Previous Page  106 / 108 Next Page
Information
Show Menu
Previous Page 106 / 108 Next Page
Page Background

104

Beste Grootneef

d

ie winter is weer soos van ouds – met yskoue nagte

en spierwit ryp soggens oor die Vrystaat se vlaktes

gestrooi. Al die brommers en vlieë is na die gogga-

hiernamaals. Nóú kan ons bees slag!

Ou Neef, suinigheid is ‘n deug by enige goeie gade.

Soveel te meer waar meet en pas vir ‘n huishouding ‘n fyn kuns

geword het.

Die wik en weeg vir die volgende seisoen se mielieplantery is

egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Met ‘n geskatte insetkoste van

R9 800/ha in ons wêreld en ‘n Julie’19 Safex-prys van R2 350,

beteken dit rofweg dat jy ten minste 4 t/ha moet stroop om gelyk

te breek. Met boerpryse na al die aftrekkings, raak die som nóg

moeiliker. Gegewe die gemiddelde opbrengs in ons omgewing,

is die gelykbreek wat ons moet realiseer ongemaklik naby

aan die risikolyn. Die besluit om in die nuwe seisoen te plant

of nie te plant nie, is soos ‘n klitsgras in jou kous. Jy is heeltyd

bewus van die ding, maar kry hom net nie uit nie.

Ou Neef, ek lees egter in die Volk se blad, hoe maklik

onse ministers oor groot geld praat. Enorme bedrae

word rondgestrooi asof dit ‘n hoop stronke agter

‘n dorsmasjien is wat net nie kan opraak nie. So

kondig die Minister van Vliegmasjiene aan dat ‘n

addisionele R5 miljard aan die SAL bewillig word,

sodat dié mank besigheid sy verpligtinge kan nakom.

En die Departement van Wetenskap en Tegnologie

se stuiwer in die armbeurs, was dat R2,2 miljard oor

die volgende drie jaar op die radioteleskoop-projek

noord van Sutherland uitgegee gaan word. Blykbaar

om die oerknal in die hemele op te spoor.

Buurman sê die goewerment mik te hoog. Want

niks van die miljarde rande aan vliegtuie of radio­

teleskope, sal ‘n verskil aan aardbewoners se sa­

ligheid maak nie. Wie op dees aarde wil in elk

geval ‘n lugdiens hê wat in die laaste dekade net

verliese losgevlieg het? Selfs die Springbokke

het onlangs verkies om met Ethiopian Airlines na

Washington te vlieg!

Ou Neef, wat nog te praat van oerknalle in die ruimte

soek? As hulle nou so ‘n knal gevang het, wat maak

ons met die ding? Dit sal nie ‘n jota of ‘n tittel verskil

maak aan enige huishouding wat raap en skraap om

te oorleef nie. Dalk sal ‘n oerknal ‘n paar wetenskap­

likes se fisika-ego streel, maar is daar rand en sent-voordeel vir die

gewone aardbewoner uit die SKA-projek?

Buurman sê die goewerment moet aarde toe mik met hul

geldkanonne. Met die geld wat op vliegtuie en geluide uit die

ruimte “bewillig” word, kan die staat al die grondkwellings

oplos – titelaktes en al. Die Staat het vanjaar R10,425 miljard

vir grondhervorming geoormerk. Voeg nou hierby die SAL se

R5 miljard-meevaller en die ruimte-antennas se R2,2 miljard en

jy het so ‘n hoop geld bymekaar dat stoorgeld daarop betaal

moet word. Dan kan die goewerment grondhervorming afhandel

sonder om een hektaar sonder vergoeding te onteien.

Ou Neef, wat in die volgende ses maande in die Suidland op die

grond gaan gebeur, is vir ons aardbewoners van lewensbelang. ‘n

Oerknal ligjare weg in die verre verskiet, traak ons nie eintlik nie.

Groete op die Oosgrens! Skiet eerder amper mis as amper raak.

Kleinneef

e-posse

aan Groot neef

Die oerknal traak

ons nie eintlik nie

Lesers is welkom om ‘n e-pos na Kleinneef te stuur by

kleinneef@graingrowers.co.za.

Julie 2018