• Login
  • Search Icon

Produseer gehalte saad vir 'n gesonde grondboonbedryf

September 2013

LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Die beginpunt van enige suksesvolle gewasproduksie is die aanplant van goeie kwaliteit saad. Elke enkele saadjie bevat die genetiese informasie van die gewas wat die potensiaal van die plant bepaal, met ander woorde hoe die plant gaan groei en wat sy moontlike opbrengs kan wees.

Dit is egter nie te sê dat al die saad noodwendig gaan ontkiem en gesonde saailinge produseer nie. Daar is baie faktore wat die kiemkragtigheid en groeikragtigheid van saad beïnvloed.

Saad se gehalte word bepaal gedurende die groeiseisoen. Water beskikbaarheid, die stand van voedingstowwe in die grond, die voorkoms van siektes (beide in die grond en op die plant self) asook die tyd van oes het alles ‘n groot invloed op saadgehalte.

Die korrekte oestyd het egter die grootste invloed aangesien dit direk korreleer met die volwassenheid van die saad. Dit is dus uiters belangrik dat saadaanplantings op die korrekte tyd geoes word om te verseker dat saad wat uit die oes vervaardig gaan word, volwassenheid bereik het.

Saadverwerkers moet ook in gedagte hou dat as die beste gedeelte van die saadproduksie afgeroom word vir uitvoerdoeleindes, veroorsaak dit dat die saadlot wat agterbly van ‘n swakker standaard is. Dit is altyd beter om topkwaliteit saad aan die produsent te verskaf om te verseker dat daar goeie kwaliteit saadproduserende plante vir die volgende saadsiklus is.

Die produsent wat vir die verwerker saad produseer, is grootliks verantwoordelik vir die volgende seisoen se saadkwaliteit. Die bestuursaspek van grondboonproduksie moet noukeurig gevolg word.

Hier is die toediening van gips die belangrikste punt wat die produsent moet nakom. Gips is noodsaaklik vir die produksie van kwaliteitsaad met hoë ontkiemingspersentasies en groeikragtigheid. Die reël is om 400 kg/ha tot 700 kg/ha gips toe te dien.

By droëlandproduksie word toediening tydens planttyd gedoen, terwyl besproeiingsaanplantings se toedienings met die aanvang van die blomstadium is.

Bewerkingspraktyke het ook ‘n groot invloed op die kwaliteit van die oes. Ongelyke saadbedvoorbereidings veroorsaak oneweredige opkoms, wat onegalige rypwording tot gevolg het. Té vlak bewerking veroorsaak swak wortelontwikkeling wat swak plante tot gevolg het.
 
Die grondboon beskik oor ‘n penwortelstelsel wat beteken dat die plant in staat is om sy voedingstowwe diep uit die grond te gaan haal. Diep ontwikkelde wortelstelsels het ook die voordeel dat plante droogtetoestande beter kan weerstaan. In die geval van besproeiingsaanplantings is diep wortelstelsels net so belangrik aangesien geloogde voedingstowwe van vorige gewasaanplantings beter benut kan word en sodoende geldverlies op ‘n indirekte manier bekamp.

Wisselboustelsels moet getrou gevolg word en daar moet gewaak word teen agtereenvolgende aanplantings van grondbone. Die gevare hierin versteek, is die opbou van siektepatogene wat die siektedruk op die agtereenvolgende jaar verhoog asook ‘n afname in opbrengs.

Verder is die gevaar van saadvermenging baie groot en is hierdie praktyk heeltemal ongewens. Eerder bang Jan as dooie Jan.

Die beheer van blaarsiektes is baie belangrik om te verseker dat produsente ‘n goeie kwaliteit produk kan lewer. Maak seker dat die gifstowwe wat gebruik word wel geregistreer is vir gebruik op grondbone.

Volg die instruksies vir die gebruik van die produkte noukeurig na en hou by onthoudingstydperke. Blaarbemesting is nog ‘n groot vanggat wat produsente moet vermy. Slegs die toediening van mikro-elemente via blaarvoeding word aanbeveel. Menige produsent het al stelle afgetrap waar stikstof by die blaarvoeding gevoeg is en die produsent geëindig het met die mooiste voer, maar die swakste grondboonoes. Daar kan nie ‘n vergelyk getref word tussen mielies en grondbone nie.

Nog ‘n rooi lig wat in ag geneem moet word, is die voorkoms van operting tydens die meganiese skoffel van grondbone. Hierdie praktyk veroorsaak groot verliese in opbrengs aangesien die nodes waarop blomme gevorm word, toegegooi word en dit blomvorming negatief beïnvloed. Grondbone is nie aartappels nie, hou dus ‘n skoffelimplement weg van die plant. Beheer onkruid eerder chemies en met die regte produkte.

Oestyd is die belangrikste tyd in die lewe van ‘n grondboon. Menige oes is al gemaak of breek gedurende hierdie tyd. Wees op hoogte van hoe om oesgereedheid by grondbone te bepaal. Sodra die oes gereed is om gelig te word, moet daar nie gehuiwer of gewag word nie.

Hoe langer ryp grondbone in die grond bly, hoe groter is die kans dat die graderingskwaliteit nadelig beïnvloed kan word en dit die uitloop van oorryp grondbone kan voorkom. Maak seker dat uithalers en plukkers skoon is voor daar met ‘n kultivar begin werk word om sodoende saadvermenging op die land te verhoed.

Na-oes hantering vanaf die land tot by die verwerker moet onder streng toesig gebeur. Dit is gewoonlik gedurende hierdie tydperk dat onbeplande verliese en skade kan voorkom. Die natreën van sakke, muf van sakke wat op klam grond staan asook sakke wat voete groei, moet vermy word. Met die opsie van massa-nat lewering word hierdie faktore byna uitgeskakel.

Dit is ‘n spanpoging tussen produsent en verwerker om die beste grondboonsaad te produseer. Samewerking en inligting-uitruiling is kritiek. Boeredae wat deur die verwerkers gereël word dien as ‘n goeie platform om mekaar te leer ken en inligting te wissel. Die grondboonbedryf kan net verbeter soos vertroue gebou word.

Publication: September 2013

Section: Input Overview

Search