• Login
  • Search Icon

Praktiese wenke vir jou spilpunt

October 2017

Sakkie Koster, agronoom, Pioneer HiBred en Pietman Botha, SA Graan/Grain medewerker

As gevolg van die hoë oprigtingskoste van spilpunte, is optimale hantering noodsaaklik om te verseker dat mak­simum opbrengs uit die oeste verkry word om die koste aangegaan, te verhaal. Dit verseker ook dat daar nie on­nodig skade aan die masjien aangerig word nie en onderhoudskoste laag gehou word. Elektrisiteit en water is die grootste lopende uitgawes vir ‘n besproeiingsprodusent.

Skedulering en gewasse
Besproeiingskedulering vir ‘n spilpunt verskil basies nie van die skedulering vir ander stelsels nie. Omdat dit egter so eenvoudig is om ligte besproeiing met ‘n spilpunt toe te dien, bestaan die gevaar te dikwels dat te lig besproei word en dat besproeiingsdoeltreffendheid in die proses ingeboet word.

Tydens en na elke besproeiing gaan daar ‘n sekere hoeveelheid water verlore deur:

  • Verdamping tussen die spuit en die grond;
  • onderskepping deur die blaredak; en
  • direkte verdamping uit die bogrond onmiddellik na besproeiing.

Laasgenoemde twee vorms van verliese moet gesien word as ‘n vaste aantal millimeters per besproeiing, ongeag wat die totale toediening was. As die verliese geneem word op 5 mm per besproeiing en daar is slegs 7 mm toegedien, is dit duidelik dat slegs 2 mm daarvan tot die grondvogstatus bydra.

Indien die toediening egter 20 mm sou wees, sou 15 mm effektief in die grond beland het. Poog dus om die toedienings binne perke, maar so swaar as moontlik te maak voordat water sal begin afloop. Binne perke beteken in die geval dat die interval tussen besproeiings nie so lank moet wees dat vogstremming tussen besproeiings voorkom nie, dat besproeiings nie so swaar moet wees dat dit infiltrasievermoë van die grond oorskry nie en ook nie dat meer vog as die vogtekort toegedien word nie.

As te swaar besproei word, loog waardevolle voedingselemente uit die wortelsone en is dit verlore vir die gewas.

Die duimreël is om die gewas se weeklikse besproeiingsbehoefte in een besproeiing te gee totdat die weeklikse besproeiingsbehoefte meer word as wat die grond kan stoor. Daarna kan oorgeskakel word na drie besproeiings elke twee weke en later na twee besproeiings per week.

Waar die tempo van waterlewering ‘n probleem kan word, word aanbeveel dat die volle sirkel nie onder een gewas geplant word nie, maar dat ‘n halwe sirkel elk van twee gewasse geplant word, waarvan die periode van spitsverbruik verskil. In die geval van ‘n aantal gewasse, is dit nie genoeg om dieselfde gewas op twee verkillende plantdatums te plant nie, omdat die laatgeplante deel die vroeggeplante deel inhaal, wat veroorsaak dat hul spitsperiodes in elk geval oorvleuel.

Aangesien verdampingsverliese normaalweg in die dag hoër is as in die nag, is dit wenslik om besproeiing só te reël dat die deel wat tydens die vorige siklus in die dag besproei is, by die volgende siklus in die nag besproei word. Indien water onvoorsiens verminder, kan oorweeg word om een deel van die sirkel te ignoreer en liewer te probeer om ‘n vol oes op die res van die sirkel te verkry. Dit is meer sinvol as om geen oes op die volle sirkel te verkry nie.

Indien die water beperk raak, probeer produsente dikwels om die hele sirkel met ligte besproeiings te lawe en soos reeds genoem, is té ligte besproeiing oneffektief. Dit sal beter wees om swaarder besproeiings op ‘n deel van die sirkel te gee.

In koeler dele, waar dit nie moontlik is om twee oeste per jaar van dieselfde grond af te haal nie en grond nie beperkend is nie, kan oorweeg word om twee sirkels met dieselfde spilpunt te besproei. Sodra die een gewas fisiologies ryp is en dit derhalwe nie meer water nodig het nie, kan die spilpunt na die volgende sirkel verskuif word om die ander gewas te vestig. Let daarop dat nie alle spilpunte gesleep kan word nie.

Die gebruik van grondvogmeters en reënmeters kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie. Hoe anders kan ‘n mens weet dat jy doeltreffend besproei as jy nie meet nie?

Grond
Swaarder gronde bevat dikwels genoeg swelklei om toe te swel sodra dit nat word. Dit beteken dat die grond se vermoë om water in te neem as dit nat word, afneem. By lae leweringstelsels en kleiner sirkels is dit op die meeste gronde nie ‘n probleem nie. Veral by groter spilpunte waar die leweringstempo op die buiterand van die sirkel betreklik hoog kan wees, kan dit ‘n wesenlike uitdaging raak, deurdat die grond nie die water kan absorbeer nie en die water daarom afloop.

Die probleem kom meer gereeld voor by gronde met ‘n hoë klei-inhoud en skuins hellings, asook gronde waarvan die katioonverhoudings versteur is, byvoorbeeld hoë natrium- of magnesium-inhoud.

Moenie ‘n té groot spilpunt opsit wanneer jy op swaarder pro­bleemgronde wil besproei nie. Hoe groter die spilpunt, hoe hoër is die neerslagtempo op die buiterand. Die probleem kan ook aangespreek word deur die benattingsbandwydte van die spilpunt te vergroot. Hierdie oplossings is egter slegs moontlik voordat die spilpunt aangekoop word, aangesien veranderings aan ‘n bestaande stelsel selde moontlik is.

