• Login
  • Search Icon

SA Ploegkampioenskappe suksesvol by NAMPO bekend gestel

August 2012

YOLANDI DONALDSON, BEMARKINGSBESTUURDER, TUBESTONE

Die jaarlikse Suid-Afrikaanse Ploegkompetisie deur Tubestone, in samewerking met Graan SA en BKT, is hierdie jaar by Graan SA se NAMPO Oesdag amptelik en suksesvol bekend gestel.

Die Wêreld Ploegkampioenskappe is een van die mees belangrike geleenthede op die Europese landboukalender. Alhoewel daar reeds sedert 1929 verskeie ploegkompetisies plaasgevind het, is geen formele kompetisie gehou tot en met 1953 nie. Dié het plaasgevind in Kanada, ná sewe jaar se noukeurige beplanning.

Sedertdien het die Wêreld Ploegkampioenskappe gegroei vanaf slegs ‘n handjievol deelnemers tot vandag, waar 58 lidlande deelneem en jaarliks elk twee deelnemers stuur. Een deelnemer in die konvensionele ploeg-afdeling en een in die oorslagploegafdeling. Slegs Kenia en Zimbabwe het al die Afrika-kontinent verteenwoordig by die wêreldkampioenskappe.

Tubestone het die geleentheid gesien om betrokke te raak by hierdie unieke sport. Suid-Afrika se landbou-ontwikkeling en vooruitstrewing is van uiterste belang en professionele ploeg is ‘n manier vir Suid-Afrika se jongmense om op ‘n prettige manier terug te keer na hierdie vaardigheid. Moet egter nie dink dit is net vir die jongklomp nie. Dít is wat kompetisieploeg nog meer uniek maak: Enigiemand kan deelneem en sukses behaal.

Die Suid-Afrikaanse Ploegkompetisie is hierdie jaar by NAMPO bekend gestel deur demonstrasies wat gelewer is deur professionele ploeërs vanuit Noord-Ierland en Skotland. Hul indrukwekkende getuigskrifte spreek vanself.

Mnr William Hood is die voorsitter van die Wêreld Ploegorganisasie, mnr Ronald Coulter is ‘n wêreldploegkampioenafrigter, mnr David Gill is ‘n voormalige wêreldkampioen in 2007 en Andrew Mitchell is die jongste persoon wat nog die wêreldkampioenskap gewen het – in 2006, op ‘n skrale 17-jarige ouderdom. Dit is duidelik dat slegs die beste aanbieders goed genoeg was om hierdie besonderse nuwe sport aan Suid-Afrikaners
bekend te stel.

‘n Legende in die ploegkompetisiewêreld, mnr Roy Fuller, het twee Kverneland ploeë aan ons geleen. Twee John Deere 5503 trekkers is deur Senwes beskikbaar gestel en ná ‘n paar aanpassings en die hulp van mnr Hannes Smit, ‘n veteraantrekkergeesdriftige, was die trekkers en ploeë op kompetisie-standaard.

Daar is elke dag twee demonstrasies gelewer waarna besoekers die kans gekry het om self te probeer ploeg. Die belangstelling van die publiek was oorweldigend en meer as 100 mans, vrouens en kinders het deelgeneem. Hierdie was vir ons ‘n aanduiding dat Suid-Afrika waarlik gereed is vir ‘n nasionale ploegkompetisie.

Alle deelnemers het ‘n inskrywingsvorm ingevul en by die Tubestone-stalletjie ingehandig. Elke oggend om 10:00 en elke middag om 14:00 is daar ‘n aantal name getrek en hulle het ‘n kans op die ploegveld gekry.

Nadat die week verby is, is al die inskrywings vorms bymekaargegooi vir ‘n kompetisie wat ons aangebied het. Mauritz Engelbrecht was die gelukkig wenner en ons is baie opgewonde om hom en sy metgesel die geleentheid te gee om die Wêreld Ploegkampioenskappe in Kroasië, met komplimente van Tubestone, by te woon.

Die volgende stap is om streeksuitdunne te hou wat regoor die land aangebied gaan word. Verskeie plaaslike ploegkompetisie-veterane gaan bystand verleen by die nasionale uitdunne asook in die opleiding en beoordeling. Ons wil verseker dat Wêreld Ploeg kampioenskapstandaarde gehandhaaf word. Tubestone personeel gaan ook opgelei word in beoordeling om te assisteer in die kompetisie. Die wenner en opvolgers van elke streekskompetisie sal die finaliste uitmaak wat sal meeding vir die kroon as die eerste Suid-Afrikaanse Ploegkompetisiekampioen by NAMPO 2013.

Dit is ons plan om dan die wenner te stuur na die Wêreld Ploegkampioenskappe in Kanada 2013, as besoeker, nie deelnemer nie. Ons wil die wenner die kans gun om te oefen en voor te berei vir Suid-Afrika se eerste deelname aan die Wêreld Ploegkampioenskappe in Frankryk in 2014.

Na aanleiding van die talent en belangstelling wat ons hierdie jaar aanskou het, is ons ongelooflik positief en is ons vermoede dat Suid-Afrika gereed is vir kompetisieploeg, bevestig.

Die reëlings en verdere detail van die uitdunne sal onder andere op Tubestone se webtuiste, www.tubestone.co.za, beskikbaar wees. Vir meer inligting, kan Rudi du Toit, Tubestone ploegkompetisie-organiseerder, gekontak word by 079 517 3966 of (041) 486-3879.

image

Publication: August 2012

Section: Input Overview

Search