• Login
  • Search Icon

Vroue in landbou: Prof Maryke Labuschagne

August 2013

image

ESTIE DE VILLIERS, ASSISTENT-REDAKTEUR: SA GRAAN/GRAIN

“Nou is sekerlik ‘n kritieke tyd vir landbou in Suid-Afrika met kwessies rondom arbeid, die herverdeling van grond en onsekerheid op ‘n aantal vlakke,” val prof Maryke Labuschagne sommer met die deur in die huis as SA Graan/Grain haar vra wat haar, as ‘n wetenskaplike, se siening oor die huidige situasie van Suid-Afrikaanse landbou is.

“Daar is reeds samesprekings tussen die formele en informele landbousektore om ‘n klomp van hierdie knellende kwessies aan te spreek. Ek dink tog daar is ‘n besef van hoe noodsaaklik dit is om saam te werk om kommersiële en opkomende produsente toe te rus om uit te kom by die besigheid van voedselproduksie. Suid-Afrika se populasie groei jaarliks en ons geldeenheid is op ‘n laagtepunt,” sê sy.

“Ons kan nie bekostig om voedsel in te voer nie. Ons moet alle Suid- Afrikaanse produsente bemagtig om vir Suid-Afrika kos te produseer en as daar ‘n oorskot is, ook ’n uitvoerder van voedsel te wees.”

Uitdagings wat aangespreek moet word

Op ‘n vraag oor watter uitdagings sy vandag in landbou sien en hoe sy voorstel dit aangespreek word, antwoord sy: “Uit ‘n wetenskaplike standpunt lyk dit vir my of daar nie genoeg jong mense by landbou betrokke is nie. Dit is asof jong mense nie meer landbou as ‘n loopbaan oorweeg nie. As ons meer jeug kan oplei om produsente, landbouentrepreneurs, voorligters en navorsers te wees, kan ons die volgende generasie van kosproduseerders vanaf die plaas tot by die verbruiker voorsien. “Miskien is dit tyd dat ons landbou aan die jeug moet bemark. Hulle moet oortuig word dat hulle ‘n daadwerklike verskil aan die land kan maak deur by landbou betrokke te raak en in die proses kan hulle ‘n goeie loopbaan vir hulself skep,” sê prof Maryke.

“Dan is nog ‘n kritieke faktor die opleiding van opkomende produsente. Daar is geen sin daarin om vir ‘n persoon grond te gee en te sê hy moet boer as hy dit nog nooit voorheen gedoen het nie. Grondhervorming en opleiding moet hand aan hand gaan.

“Opkomende produsente moet opleiding ontvang en dan gementor word om hulle te help om suksesvolle produsente te word. Boerdery het ‘n taai beroep geword om winsgewend te bedryf en vir opkomende produsente is dit nog meer so,” benadruk sy. Volgens prof Maryke het sy as ‘n planteteler ‘n groot bekommernis oor die veranderende klimaat. “Ons moet nou al werk aan kultivars wat hitte- en droogte-tolerant is. Genetiese verbetering van gewasse vir hitte- en droogte-toleransie word reeds baie suksesvol gedoen. Dit moet ‘n prioriteit wees vir al ons stapelgewasse in die land. Daar word reeds werk op dié gebied gedoen, maar landbounavorsers moet finansieel ondersteun word om navorsing en ontwikkeling op ‘n groot skaal te doen sodat alle produsente in komende jare toegang sal hê tot saad van kultivars wat aangepas sal wees by hoër temperature en droogtetoestande,” is sy van mening.

Oor tien jaar

En haar siening van die toekomstige rol van die landbou in Suid-Afrika? “Almal moet eet, so landbou se rol gaan kritiek bly. Soos ek reeds genoem het, gaan Suid-Afrika warmer en droër raak en deurlopende navorsings- en genetiese verbetering van gewasse moet gedoen word. Daar is ook nou in Afrika ‘n beweging in die rigting van genetiese verbetering van gewasse vir voedingswaarde. So word quality protein maize in ‘n aantal Afrika-lande gepromoveer, omdat dit voedingswaarde gelykstaande aan melk het.

“As ons nuwe kultivars kan ontwikkel wat saam met al die gewone eienskappe ook verbeterde voedingswaarde het, kan ons ‘n groot verskil aan veral arm gemeenskappe en bestaansboere op vernaam die platteland maak.” Volgens haar word daar tans ook baie navorsing gedoen op hoë beta karoteen mielies, rys en cassava. Beta karoteen is ‘n voorloper in vitamien A, wat blindheid help voorkom in veral arm gemeenskappe. Ons is in Suid-Afrika ook hiermee besig, maar dit moet op hoë vlak deur die regering ondersteun word. Die tegnologie en die kennis is in Suid-Afrika beskikbaar.”

Voedselsekerheid – niks is belangriker as dít nie

Prof Maryke is van mening dat daar nie iets is wat belangriker is as voedselsekerheid nie. “Geen mens kan funksioneer op ‘n leë maag nie. Honger mense is ongelukkige mense. Dit is hoekom daar ‘n strategie moet wees, wat die hoogste prioriteit geniet en wat insluit opleiding in landbou, navorsing en ontwikkeling, die ontwikkeling, vestiging en ondersteuning van opkomende produsente en die optimale ondersteuning van ons kommersiële produsente.”

En hoe sien sy die rol van die regering in voedselsekerheid in Suid-Afrika? “Suid-Afrika moet selfvoorsienend wees in terme van voedselproduksie. Ons kan nie bekostig om ‘n invoerder van voedsel te wees nie. Dit is die regering se plig om ‘n gunstige omgewing vir die voedselproduseerders te skep en hulle te ondersteun in terme van by voor beeld verlaagde insetkoste (soos belasting op diesel) en om infrastruktuur te skep om produksie te stimuleer.

“Opkomende produsente moet ook ondersteun word met opleiding en mentorskap; en dit is baie belangrik dat die regering landbounavorsing ondersteun, want sonder navorsing, kan daar nie vooruitgang wees nie,” sluit prof Maryke die gesprek af.

  • Prof Maryke Labuschagne is hoof van die afdeling Planteteelt in die departement Plantwetenskappe by die Universiteit van die Vrystaat.
  • Sy verteenwoordig Suid-Afrika by die American Association for Cereal Chemists International en dien op die sub-komitee vir Geneties Gemodifiseerde Gewasse van die regering.
  • Sy is in 2012 as Graan SA se Graanweten skaplike van die Jaar aangewys.

Publication: August 2013

Section: Other Articles

Search