Wanneer afloopprobleme met ‘n bestaande spilpunt ondervind word, moet dit deur middel van bestuur opgelos word en die volgende word voorgestel:

  • Probeer soveel moontlik organiese materiaal op die grond behou om infiltrasie te verbeter.
  • Dien gips op die oppervlakte toe om die struktuur te ver­beter indien die grond heelwat natrium bevat. Stel ook katioonverhoudings reg voor plant.
  • Bring die neerslag per toediening af deur die spilpunt vinniger te laat loop. Dit sal ‘n bydrae lewer deurdat die spilpunt verby is voordat die grond toegeswel is. Wees bedag op té ligte, oneffektiewe toedienings.
  • In die geval van rygewasse, skoffel die gewas solank dit nog klein genoeg is om meganiese skade te beperk en die grondkors te breek (sogenaamde wet rip).
  • Probeer dit vermy om nat grond weer te besproei byvoorbeeld deur ‘n spilpunt wat net ‘n halfsirkel besproei, onmiddellik in trurat te skakel en weer te besproei. Vermy aanhoudende ligte toedienings omdat die grond nog geseël is na die vorige besproeiing en dit beswaarlik meer water sal opneem.
  • Waar ernstige afloop by rygewasse voorkom, kan oorweging geskenk word aan dammetjiebewerking (furrow diking).
  • Dit is altyd gepas om eers ‘n ligte besproeiing op ‘n losgeploegde land toe te dien – alhoewel sulke gronde ‘n swaar besproeiing kan vat. Die rede is om te verhoed dat die spilpunt diep spore trap. As daar eers spore getrap is, sal water van die opvolgende besproeiings in die spore bly staan en die spore sal al dieper word. Dit kan uiteindelik daartoe lei dat die spilpunt vasval of die struktuur beskadig word indien die spilpunt uit lyn loop. Op swaarder grond kan spore met byvoorbeeld berggruis opgevul word om vasval te voorkom. Opvolgende bewerkings moet dan só gedoen word dat die spore nie weer opgebreek word nie.

Spilpuntsproeiers
Die sproeiers is die hart van die spilpunt. Dit is belangrik dat jy die sproeierpakket gereeld evalueer. Weens slytasie wat voorkom, dien die spilpunt nie meer die regte hoeveelheid water toe nie. Dit is ook belangrik om die sproeierpakket te kalibreer.

Dit gebeur soms dat die watervoorsiening oor die lengte van die spilpunt verskil en dit kan lei tot sekere gedeeltes wat te veel water kry en ander wat te min kry.

Wanneer ‘n sproeier verstop is, merk die sproeier, skakel die spilpunt af, draai die sproeier uit en maak dit skoon. Moenie met ‘n draad in die sproeiermondstuk karring nie. Die kanse dat die obstruksie só verwyder sal word, is skraal en die moontlikheid dat die sproeiermondstuk beskadig kan word, is groot. Gaan die spilpunt gereeld na vir verstopte sproeiers.

Algemeen
Lees heel eerste die handboek wanneer jou spilpunt afgelewer word. Moenie die spilpunt aanskakel voordat jy seker is dat dit geaard is nie. Moenie stroombrekers of kontaktors vervang met ander wat groter is as die verskaffer se voorskrifte nie. Vermy om enigiets aan die elektriese bedrading te doen voordat jy nie self die krag afgeskakel het nie.

Kontroleer dat die spilpunt deeglik gespoel is na oprigting. Dit is onvermydelik dat daar grond in die pype beland gedurende die lê van die hooflyn. Die grond sal uit-sedimenteer waar die vloeisnelheid van die water die laagste is – en dit is aan die punt van die stelsel. As die spilpunt ‘n oorhang het, sal dit die posisie wees waar die grond sal uitsak. Dit kan te swaar wees vir die kabels wat die oorhang dra.

Spilpunte met sproeiers bo-op die struktuur, moet nie gebruik word wanneer die moontlikheid bestaan dat die water sal verys nie. Die ontwerp van die struktuur maak voorsiening om die massa van die struktuur en die water in die pype te dra. As ys egter op die spilpunt versamel, mag dit te swaar word en die struktuur beskadig.

Indien die spilpunt in die donker gaan staan om ‘n onbekende rede, wag eerder tot die volgende oggend wanneer dit lig is en jy die hele spilpunt kan sien, voordat jy dit weer aan die gang probeer kry. Dit mag wees dat die spilpunt uit lyn geloop het as gevolg van ‘n stel aandryfwiele wat vasgeval het en dat die veiligheidstelsel die hele spilpunt afgeskakel het. As die veiligheidstelsel nou omseil word, kan die masjien verder uit lyn loop en beskadig word.

Moenie op ‘n leer klim wat teen ‘n bewegende spilpunt leun nie. Die spilpunt kan onder die leer uitloop.

Maak seker dat almal op die plaas weet wanneer chemiese middels deur die spilpunt toegedien word, sodat niemand per ongeluk van die water drink of skadelike dampe inasem of selfs natgespuit word nie. Onthou dat die verste punt van die spilpunt op ‘n 30 ha-spilpunt by tye heel waarskynlik meer as 600 m van die toedieningspunt af kan wees.

Spoel altyd die hele stelsel skoon nadat jy chemiese middels deur die spilpunt toegedien het. Dit sou veilig wees om op ‘n vloeisnelheid van 1 m/s in die stelsel te werk. Dit beteken dat as die totale afstand vanaf die toedieningspunt tot by die punt van die spilpunt 600 m is, 600 sekondes (10 minute) toegelaat moet word vir skoonspoel.

Vir meer inligting, kontak Sakkie Koster by 083 678 8485 of Pietman Botha by 082 759 2991.

​​​​​​​

Publication: October 2017

Section: Focus on

Search