• Login
  • Search Icon

SANSOR se 25ste bestaansjaar tydens hul jaarkongres gevier

June 2014

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) het van 19 tot 21 Mei hul jaarlikse kongres gehou waartydens die organisasie sy 25ste bestaansjaar gevier het.

SANSOR is in Maart 1989 gestig toe bestaande saadhandel assosiasies geamalgameer het. Die organisasie verteenwoordig die Suid-Afrikaanse saadbedryf plaaslik en internasionaal.

‘n Nederige begin vir SANSOR

In 1988 het ‘n groep van vyf ware visionêre persone bymekaar gekom om verskeie idees oor die vorming van ‘n nuwe saadorganisasie te bespreek. Die stigterslede van hierdie organisasie was mnr Ian Jarvie (Pioneer [Pannar]), dr Tobie Wickens (Sensako), mnr Mike Zingel (Mayford), mnr Ed Jordan (Kirchhoff) en mnr Koos Wolmarans (Multa Seed).

In September 1988, het Jarvie vir dr Wynand van der Walt genader om op te tree as die eerste algemene bestuurder van SANSOR met mnr Pine Pienaar as tegniese bestuurder verantwoordelik vir administrasie en monitering van die Suid-Afrikaanse Saad Sertifiseringskema.

Op 14 Junie 1989 is SANSOR geregistreer as ‘n Artikel 21 maatskappy en hul kantore is op 3 Julie 1989 geopen. Die doel van die maatskappy was om op te tree as 'n bedryfsorganisasie vir maatskappye wat saad hanteer en handel dryf in Suid-Afrika; om gereeld met die regering kontak te maak tot voordeel van sy lede; om geleenthede te skep in internasionale markte; en om die Suid-Afrikaanse sertifiseringskema oor te neem en te bestuur op eie koste op versoek van die regering.

image

Die 25ste kongres

Behalwe vir die verskillende divisies se jaarverslae wat tydens die kongres gedien het, het me Lisa Coetzee en mnr Clem Sunter ook as gassprekers opgetree. Coetzee, 'n meestersstudent aan die Universiteit van die Vrystaat, het ‘n jeugperspektief oor landbou gegee en die belangrike rol wat dié sektor in die samelewing speel, beklemtoon.

Sunter het soos oudergewoonte gepraat oor ekonomiese en politieke drywers in die ekonomie, internasionaal en plaaslik, en ook bespreek wat nodig is om ekonomiese groei te stimuleer. Hy het die volgende drie faktore as mega- of reuse-tendense in die wêreld geïdentifiseer:

image Die veroudering van die wêreld se populasie
Die wêreld se lewensverwagting het oor 'n tydperk van ‘n 100 jaar verdubbel. Dit het tot gevolg dat die persentasie van ouer mense in Europa en lande soos Japan, meer word en dit plaas druk op hierdie ekonomieë.

Klimaatsverandering
Lande oor die wêreld stem nie saam oor klimaatsverandering en die stappe wat geneem moet word om die impak daarvan te bestuur nie.

Die veranderende manier van werk in die wêreld
Die nuwe tendens in die wêreld is dat mense nie opgelei word om in die normale werksmag in te val nie, maar eerder om werk te skep.

SANSOR-hoogtepunte van die afgelope jaar

  • Die ontwikkeling van ‘n webgebaseerde saadsertifikasie-sisteem vir ‘n vinniger, papierlose, aanlyn-sertifikasiesisteem.
  • Die onwikkeling van ‘n elektroniese webgebaseerde saadverkope-databank vir saadstatistieke.
  • Die uitdaging van onwettige saadverkope en die terughou van saad, was die insentief agter ‘n samewerking tussen Graan SA en SANSOR om ‘n werkgroep te vorm om ‘n werkbare end-point royalty-sisteem te ontwikkel.

     

Leierskap in SANSOR

Dr Lukeshni Chetty is SANSOR se algemene bestuurder, terwyl Gert Heyns van Monsanto en Willem Engelbrecht van K2Agri onderskeidelik as voorsitter en visevoorsitter van SANSOR vir die nuwe jaar verkies is.

Publication: June 2014

Section: Input Overview

Search