• Login
  • Search Icon

Vroue in landbou: Preline Swart

August 2013

image

ESTIE DE VILLIERS, ASSISTENT-REDAKTEUR: SA GRAAN/GRAIN

Preline Swart is ‘n ontwikkelende graanprodusent wat op Elim in die Suid-Kaap saam met haar man, Ralph, en hulle twee seuns, Jacques en Leaan, boer. Die twee kleiner kinders, Charmile (11) en Hope (4), boer glo net so kliphard saam. Sy is lid van Graan SA en het ook vanjaar Graan SA se Kongres bygewoon – wat vir haar ‘n groot eer was.

Sy is opgewonde en positief oor die huidige landbousituasie in Suid-Afrika.

“Ek voel dat daar verseker baie geleenthede in die Suid-Afrikaanse landbou is. Dit is vir my belangrik dat ons daarin slaag om alle grond in die land produktief aan te wend en só op ‘n volhoubare en produktiewe manier kan boer.”

Volgens Preline is hulle grootste uitdaging op dié stadium om hulle eie plaas te bekom. Hulle huur grond by die Morawiese Kerk op Elim en het ook grond van hulle eie te Spanjaarskloof (‘n buurplasie van Elim).

“Weens die hoë pryse van grond in ons area, is dit baie moeilik om grond te koop. Die gaping tussen die markwaarde en produksiewaarde van landbougrond in ons gebied is baie groot.

“Ander uitdagings wat ons in die gesig staar, is die konstante toename in insetkoste en ons moet gedurig opbrengs jaag om sodoende winsgewend te kan bly produseer. Die jaarlikse stygings wat hoër as inflasie is, verminder ons as produsente se winsgewendheid.”

Volgens Preline is die gebrekkige koördinasie tussen staatsdepartemente, wat met die beleide gemoeid is, ‘n verdere uitdaging asook gebrekkige ondersteuning aan landbounavorsing in Suid-Afrika. En nog uitdagings wat ontwikkelende produsente in die gesig staar?

“Meer fondse word belowe, maar dit kom net nie by die produsent uit nie. En gebrekkige infrastruktuur – daar is beloftes van verbetering vanaf die staat waarop landelike gemeenskappe steeds wag,” antwoord sy.

Tien jaar van nou af

“My siening is dat landbou die steunpilaar van Suid-Afrika is en verseker ook van alle lande in die wêreld. Ons moet deur die landbou daarin slaag om aan alle landsburgers genoeg en bekostigbare voedsel te voorsien. Dit sal net kan gebeur as ons alle landbougrond produktief kan aanwend.

“Ons sal dit regkry deur die ontwikkelende en kommersiële landbousektore saam te laat funksioneer en sodoende by mekaar te leer. As ons in dié doelwitte slaag sal ons ‘n vreedsame samelewing in Suid-Afrika kan geniet,” sê Preline.

Voedselsekerheid

“Voedselsekerheid is die belangrikste komponent van ‘n vreedsame land en landsburgers. Ons sal ten alle tye al ons planne moet maak rondom die raamwerk van genoeg bekostigbare voedsel vir almal.”

Preline glo dat hulle as ontwikkelende produsente ook ‘n groot bydrae kan lewer tot voedselsekerheid.

“Ons moet saamstaan en daarin slaag om winsgewend te produseer – dan sal elke bietjie help om genoeg voedsel te verseker.”

  • Die Swart-gesin van Elim is saaiprodusente (koring, hawer, gars en korog) en het ook skape, beeste, bokke en volstruise.
  • Preline is hierdie jaar vyf jaar in die boerdery wat alreeds 33 jaar lank bestaan en geniet elke oomblik en leer elke dag iets nuut. “Ek het geen boerderyagtergrond nie en het by my man en seuns geleer.”
  • Sy glo die mediadekking wat vanjaar aan verskeie aspekte gegee is, veral uitsprake wat verleen is, is beslis voldoende bewys van die stem van georganiseerde landbou. Belangrik ook is die waarde wat almal daaraan heg.
  • Sy is lid van Graan SA en United South African Agricultural Association Champions for Sustainable Agriculture (USAAA) en woon gereeld hulle vergaderings en opleidingsgeleenthede by.
  • Preline is benoem vir die 2013 Female Entrepreneur of the Year Award. Die seremonie vind op 8 Augustus plaas. “Ek is baie opgewonde! Dit is ‘n groot eer vir my. My ma het my altyd geleer: ‘It’s not about winning, but about taking part!’ So dit is belangrik vir my.”

Publication: August 2013

Section: Other Articles

Search