• Login
  • Search Icon

Riglyne vir die benutting van weimielies deur skape

March 2013

HENDRIK VAN PLETZEN, VOERMOL VOERE

Die beweiding van ongeoeste mielies deur skape, ook bekend as weimielies, is ‘n baie ou praktyk. Skaapboere in die oostelike dele van die land het in die vyftigerjare van die vorige eeu reeds mielies bewei.

Hierdie praktyk is dus so oud as wat mielies verbou word. Navorsing met weimielies is vanaf 1980 op Wildebeesfontein, destydse proefplaas van OTK, gedoen en daarna ook op die proefplase Nooitgedacht en Athole, naby Ermelo, en ook deur ander navorsingsinstansies.

Praktyk- en navorsingsresultate toon dat weimielies ‘n uitstekende metode is om waarde toe te voeg tot mielies en ‘n “mielieprys” van tot R3 700/ton (Maart 2013) is haalbaar, mits die regte bestuur toegepas word.

Verskeie prys- en produksiefaktore sal natuurlik die finale syfer beïnvloed en ‘n begroting moet vir eie omstandighede opgestel word. ‘n Groot voordeel van weimielies is dat die opbrengs en drakrag hoër is as enige ander aangeplante droëlandweiding en dit pas baie goed in ‘n voervloeibeplanning vir die herfs en winter in.

Die drakrag word tot ‘n groot mate deur die graanopbrengs bepaal en hoe beter die graanopbrengs, hoe hoër is die drakrag. Weimielies is eintlik in wese ‘n laekoste-voerkraal. Mielies, die belangrikste energiebron vir afronding, word net so op die land gelaat om te wei. Geen stroop-, wegry-, opberg- of terugvoerkoste is nodig nie. Verder is geen maal- en mengkoste nodig nie en ook nie voerkraalfasiliteite nie.

‘n Geskikte lek met die nodige proteïene, minerale, spoorminerale en medisyne om suurpens (asidose) en die vorming van blaasstene te voorkom, is noodsaaklik. Voermol Landelek (V15414) is spesifiek ontwikkel om voedingsprobleme en voedingstekorte op weimielies en mieliereste te beperk.

Soos met enige boerderypraktyk is daar bepaalde risiko’s wat tot ‘n groot mate bestuurbaar is. Wees egter bedag op die volgende slaggate wat die winsgewendheid ernstig kan benadeel.

  • Suurpens (asidose) bly die grootste enkele risiko en grootskaalse vrektes kan voorkom waar skape nie goed aangepas is nie.
  • Lammers wat nie mielies ken nie, neem tot drie weke lank om mielies te leer vreet. Aanvanklik wil die lammers glad nie die mielies vreet nie en dan ewe skielik ná sewe tot 14 dae begin hulle sterk wei en kry suurpens.
  • Lammers wat lakseer, is geweldig vatbaar vir brommeraanvalle. Dit bly ‘n probleem tot en met die eerste strawwe ryp.
  • Die proteïenwaarde van mielies is laag en op die meeste lande is daar ‘n tekort aan sink, mangaan, selenium en koper.
  • Die minerale is nie gebalanseerd nie en ‘n oormaat fosfor gee aanleiding tot die vorming van blaasstene by hamels en ramme.
  • Kontrole en beheer in ‘n digte stand mielies in groot kampe is ‘n probleem.

Bestuursriglyne om probleme te beperk

  • Prosesseer lammers soos vir ‘n voerkraal en gee die nodige inentings, behandel teen inwendige en uitwendige parasiete, behandel met ‘n langwerkende middel teen brommers en dien ‘n oorinplantaat toe.
  • Gee Voermol Landelek (V15414) vanaf dag een om lammers die lek te leer vreet. Gee klein hoeveelhede vars Landelek ten minste twee maal per dag en voorsien ten minste 5 cm vreetspasie per lam.
  • Weimielies kan reeds in die groenmieliestadium bewei word – dit vergemaklik aanpassing.
  • Gelykmatige aanpassing op mielies is belangrik. Gee Voermol Lande lek ten minste 14 dae voor skape op lande gaan en pas mielies gelykmatig op die veld met volop ruvoer aan. Begin met 200 gram mielies of mieliekoppe per kleinvee-eenheid per dag en verhoog dit elke tweede dag met 100 gram (Tabel 1). Weityd kan ook beperk word, maar dit is nie so doeltreffend soos die gelykmatige verhoging in mielievoeding nie.
  • Die aanpassingsperiode van skape wat mielies ken, kan aansienlik verkort word deur hulle met Lacticon S te doseer (vir meer besonderhede in verband met Lacticon, kontak Afrivet).
  • Plaas lekbakke naby waterkrippe om goeie lekinname te verseker.
  • Monitor lekinname. Die aanbevole inname van Landelek is 200 gram per 45 kg - 50 kg skaap. Groter (swaarder) skape moet meer inkry (300 gram/dag).
  • Maak waterkrippe ten minste drie keer per dag skoon.
  • Skuif skape betyds na ‘n vars blok – pitte moet nog sigbaar wees.
  • ‘n “B” trop, dit wil sê droë diere met ‘n laer voedingsbehoefte, wei agter om die land skoon te vreet.
  • Skape wat nie aangepas is nie, moenie by ‘n “aangepaste” trop gevoeg word nie.
  • Monitor diere vir simptome van suurpens – diere is styf en beweeg moeilik, lakseer, ontwater en die mis ruik suur.
  • Onttrek siek skape en behandel met Lacticon S of ‘n teensuurmiddel byvoorbeeld geaktiveerde houtskool of ant-acid. Voer ruvoer (verkieslik lusernhooi), begin weer mielies gelykmatig byvoer en plaas gesonde diere so gou moontlik terug op die land.
  • Hou troppe prakties so klein as moontlik om goeie kontrole en beheer toe te pas.
  • Plaas ‘n paar ouer skape wat mielies ken by speenlammers om hulle vinniger te leer vreet.

