• Login
  • Search Icon

Roete vir die toekoms vasgestel

April 2017

SA GRAAN/GRAIN REDAKSIE

“Only once we’ve learnt to truly connect every aspect of life, will we receive the insight to calmly map ourjourney.” – Martin May.

Die landboubedryf het gedurende 2016 een van die uitdagendste jare ooit gehad. Ten spyte hiervan – of dalk juis as gevolg daarvan – het boerdery verskeie suksesse behaal.

“Ons het eenvoudig harder gewerk en harder probeer,” het mnr Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, in sy oudiovisuele Voor sittersverslag gesê. “Ons as organisasie het die punte verbind, ons opsies oorweeg en ons roete vorentoe beplan.”

Hy het bygevoeg dat verlede jaar se droogte gewys het dat toestande vinnig kan verander en dat produsente en ‘n organisasie soos Graan SA aanpasbaar moet wees om tred te hou met ʼn veranderlike omgewing. Graan SA het juis die droogte gebruik om volhoubaarheid te meet en aan te pas by die veranderende omstandighede: Daar is gekyk na struktuurveranderinge en besparings in die organisasie.

Produsente is veral genoodsaak om nuwe maniere te vind om aan te pas by veranderde omstandighede. Met die droogte moes heelwat produkte na Suid-Afrika toe ingevoer word en dit het gelei tot ‘n styging in voedselpryse.

Volgens mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA) is een van die voordele dat dit die privaat sektor geforseer het om deur middel van die skenking van fondse (wat deur Agri SA bestuur is) bystand aan produsente in droogtegeteisterde gebiede te verleen.

Die privaat sektor is genoop om die landboubedryf onder die vergrootglas te plaas. Met 2016 se Graan SA NAMPO Oesdag was daar dan ‘n rekordgetal besoekers by die Oesdag en Graan SA kon ‘n rekordopbrengs realiseer om die leemtes in die organisasie se begroting, wat gelaat is deur produsente wat nie oeste gemaak het nie en daarom nie graan kon lewer nie, te vul.

Insetverskaffers het ‘n uiters belangrike rol in die oorlewing en voortbestaan van produsente gespeel. ‘n Groot aantal landboubesighede en insetverskaffers het ‘n aansienlike verskil op plaasvlak gemaak en ondersteuning aan produsente gegee. Een voorbeeld hiervan is die substansiële bedrae wat aan Graan SA se Landbouontwikkelingsprojek geskenk is toe daardie fondse opgedroog het.

Met die politieke omgewing wat aanhoudend verander en onvoorspelbaar bly, verhoog die druk op die graanbedryf – wat graanproduksie uiteindelik beïnvloed.

Die regering dring aan op vinniger grondhervorming en een van die maniere om dit te realiseer, is om byvoorbeeld die fondse in die graantrusts te gebruik – vir transformasie en om hul eie doelwitte te bereik. Dit het egter ‘n geweldige negatiewe impak op verhoudinge in die trusts gehad. Dit lyk egter of hierdie uitdagings nou uitfaseer en dinge meer normaal begin raak in die bedryf. Die staat het besef dat die geld vir ander sake aangewend moet word.

In dieselfde periode het die statutêre heffing wat aan die Wintergraantrust oorbetaal is, tot ‘n einde gekom en die koringbedryf moes die toekoms daarvan heroorweeg en die SA Cultivar and Technology Agency (Sacta) is gevorm – waardeur die heel nuutste tegnologie aan produsente gebied kan word ten einde hul winsgewendheid te verseker.

Gemeenskaplike grond sal tussen die regering en die landboubedryf gevind moet word, sodat die bedryf kan floreer en vorentoe kan beweeg. ‘n Voorbeeld hiervan is die goeie samewerking wat daar is in die regering se Jobs Fund-projek waarby Graan SA en verskeie insetverskaffers betrokke is.

