• Login
  • Search Icon

Saadpryse vir die 2012/2013-somergraanproduksieseisoen lyk só

July 2012

CORNÉ LOUW, SENIOR EKONOOM: BEDRYFS DIENSTE, GRAAN SA EN PETRU FOURIE, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Uit die veld word al meer klagtes van graanprodusente ontvang oor die toenemende koste van saad. Graan SA is op ‘n gereelde basis in gesprek met saadmaatskappye oor hierdie bekommernisse. Die vraag is of graanprodusente op ‘n stadium gaan kom waar hul weerstand gaan bied teen hoë en deurlopend stygende saadpryse.

Graan SA het hierdie jaar weer saadpryse by die verskeie saadmaatskappye verkry. Op ‘n gemiddelde basis het mieliesaadpryse met 6,3%, sojaboonsaadpryse met 9,6%, sonneblomsaadpryse met 3,7% en graansorghumsaadpryse met 8,4% teenoor die vorige seisoen gestyg.

Dit is belangrik om kennis te neem dat dit nie geweegde gemiddeldes is nie. Die Produksie-insetwerkgroep van Graan SA, se prysmonitor van gewilde mieliesaadkultivars toon egter dat pryse van gewilde mieliesaad met gemiddeld 9,4% gestyg het.

Sien die meegaande tabelle vir prysvergelykings tussen verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgroottes en saadbehandelings.

Dit is ook raadsaam om nie net een kultivar vir die totale aanplanting te gebruik nie.

Riglyne met die aankoop van saad

Met die aankoop van saad is daar ‘n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan:

  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, naamlik in 15 kg, 20 kg en 25 kg sakkies of in pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook 15 kg, 150 000 en 180 000 pitte per sakkie verpakkings beskikbaar.
  • Die nuwe kultivars is merendeels die duurder kultivars. Verseker dat die kultivars onafhanklik deur die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) getoets is en dat die prestasie bewese is. Moenie onnodig groot risiko’s met ‘n nuwe kultivar loop nie!
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe, aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en -stabiliteit, kwaliteitseienskappe en siekteen plaagweerstand van ‘n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word. Raadpleeg die LNR-IGG se 2012 Mielie Inligtingsgids-handleiding (MIG) of die betrokke kundiges.
  • Met aankope, maak seker dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes, ook aan dit wat op die sakkie staan voldoen, veral ten opsigte van die eenvormigheid van pitgrootte en pitvorm.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dubbelgeen-kultivars) aangekoop word, maak seker dat die tegnologiefooi by die pryslys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word.
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ‘n verskil aan die prys maak.
  • Beding vir kortings waar moontlik.
  • Ten laaste, kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.

Behandeling van saad

Saadmaatskappye het besluit dat hul nie meer gaan instaan vir die kwaliteit van saad indien saadbehandeling nie deur die saadmaatskappy self of deur ‘n geregistreerde chemiese verskaffer wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO geakkrediteer is, gedoen word nie.

In die geval waar ‘n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die kieming beïnvloed nie. Die chemiese middel wat gebruik word, moet ook onder Wet 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit.

Dit word dus aanbeveel dat produsente wat nie saad aankoop wat reeds behandel is nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies

Met die aankoop van Bt-saad, word ’n tegnologie-ooreenkoms onderteken, waarin ‘n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ‘n toevlugsarea in.

Daar is twee opsies wat gevolg kan word: óf ‘n 5% aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie, óf ‘n 20% aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas word.

Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies aangeplant, uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20% opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies dus uit 20 ha nie-Btmielies en 80 ha Bt-mielies bestaan.

Toevlugsareas moet so geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ’n toevlugsarea aangeplant word nie. Toevlugsareas moet uit nie minder as ses rye bestaan nie.

Mieliesaadpryse

Link Seed en Agricol

image

Pannar

image

Pioneer

image

Monsanto en K2 Agri

image

Graansorghumsaadpryse

Pannar en Agricol

image

Sonneblomsaadpryse

Pannar en K2 Agri

image

Pioneer en Agricol

image

Sojaboonsaadpryse

Pioneer, Pannar en Link Seed

image

Publication: July 2012

Section: Input Overview

Search