image

Voermol Landelek en bogenoemde bestuursmaatreëls sal die risiko van suurpens drasties verminder. Aangesien enkele diere in ‘n trop baie min of geen lek vreet nie, is dit onmoontlik om te waarborg dat geen suurpens sal voorkom nie.

Produksienorme

Die drakrag van weimielies word deur graanopbrengs bepaal. Vir elke 1 ton graan is daar 1 000 kleinvee-eenheid weidae (45 kg - 50 kg skaap) – maak dus voorsiening vir ‘n inname van 1 kg mielies per skaap per dag.

Met ‘n graanopbrengs van byvoorbeeld 5 ton/ha, is die drakrag ongeveer 55 skape/ha vir 90 dae. Drakrag kan verhoog word deur spaarveld aangrensend te wei. Dié praktyk verhoog nie net die drakrag van weimielies nie, maar voorsien ook bykomende ruvesel om suurpens te beperk.

Goeie gehalte, dubbeldoel speenlammers (wol en vleis) met ‘n aanvangsgewig van 28 kg - 32 kg voeg die beste waarde tot weimielies toe. Met die huidige pryse kan ‘n “mielieprys” van tot R3 700/ton realiseer.

image

Skeer lammers twee tot drie weke voor slag om die maksimum voordeel van wolproduksie te benut. ‘n Speenlam verbruik nagenoeg 110 kg mielies in 80 - 90 dae. Lammers op weimielies word gewoonlik swaarder om die gewenste graad te bereik in vergelyking met lammers in ‘n voerkraal.

Weimielies kan ook as strategiese weiding vir lammerooie in die herfs gebruik word. Die voedingswaarde (kwaliteit) van veld daal vinnig in die herfs en ‘n kwaliteitsgaping ontstaan totdat oesreste beskikbaar is. Weimielies kan hierdie kwaliteitsgaping in die voervloeibeplanning met groot sukses oorbrug.

In ‘n proef met Merino-ooie met lammers op ‘n mielieland met ‘n opbrengs van 4 ton graan per ha, was die gemiddelde daaglikse toename (GDT) van die ooie 232 gram en 265 gram vir lammers (Niemand, 2002).

Dit is algemeen bekend dat lakterende ooie op weimielies vet word en die gevolg daarvan is dat tot 68% van die ooie in die daaropvolgende lamseisoen tweelinge lam. Eiselontwikkeling in die ooi begin reeds vyf tot ses maande voor bevrugting en daarom is goeie voeding in laktasie noodsaaklik om ‘n goeie opeenvolgende lammeroes te verseker.

Weimielies plus Landelek stimuleer wolproduksie met goeie treksterkte en skoonwolproduksie beloop ongeveer 15 gram per ooi-eenheid per dag.

Lammers moet ten minste drie weke oud wees voordat hulle op weimielies gaan om te verhoed dat hulle af raak van die ooie.

Die vraag word dikwels gevra of beeste ook weimielies kan benut? In praktykwaarnemings is gevind dat goeie gehalte droë speenkalwers 1 kg/dag - 1,4 kg/dag groei en die beraamde mielie-inname van ‘n 275 kg kalf is 6 kg per dag. Die drakrag van ‘n land met 5 ton mielies, is nege tot tien kalwers/ha vir 90 dae en die inname van Voermol Landelek is 800 gram/kalf/dag.

image

Basies dieselfde bestuursriglyne as by skape geld ook hier. Die grootste probleem met beeste is dat groot hoeveelhede mielies vermors word. ‘n Bees byt die heel kop en die pitte wat wegspat kan nie skoon opgetel word nie. Hierdie vermorsing is soveel dat dié praktyk nie winsgewend is nie. Indien skape agterna skoon wei, kan die praktyk oorweeg word, maar beeste voeg beslis minder waarde tot weimielies as dubbeldoelskape.

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search