• Login
  • Search Icon

Reproduksiesiektes in beeste onder die vergrootglas

March 2013

image

DR CHRIS VAN DIJK, PFIZER ANIMAL HEALTH

Die meeste siektes wat die reproduksiestelsel van beeste aantas, ontwikkel so geleidelik dat dit gewoonlik eers opgemerk word as dit goed gevestig is in ‘n kudde. Besmette diere vrek gewoonlik nie en veral in manlike diere, lyk hulle baie keer nie eers siek nie.

Om reproduksiesiektes te voorkom, moet alle produsente ‘n strategiese en effektiewe biosekuriteitsprogram in plek hê. Alle nuwe diere moet geïsoleer en getoets word alvorens hulle toegelaat word om met die bestaande kudde te meng en net so moet daar ‘n optimale immunisasieprogram vir die bestaande kudde sowel as nuwe diere wees.

Die mees algemene reproduksiesiektes in vleisbeeste is: besmetlike misgeboorte (brusellose), leptospirose, die IBR- en beesvirusdiarree (BVD)-komplekse, vibriose en trigomoniase.

Brusellose (BM)

Baie kuddes is brusellose-vry, maar dit bly steeds een van die belangrikste oorsake van aborsies en onvrugbaarheid in baie areas.

Nie alle Brusella-positiewe koeie sal aborteer, swak kalwers produseer, vassit-nageboortes hê of sukkel om dragtig te word nie. ‘n Brusellapositiewe koei kan dalk 100% normaal voorkom, maar elke keer as sy kalf of op hitte kom, skei sy miljoene Brusella-organismes af, wat dan die omgewing en weiding besmet en sodoende as bron van besmetting vir ander diere dien.

Infeksie vind gewoonlik deur die spysverteringstelsel ná inname plaas, maar kan ook deur die vel of die slymvliese van die oë plaasvind.

Besmette voer, beddegoed of water kan vir ‘n paar dae tot ‘n paar weke besmetlik bly afhangende van die omgewingstoestande.

Alle kuddes behoort geslote te bly en as diere ingekoop word, moet daar seker gemaak word dat die kudde waar daar gekoop word BM-vry is en dat alle vroulike diere volgens aanwysing geïmmuniseer is. Vra om ‘n geldige sertifikaat te sien – moenie net die verkoper of afslaer se woord daarvoor vat nie.

By aankoms moet die nuwe diere vir ten minste 30 dae en 50 m weg van die huidige kudde geïsoleer word. In hierdie tyd kan (moet) alle diere verkieslik weer getoets word vir BM deur ‘n bloedmonster van elke dier (verse, bulle en koeie) te versamel vir ontleding deur ‘n geakkrediteerde laboratorium.

Daar is tans twee brusellose entstowwe op die mark – bespreek gerus die immunisasie van die nuwe diere teen BM met jou veearts. Maak altyd seker die nuwe bul is BM-vry. Bulle sal as ‘n reël nie die siekte versprei nie, maar as hulle wel besmet is, kan die testes en skrotum dalk geswel wees en in sommige gevalle, van die gewrigte.

As jy gevriesde KI-saad gebruik, maak ook altyd seker dit is afkomstig van BM-vrye kuddes en diere, aangesien brusellose ook met gevriesde saad oorgedra kan word.

Leptospirose

Leptospirose is ‘n al groter wordende probleem veral in kuddes waar diere nie daarteen geïmmuniseer word nie. Dit gee aanleiding tot herhaalde telers, laegraadse baarmoederinfeksies, aborsies, mastitis en soms sistemiese infeksies. Dit is ook ‘n soönose, wat van diere na mense toe oorgedra kan word en selfs dodelik vir mense kan wees.

Leptospirose bou gewoonlik ongemerk en oor ‘n lang tydperk in ‘n kudde op. Veral diere wat nader aan mekaar aangehou word, soos melkbeeste, is meer vatbaar. Besmetting is gewoonlik deur die inname van die organisme wat deur die urine van besmette- of draerdiere in die omgewing beland.

Om leptospirose te voorkom, moet alle diere volgens voorskrif geïmmuniseer word en daar moet veral aandag aan die beheer van knaagdiere by stalle en ander areas waar diere bymekaar is, gegee word.

IBR- en BVD-komplekse

Aansteeklike beesrhinotrageïtis (IBR) en beesvirusdiarree (BVD) is twee siektes wat apart en in baie gevalle saam as ‘n kompleks in kuddes gesien word. Dit kan respiratoriese en reproduksieprobleme veroorsaak en word gewoonlik klinies gesien as oogletsels, voetletsels, long ontsteking en aborsies.

Met BVD kan permanent besmette kalwers ook gebore word wat dan die hoofbron van besmetting in ‘n kudde kan wees. Met IBR kan daar soms ‘n milde vaginitis of selfs baarmoederinfeksie gesien word.

Hierdie siektes is baie kompleks en alle produsente moet vooraf die immunisasieprogramme daarteen met hulle kuddeveearts bespreek. Veral nuut aangekoopte diere moet verkieslik in die kwarantynperiode getoets en geïmmuniseer word.

Vibriose

Vibriose is ‘n veneriese siekte wat deur bulle oorgedra word en dit kan moontlik onvrugbaarheid en selfs aborsies veroorsaak. Dit word deur ‘n bakterie veroorsaak wat in die kripte of voue van die bul se skede “wegkruip”. Bulle ouer as vier jaar is gewoonlik meer vatbaar as jong bulle.

Die siekte word tydens dekking deur ‘n besmette bul na die verse en koeie oorgedra. Besmette semen kan ook die siekte versprei – maak dus 100% seker dat gevriesde semen afkomstig is van bulle wat wel negatief getoets is vir vibriose.

Alle bulle behoort jaarliks voor die teelseisoen getoets te word om seker te maak dat hierdie siekte nie dalk in die kudde ingekom het nie. Alle nuut aangekoopte bulle moet met ‘n sertifikaat, wat bevestig dat hulle getoets is en negatief is vir vibriose, verkoop word. Net om 100% seker te maak dat nuwe bulle skoon is, word dit aanbeveel dat hulle weer tydens die aanvanklike kwarantynperiode getoets word.

Diere kan voorkomend teen vibriose geïmmuniseer word. Die beste tyd om dit te doen, is kort voor die teelseisoen. Bespreek gerus die program met jou kuddeveearts.

Trigomoniase

Trigomoniase word deur ‘n protosoa veroorsaak en is ook ‘n veneriese siekte waar die bul gewoonlik die draer van die siekte is.

Simptome kan wissel van aborsies tot ‘n piometra (versameling van etter in die baarmoeder met die serviks wat geslote is). ‘n Piometra ontwikkel gewoonlik nadat die besmette dragtige vers of koei se kalf in die baarmoeder gevrek het.

Dit is baie moeilik om van hierdie siekte ontslae te raak. Bulle wat positief getoets het met ‘n skedewas, word gewoonlik geslag en die vroulike diere kan met ‘n trigomoniase entstof voor die teelseisoen geïmmuniseer word.

Gevriesde semen afkomstig van ‘n besmette bul kan ook die siekte versprei – gebruik dus net semen afkomstig van bulle wat as trigomoniase-vry deur ‘n veearts gesertifiseer is.

Die voorafgaande is ‘n kort oorsig van die meer belangrike re produksiesiektes in beeste. Kontak gerus jou kuddeveearts of die outeur by chris.vandijk@pfizer.com vir meer inligting.

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search