• Login
  • Search Icon

Vroue in landbou: Elnora Crous

August 2013

image

ESTIE DE VILLIERS, ASSISTENT-REDAKTEUR: SA GRAAN/GRAIN

Elnora Crous van die Suid-Kaap is ‘n trots Suid-Afrikaanse kommersiële produsent. Sy is passievol oor boerdery en die rol van die kommersiële produsent in die land. “As daar in ag geneem word hoe ‘n klein persentasie van die land se grond bewerkbaar is en die feit dat Suid-Afrika in die meeste landbouprodukte selfvoorsienend is en ook voedselprodukte uitvoer, gee dit vir jou ‘n goeie idee oor die huidige situasie van landbou in Suid-Afrika.

“In ‘n relatiewe droë land, wat gereeld onder droogtes en waterbeperkings deurloop, met verskillende klimaatstreke, produseer ons ‘n baie groot verskeidenheid gewasse en produkte. Landbou verskaf ook baie werksgeleenthede. Dit, tesame met die voedsel wat geproduseer word, is weer eens ‘n bewys van die belangrike rol wat landbou in Suid-Afrika vervul,” beklemtoon Elnora.

Uitdagings in landbou

Soos enige ander besigheid, is boerdery ook ‘n besigheid en kan dit slegs voortbestaan indien dit winsgewend is. Elnora meen dat insetkoste wat jaarliks meer styg as inflasie en só die produsent se wins verminder, een van die grootste uitdagings in landbou is.

“Met die unieke uitdagings wat Suid-Afrikaanse landbouprodusente ervaar in terme van klimaatstoestande, voedselsekerheid vir ‘n groeiende bevolking, grondhervorming asook die huidige ekonomie, vaar landbou goed, maar kommersiële produsente sal steeds moet aanhou probeer om die effektiwiteit van landbou te verhoog tot die beste van hul vermoë.

“Boerderypraktyke sal meer produktief moet word en produsente sal gebruik moet maak van die nuutste tegnologie en wetenskaplike boerderymetodes, om sodoende meer voedsel te produseer op dieselfde hoeveel beskikbare grond en selfs minder,” verduidelik Elnora.

Volgens haar is grondhervorming en die onsekerheid wat dit in die landbou veroorsaak, nog ‘n belangrike uitdaging wat aangespreek sal moet word. “Om grondhervorming suksesvol te laat plaasvind in die land, moet die opkomende boere goed opgelei word, in staat wees om produktief te kan boer en ook die wil hê om ‘n sukses daarvan te maak en om so gou as moontlik kommersieel te kan boer. Bestaande kommersiële landbouers sal ook sekerheid moet kry oor eiendomsreg om aan te hou belê in landbou.” Nog ‘n groot uitdaging volgens haar in Suid-Afrikaanse landbou is die invoer van gesubsidieerde produkte.

“As ‘n kommersiële produsent moet jy met enige produsent in die wêreld kan kompeteer met jou lanbouprodukte. In my opinie is dit onregverdig om met ‘n Amerikaanse regering of ‘n Europese Unie te kompeteer wat hul produsente subsidieer.” Sy voel sterk daar oor dat Suid-Afrikaanse produsente beskerm moet word teen gesubsidieerde, ingevoerde produkte wat op ons markte gestort word en so werkloosheid in die land verhoog.

Arbeidskwessies en die minimum loon is nog ‘n uitdaging in Suid-Afrikaanse landbou. “As markte nie voorsien word van gesubsidieerde, ingevoerde produkte nie, sal die produsent meer kry vir die produk wat plaaslik geproduseer word en sal hoër lone aan arbeiders betaal kan word, maar die produktiwiteit van die arbeiders sal ook moet verhoog,” aldus Elnora.

Voedselsekerheid en die toekoms

Volgens Elnora het landbou nog altyd in die verlede en sal dit ook in die toekoms, ‘n baie belangrike rol in Suid-Afrika speel. “Ek glo die kommersiële produsente sal die huidige uitdagings in die landbou die hoof kan bied asook die uitdagings wat die volgende tien of 20 jaar aan ons gaan stel, anders gaan hongersnood aan die suidpunt van Afrika ‘n al groter realiteit word.”

“Voedselsekerheid is nie net in Suid-Afrika ‘n kwessie nie, maar wêreldwyd, veral met die wêreldbevolking wat aan die toeneem is. Al produseer Suid-Afrika genoeg voedsel plaaslik om as ‘n selfvoorsienende land beskou te word, is daar steeds huishoudings wat nie genoeg voedsel het nie.

“Suid-Afrika se landbouprodusente sal aanhou om goeie kwaliteit produkte te produseer indien dit winsgewend is. Dit is dus baie belangrik dat voedselsekerheid volhoubaar is in die lang termyn sodat dit vir almal toeganklik, beskikbaar en bekostigbaar sal wees. Daarom is dit ook belangrik om te onthou dat hoe minder voedsel daar in die land geproduseer word, hoe minder werksgeleenthede sal daar wees en hoe hoër sal die voedselprys styg as gevolg van die vraag en aanbodbeginsel.

“Gebeure soos dié wat in die Wes-Kaap rakende minimum loonkwessies plaasgevind het, moet voorkom word aangesien dit ernstige negatiewe gevolge vir voedselsekerheid vir die land inhou,” sluit Elnora af.

“Die kommersiële produsent speel ‘n uiters belangrike rol in die voedselsekerheid van die land. Dit is belangrik dat die regering dit ook moet besef en produsente ondersteun asook ‘n positiewer houding teenoor die produsente moet toon en nie negatiewe uitsprake rakende produsente maak nie.”

  • Elnora Crous boer saam met haar pa in die Overberg-distrik – tussen Caledon en Riviersonderend. Hulle bedryf ‘n gemengde boerdery wat bestaan uit ‘n graan- en veekomponent. Die gewasse wat hulle verbou, is koring, gars, hawer, kanola, droëland lusern en medics. Die veekomponent bestaan uit Dohne Merino skape en Angus beeste.
  • Sy het in 2010 haar veekunde-graad aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang en is direk daarna plaas toe.
  • Elnora dien tans op die bestuur van die plaaslike landbou - vereniging en is lid van verskeie landbou-instansies, soos die NWKV, RPO en Graan SA.

Publication: August 2013

Section: Other Articles

Search