• Login
  • Search Icon

Sewe-stap miljoenêrsplan vir dames

November 2017

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker

Dit is moontlik om in ‘n gebroke wêreld sprankelend te leef. Met hierdie boodskap het Monsanto hul kliënte se vroue sielskos gegee by die jaarlikse vrouedae wat op Lichtenburg, Wolmaransstad, Bethlehem, Heidelberg en Middelburg aangebied is. 

Elke vrou is ook bederf met ‘n geskenk, kos en dekor uit die boonste rakke en strelende harpmusiek van Christy-Lyn, wat deel­-
geneem het aan vanjaar se nasionale sangkompetisie, The Voice South Africa

Me Milanie Vosloo, sakevrou en skrywer, wat jaarliks saam met Monsanto die vrouedae aanbied, het tydens haar verwelkoming aan die dames gesê dat jy nie kraakvry hoef te wees nie. “Om te sprankel hang nie af van ‘n volmaakte wêreld nie. Moenie teen die vloei van die lewe baklei nie, want jy gaan net spartel. Al wat jy moet doen, is om te bly in die vloei van ‘n volmaakte God,” het sy gesê.

Die gasspreker, me René du Preez, ‘n finansiële adviseur, het gesels oor wat ‘n miljoenêrsvrou tipeer. Sy het gevra: “Hoeveel dink julle sou Steve Jobs (stigter van Apple), wat ongeveer 8 miljard dollar gehad het toe hy dood is, betaal het vir meer tyd saam met sy gesin?” Almal was dit eens dat hy al die geld of nog meer sou wou gee.

Du Preez se sewepuntplan vir vroue is soos volg:

  • Skryf jou doelwitte neer.
  • Ontwikkel die regte geloof en gewoontes.
  • Bepaal jou kennis, kundigheid en vaardighede, strategieë en taktiek om jou doelwitte te bereik.
  • Kry die regte ondersteuning.
  • Neem die eerste stap in jou plan.
  • Evalueer jou resultate en verander jou gedagtes en aksies.
  • Geniet jouself en deel jou suksesresep met ander.

Deel van om sprankelend te wees, is om terug te gee aan die gemeenskap. Me Magda du Toit (korporatiewe kommunikasiebestuurder, Monsanto SA) het gesels oor die ontwikkelingsprojekte wat onder die nuwe sambreelprogram, imbewu, sorteer. Dit sluit onder andere in: Besigheidsontwikkeling (Buhle Farmers Academy), vaardigheidsopleiding (Graan SA ontwikkelingsprojek) en sosiale ontwikkeling (Khulisa Social Solutions, werkskadu, boomplantdae, sportbyeenkomste, ʼn bussieprojek en Mandeladag). 

‘n Ontwikkelingsprojek vorm jaarliks deel van die vrouedae. Die dames wat dit bywoon, het al oor die jare komberse, blikkieskos, skryfbehoeftes en toiletware vir minderbevoorregtes ingesamel. Verlede jaar is besluit om ‘n studiebeurs vir ‘n landboustudent te gee en R10 000 is aan mnr Chris van der Merwe geskenk om ‘n honneursgraad in landbouekonomie aan die Vrystaatse Universiteit te voltooi. Meer inligting oor die 2017-ontwikkelingsprojek sal later bekend gemaak word.


 

Publication: November 2017

Section: Relevant

Search