Kleinskaalse boere wat in die verlede skaars hulle eie huishoudings van voedsel kon voorsien, produseer nou genoeg vir eie gebruik en het selfs ekstra landbouprodukte om te verkoop om ʼn wins te maak.

Ander ooreenkomste wat uitstekend werk, is die vennootskap met die Departement van Wetenskap en Tegnologie. Die departement help met fondse en internasionale verhoudinge met regerings om die nuutste tegnologie na Suid-Afrika te bring. Hierdie vennootskap het reeds sukses behaal met beter opbrengste en profyt vir die produsente.

Koringbedryf
Die fokus daarop om die plaaslike koringindustrie te laat herleef, werp vrugte af. In 2016 is die konflik waar kwaliteit van koring oor tyd bly verhoog het, maar navorsing om opbrengs te verhoog, agterweë gebly het, aangespreek.

Ons het graderingskriteria verslap, wat daartoe gelei het dat daar ‘n wyer “venster” van verskillende kwaliteite is – wat blyk die produsente en telers se intensie was: ‘n Klein bietjie meer spasie en nie ‘n totale verlaging in kwaliteit nie, want ons moet steeds die verbruiker se behoeftes bevredig. Ons is nou op ‘n meer gelyke vlak om met die Swartsee-lande wat koring na Suid-Afrika invoer, mee te ding.

Die tarief op koringinvoere is nog ‘n aspek wat groot aandag geniet het en waar Graan SA groot sukses behaal het. SAID het gereken die publikasie van die goedgekeurde verhoogde invoertarief sou swak politiek wees en het voete gesleep daarmee. Graan SA moes hulle deur middel van ‘n hofsaak dwing om te presteer.

Graan SA se skakeling met strategiese vennote baan weë vir die toekoms. SAGL se laboratorium is aansienlik verbeter en uitgebrei en die Graan Akademie het ‘n oplewing van belangstelling gedurende die afgelope jaar gehad. ‘n Nuwe netwerk van leierskapontwikkeling het plaasgevind – met uitstekende resultate.

Graan SA besef dat landbou oor tien jaar nie meer dieselfde bedryf sal kan word soos tans nie en dat ons beslis nie meer in afsonderlike rasgroepe opgedeel kan word nie.

Die landboubedryf sal bymekaar moet kom – ongeag ras – en moet saamwerk vir die voortbestaan van voedselveiligheid in Suid- Afrika. Die groter behoeftes van kommersiële en ontwikkelende boere bly dieselfde en landbou kort dus ‘n verenigde groep. Dit is juis hier waar die graanbedryf die voortou geneem het.

Om in lyn te kom met die “King-verslae” het Graan SA die afgelope vier jaar prosedures ontwikkel om botsing van belange binne die organisasie te hanteer. Hierdie botsing het ingesluit lede van ons hoofbestuur of werksgroepe wat óf deel is van die bestuur óf groot belange in insetverskaffers, finansierders en afnemers het. Daar sal binnekort ‘n komitee aangestel word wat hierna sal kyk en aan Hoofbestuur aanbevelings sal maak aangaande enige krisisse of botsing van belange. Graan SA is ‘n demokratiese organisasie met demokraties-verkose leierskap.

Grondhervorming bly egter ‘n kopseer en nuwe era-boere wat regeringsplase bestuur, kan nie enige finansiering verkry sonder die bewys van ‘n titelakte as sekuriteit nie. Daar is ‘n groot aantal plase op die mark ná verlede jaar se droogte, maar bitter min van hierdie plase is deur die regering gekoop. Dit was juis die regte tyd vir die regering om grond te koop vir heelwat minder as wat die eintlike markverwante pryse was. Die regering het egter verkies om dit nie te doen nie.

“In die afgelope jaar moes ons die rem optrek, kalmeer en versigtig luister na mekaar en na God om te hoor wat die graanroete is wat ons in die toekoms moet inslaan,” het De Villiers afgesluit.

Publication: April 2017

Section: Grain SA

Search