdoelwit met die gebruik van objektiewe data; en drie van die vyf seisoene, buite die afwykingsdoelwit met die gebruik van subjektiewe data, geval het. Wat hieruit afgelei kan word, is dat albei bronne van inligting ‘n bepaalde rol speel om akkurate skattings te verseker.

Die twee bronne saam moet dus ‘n meer akkurate skatting daarstel as wat op ‘n afsonderlike basis die geval sou wees.

Gevolglike redes vir die onderskatting

  • Midseisoen droogtetoestande in Februarie en Maart.
  • Droëlandmielies het nie goed op die land vertoon nie, maar beter as verwagte opbrengste het gerealiseer.
  • Toename in besproeiingsoppervlakte teenoor die vorige seisoen (240 500 ha versus 187 450 ha).
  • Besproeiingsopbrengste was baie goed – hoër as verlede seisoen.
  • Dit was ‘n baie moeilike seisoen om die impak van die droogte op opbrengste te bepaal.
  • Opbrengste is in sekere provinsies te laag geskat.

Gevolgtrekking

Die 2011/2012-produksieseisoen sal as ‘n baie uitdagende seisoen vir die verbouing van somergrane onthou word. In die grootste dele van die somerreënvalstreek het lae reënval saam met droë en warm toestande voorgekom en hierdie ondergemiddelde reën het veroorsaak dat die somergewasse in sommige streke nie na wense gegroei en presteer het nie.

Dit moet in gedagte gehou word dat die oppervlakteskatting van die NOK redelik korrek is en dat die opbrengsbepalingsmetodiek dalk verder aandag behoort te geniet. Buiten die objektiewe opbrengsbepaling soos onderneem deur die LNR as deel van die Oesskattingskonsortium, kan opbrengste ook deur gekalibreerde gewasmodelle bereken word.

Wat uit die bogenoemde resultate afgelei kan word, is dat daar nog met baie inisiatiewe vorendag gekom moet word om die produksieskattings te verbeter.

Publication: January 2013

Section: Input Overview

Search