• Login
  • Search Icon

Seisoenale voorspelling vir die herfs en winter in Suid-Afrika

April 2017

COBUS OLIVIER, wetenskaplike: Voorspellingsnavorsing, Suid-Afrikaanse Weerdiens

Die huidige seisoenale voorspelling strek vanaf Maart tot Julie 2017 en is in Februarie vanjaar uitgereik. Die volgende voorspelling, wat sal strek vanaf April tot Augustus 2017, sal teen die einde van Maart vanjaar beskikbaar wees.

Daar is twee belangrike aspekte van die huidige voorspelling waarop gefokus moet word, naamlik die El Niño Suidelike Ossilasie (ENSO) en sy verwagte impak op die volgende somerseisoen (2017/2018), asook die herfs- en wintertoestande vir die winterreënvalgebiede.

Die ENSO is ‘n groot interaksie tussen die Stille Oseaan en die atmosfeer, wat globale weerpatrone kan affekteer wanneer dit tussen spesifieke fases ossilleer. Vir Suid-Afrika kan dit die oorsaak van ʼn droër El Niño-fase, of natter La Niña-fase, oor die somerreënvalgebiede wees.

Dit is belangrik om in ag te neem dat ENSO nie ‘n effek op die winterreënvalgebiede het nie, so daar word geen spesifieke impak op die herfs en winter vanaf hierdie stelsel verwag nie. Nietemin is daar op die oomblik ‘n aanduiding dat daar dalk ‘n El Niño-fase teen die tyd wanneer die volgende somerseisoen begin, verwag kan word.

Daar is egter groot onsekerheid wat die verwagtinge vanaf ENSO betref só ver vooruit, daarom stel ons voor dat die stelsel en sy voorspelling in die toekoms gevolg word en belangrike besluite eers geneem word wanneer daar meer sekerheid oor die stelsel is.

Gewoonlik is daar teen Augustus beter inligting oor hoe die ENSO-stelsel Suid-Afrika se weerpatrone sal affekteer.

Die volgende belangrike fokuspunt vir die huidige seisoenale voorspelling is natuurlik die herfs- en winterklimaatsomstandighede.

In Suid-Afrika is dit net die suidelike en suidwestelike gedeeltes van die land wat noemenswaardige reënval kry, alhoewel temperatuur op ‘n nasionale vlak belangrik is. In terme van temperatuur, word daar warmer toestande vir die grootste gedeelte van die land in die herfs- en winterperiode verwag.

Daar is ‘n aanduiding dat die einde van herfs koeler kan wees vir die suidwestelike gedeeltes van Suid-Afrika, wat kan aandui op beter reënvalsyfers vir die winterreënvalstreke.

Wat die reënvalvoorspelling betref, word daar nie veel verwag vir die somereënvalgebiede nie, aangesien die seisoen vinnig tot ʼn einde kom. Vir die winterreënvalgebiede toon die voorspellings optimistiese aanduidings vir die oostelike gedeeltes van die Wes-Kaap en westelike gedeeltes van die Oos-Kaap. Gepaard met die temperatuurvoorspellings is daar ‘n aanduiding dat die winter reënvalgebiede geïsoleerde bo-normale reën in die laat herfs kan kry.

Dit is baie belangrik dat die onsekerheid van die bostaande verwagtinge beklemtoon word. Wintervoorspellings deur die huidige voorspellingstelsels bereik baie lae vaardigheidsvlakke oor die grootste gedeelte van Suid-Afrika. Voordat enige belangrike besluite geneem word, word produsente sterk aangeraai om die Suid- Afrikaanse Weerdiens te nader sodat die beste en nuutste inligting gebruik word.

Publication: April 2017

Section: Relevant

Search