• Login
  • Search Icon

Sierk Ybema — 'n plantfisioloog wat graag sy kennis deel

August 2013

image

LOUISE KUNZ, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Terwyl die meeste mense wegskram van uitdagings omdat die onbekende jou uit jou gemaksone haal, is dit juis hierdie proses van anders dink en aanhou glo dat dit wat jy doen, reg is, wat dr Sierk Ybema een van Suid- Afrika se topgraankundiges gemaak het.

Dr Ybema is in Pretoria gebore en het ná die voltooiing van sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Menlopark, ‘n BSc-graad aan die Universiteit van Pretoria (UP) behaal. Sonder Biologie as matriekvak, was die drie Biologiese vakke in die eerste jaar van sy studies vir hom ‘n reuse-uitdaging. Dit is egter wat sy belangstelling in dié onbekende veld geprikkel het.

“Ek het maar van jongs af die neiging gehad om dinge te doen wat ‘n uitdaging is – iets waarmee ek sukkel, het my tot hoër hoogtes geïnspireer,” voeg hy by.

Nadat hy sy diensplig in die Suid-Afrikaanse weermag afgehandel het, het hy met verdere studies begin en eers ‘n honneursgraad in Plantfisiologie en Mikrobiologie verwerf, waarna hy aan sy MSc begin werk het terwyl hy as junior lektor en navorsingsassistent by die universiteit werksaam was.

Hy het sy meestersgraad in plant- en saadfisiologie onder die leiding van professor JGC Smal (destydse lektor aan die UP) verwerf en tydens sy studies ‘n groot deurbraak gemaak met die ontdekking van ‘n nuwe meganisme van saadontkieming. Kort daarna is hierdie uitvinding tydens die International Seed Testing Association kongres (ISTA) in Kanada deur Smal met ander kundiges gedeel en dr Ybema het ‘n toekenning ontvang vir sy navorsing in hierdie veld. Hierdie erkenning bly vandag nog vir hom een van die hoogtepunte van sy loopbaan.

Tydens sy dienstydperk by die Koringraad het hy aan sy PhD onder professor Albie van de Venter begin werk met ‘n tesis wat oor die probleme in koringsaad gehandel het. As deel van dié studies, moes hy ook nuwe tegnologie ontwikkel en het hy ‘n metode ontdek om saad se kiemkragtigheid te toets.

Ná die voltooiing van sy PhD het hy die Koringraad, waar hy die afdelingshoof van graanbestuur en gradering was, vaarwel geroep en by die span van die LNR-Kleingraaninstituut op Bethlehem aangesluit in die pos van hoofnavorser. Hierdie verandering van werksomgewing, waar hy veral aktief betrokke was in akkerbou, het sy plantkundige horisonne verbreed. Hy het in 1999 die prys as entrepreneur van die jaar by die LNR-KGI ontvang.

Dr Ybema het toe die Vrystaat vir die Noordwes Provinsie verruil en eers na graankwaliteit en waardetoevoeging by die Graanafdeling van Senwes omgesien en is in 2009 as ‘n finalis vir die entrepreneur van die jaar by Senwes genomineer. Hy is later in dieselfde hoedanigheid op kontrakbasis by NWK op Lichtenburg aangestel. Sy kontrak by NWK het aan die einde van April 2013 uitgeloop en hy is nou druk besig om sy eie onderneming, Sierk Ybema Graandienste (SYGD), uit te brei omdat dit vir hom duidelik geword het dat sy kundigheid vir ander tot voordeel kan wees.

SYGD se kliënte is aktief in die graanbedryf, nasionaal sowel as internasionaal, en besigheid word reeds in verskeie Afrikalande asook internasionaal gedoen. Volgens dr Ybema is daar wêreldwyd groot ooreenkomste in die graanbedryf en met sy besoeke aan onder meer Argentinië, China, Europa, Noord-Amerika, Suid-Amerika en Australië het hy gesien dat die Suid-Afrikaanse graanbedryf geensins vir Eerstewêreldlande hoef terug te staan nie.

“Ek het al verskeie kongresse in Europa bygewoon, waar Europeërs by ons oor die graanbedryf kon leer,” noem hy. “Met graderingsontledings word daar na dieselfde kwaliteite gekyk, met afsnypunte wat effens verskil.”

Dit is by die ontwikkelde lande, soos die res van Afrika, waar Suid-Afrika egter kop en skouers uitstaan.

“Ons kundigheid is ver gevorder teenoor dié mense en juis daarom kan ons waardevolle insette in Afrika lewer en hulle help om hul graan beter te bestuur.”

Sy droom om by Afrikabesigheid betrokke te raak, het onlangs vlerke gekry toe hy deur ‘n Amerikaanse organisasie USAID (Trade Hub USA), genader is. Met graanverliese van 30% - 50% in sekere dele van Afrika as gevolg van onder meer onoordeelkundige plaagbeheer en foutiewe stoormetodes, het dié maatskappy besef dat die groot leemte in kundigheid in hierdie ontwikkelende lande aangespreek moet word.

