• Login
  • Search Icon

Politieke sakelyste: kos of toilette?

June 2011

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Die onlangse dekking van die aanloop tot die verkiesing het my stom gehad. Elke dag se debat was oor ‘n ander toilet. Is dit die vlak waartoe ons politieke debatte verval het? Tog is ‘n toilet nie ‘n slegte simbool van die basiese dienslewering op plaaslike owerheidsvlak nie. Die uitdaging vir ‘n organisasie soos Graan SA is egter om ná die verkiesing weer almal se aandag te vestig op dit wat moet gebeur vòòr jy by die toilet uitkom – eet!

Toilette is totaal onnodig en onbelangrik as ‘n mens nie eet nie. As alle politici tog net kos ook so ernstig kan opneem! Die enigste aandag wat kos op politieke agendas kry, is as die pryse hoog is of as voedselsekerheid in gedrang kom.

Owerhede is wêreldwyd besig met beleidsaanpassings om seker te maak dat daar genoeg kos vir hulle mense is. Dit wissel van subsidies vir landbouinsette; strategiese voorrade; verhoogde invoertariewe om plaaslike produksie aan te moedig en welsynsnetwerke om arm mense te voed. Kan dit wees dat ons in Suid-Afrika die enigstes is wat reg is deur ons besig te hou met die ander punt van hierdie ketting? Of, miskien is die vraag hoe kan landbou ook “oop toilette” bou om soveel aandag op voedselproduksie gevestig te kry dat daar iets daadwerkliks daaraan gedoen word?

“Oop toilette” in landbou kan net een van drie dinge wees:

Duur voedsel
Daar is genoeg bewyse in die geskiedenis dat hoë voedselpryse die aandag van beleidmakers en politici trek. In 2007/2008 was daar duidelike tekens hiervan. Die huidige onluste in Noord-Afrika, die Midde-Ooste en selfs Mosambiek, is ook deels bewyse hiervan.

Te min graan
Die gebrek aan genoegsame voedsel is iets wat die huidige geslag nuwe Suid-Afrikaners nog nie beleef het nie. Daar was nie so baie elektroniese mediaprentjies in alle vorme beskikbaar toe Suid-Afrika laas regtig ‘n droogte beleef het nie. Ons infrastruktuur en menslike vermoëns om 5 miljoen ton graan in 1992 in te voer, was tot die uiterste beproef. Sal ons dit vandag kan regkry met die dramatiese verswakking in ons infrastruktuur? Indien die wêreldvraag na graan die produksievermoë van graan voortdurend aanmoedig; maar jy alreeds jaar na jaar rekordoeste afhaal, kan die wêreld by ‘n punt kom waar daar bloot net nie genoeg graan is nie. Graan is nie net die stapelvoedsel vir die wêreld nie, maar ook die basis vir baie ander voedsel soos vleis, suiwel en pluimvee.

Voedselsekerheidskrisisse
As die reaksie van mense wanneer hulle troeteldiere “vergiftig” word, as maatstaf gebruik kan word, behoort ons al lankal die aandag van die reguleerders en wetstoepassers in die land getrek het om mense te beskerm.

Suid-Afrika se poreuse grense en swak “bewaakte” grensposte teen siektes en gevaarlike invoere van voedsel is net so ‘n skending van menseregte as die versaak van die polisiediens om ons veilig te laat voel.

Dus wonder ek of ‘n ernstige droogte (hoë voedselpryse); leë winkelrakke (meerderheid van ons graan uitgevoer) of voedselvergiftiging en mense wat doodgaan in Suid-Afrika, eers moet plaasvind voor ons die nodige aandag van die owerhede sal kry. Dan sal hulle seker vra: “Waarom het julle ons nie al lankal gesê nie?” Ek sê maar net!

Publication: June 2011

Section: Editorial

Search