Tans spandeer dr Ybema baie tyd buite die grense van Suid-Afrika in veral Zambië, Malawi en Mosambiek waar hy graanprodusente, pakhuisbestuurders, graanhandelaars asook ander werknemers van Suid-Afrikaanse graanbedrywe wat daar aktief is, op te lei sodat standaarde en graderingsregulasies in plek kan kom. Daardeur sal graan beter bestuur word, wat tot ‘n vermindering in graanverliese sal lei. Opleiding in die gradering van mielies en sojabone word ook verskaf.

“Dit is verblydend om te sien hoe dankbaar en gewillig hulle is oor die hulp wat aangebied is,” voeg hy by. Met sy missie om op ‘n deurlopende basis hoëgehalte produkte en dienste aan die graanbedryf (nasionaal en internasionaal) te voorsien, hoop hy om ook in die Afrikalande die sisteem van standaarde reg te stel.

Dr Ybema is egter ook nog op groot skaal betrokke by die Suid-Afrikaanse graanbedryf en bied onder meer kursusse in gradering, graanbestuur en beroking asook mielie- en koringopknappingskursusse regoor Suid- Afrika aan. Volgens hom is standaardisasie in die graanbedryf uiters belangrik en daarom help hy reeds vir etlike jare om Suid- Afrikaanse graderingsregulasies in plek te kry. Hy noem dat hoe meer kompleks die verwerking van ‘n graan is, hoe meer kompleks is die gradering daarvan.

Hy was in 2012 betrokke by die herskrywing van die mielie-uitvoerregulasies om dit in lyn met binnelandse regulasies te bring. Saadmaatskappye maak ook op ‘n gereelde basis van sy kundigheid gebruik vir kultivaridentifikasie, suiwerheid en om swak prestasie te ondersoek.

SYGS se visie is om die graanbedryf te bevorder en tot so ‘n mate te beïnvloed dat optimale standaarde in die voorsiening van produkte en dienste bereik en in stand gehou word. Dit is waarom opleiding verskaf word in verskeie graansoorte, waaronder kanola, gars, mielies, hawer, rog, sorghum, sojabone, sonneblom, koring en mielies. Opleiding in ander areas soos beroking en plaagbeheer, graanbestuur, steekproefneming en kultivaridentifikasie word hierby ingesluit.

Die kundigheid van hierdie graankenner word ook gereeld ingewin vir die hantering van dispute en vir regsverteenwoordiging in graanverwante geskille. Hy moes al telkemale as deskundige getuienis in die Hoog ge regs hof lewer, waar eise teen saadmaatskappye ingestel is.

Hierdie uitdaging het hom laat besef dat hy dalk as jong man ‘n toekoms in die regte kon oorweeg het as die plant-gogga hom nie gebyt het nie. Van sy meer kommersiële artikels verskyn ook gereeld in landboukundige publikasies.

Waarom vind hy grane so interessant? “Omdat soveel verskillende faktore die eindproduk beïnvloed,” antwoord hy dié vraag.

Met elke gewas wat bepaalde faktore het waarna produsente moet oplet, is hy baie simpatiek teenoor graanprodusente, juis omdat hul nie beheer het oor toestande soos droogte en temperature nie. Dit is ook waarom hy sterk voel dat graderingsregulasies nie te negatief moet wees nie.

“Daar moet byvoorbeeld nie onnodige standaarde wees wat ‘n produk afgradeer sodat dit vir die produsent nadelig is nie,” voeg hy by. Hy noem ook dat die reuse-vordering wat in tegnologie gemaak word met byvoorbeeld infrarooi-toerusting, dié veld nog meer opwindend maak.

“Met infrarooi-toerusting het jy net goeie monsters nodig om ‘n goeie kalibrasie mee op te stel en dan is die moontlikhede oneindig.”

image

Daar was verskeie hoogtepunte in sy loopbaan: Die feit dat hy op ‘n jong ouderdom aan die stuur van sake was by die graanbestuur- en graderingsafdeling van die Koringraad; die opening van sy eie onderneming se deure en die geleentheid wat die Amerikaanse maatskappy aan hom gebied het om tans op Afrika-besigheid te fokus.

Omdat grane sy loopbaan is, boer hy met wild op ‘n stukkie grond in die Oos-Vrystaat en nie met gewasse nie. Hy is ook ‘n ywerige stapper, wat reeds die gewilde Otterstaproete in die Suid-Kaap aangedurf het. Ander belangstellings sluit in die versameling van oudhede en skilderye en hy luister graag na goeie musiek, soos klassieke rock.

Dr Ybema is in 1981 met Anita getroud en hulle het twee dogters en ‘n seun. Anita en hulle seun, Jan, is deel van die span van SYGD en help met administrasie, bemarking, die opstel van handleidings en die aanbieding van opleidingsessies.

Hierdie nederige graankundige skryf sy sukses toe aan sy sterk waarnemingsvermoë, die feit dat uitdagings hom nie lamlê nie en sy lewensleuse: “Pak dit wat op jou pad kom met entoesiasme aan.” Hy gee nie om om te waag nie, want dit is hierdie uitdagings wat sy lewe verryk.

Publication: August 2013

Section: Other Articles

Search