• Login
  • Search Icon

Pluimvee-invoere ondermyn binnelandse mielieverbruik

October 2012

WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Die toename in pluimvee-invoere het ‘n direkte invloed op die binnelandse vraag na mielies. Die aanname word gemaak dat die binnelandse pluim-
veevoermark met 1 ton mielies vir elke ton pluimvee wat ingevoer word, verklein. Volgens BFAP oorskry die jaarlikse groei in pluimveeverbruik die groei in pluimveeproduksie. Gevolglik neem pluimvee-invoere ook om dié rede toe.

Daling in mielieverbruik

Daar vind egter ‘n daling in die potensiële verbruik van mielies met die invoer van pluimveeprodukte plaas. Graan SA steun dus in beginsel die Pluimvee-
vereniging se inisiatiewe om die invoer van pluimvee met die plaaslike produksie daarvan te vervang. Die tydelike invoertarief wat die International Trade Administration Commission (ITAC) in Februarie vir ses maande op die invoer van pluimvee uit Brasilië gehef het, ondersteun ook die plaaslike verbruik van mielies.

Pluimvee-invoere neem skerp toe

Die invoere van pluimvee het sedert die 2009 kalenderjaar skerp toegeneem. Invoere het vanaf 231 000 ton in 2009 met 51,4% tot 350 000 ton in 2011 toegeneem. Die toename in pluimvee-invoere verplaas dus ‘n potensiële mark van 119 000 ton mielies.

Indien in ag geneem word dat die jaarlikse veevoermark ongeveer 4 700 000 ton geelmielies verbruik, kan die syfer ‘n potensiële daling van 2,5% in die vraag na geelmielies verteenwoordig. Wat egter kommerwekkend is, is dat die invoere van pluimvee ‘n tendens is wat toeneem en ‘n bedreiging vir die plaaslike produksie van pluimvee inhou.

Indien die tendens voortduur word beraam dat die invoer van pluimvee-
produkte uit ander wêrelddele teen die einde van 2012, 431 000 ton kan beloop. Hierdie syfer verteenwoordig dus ‘n potensiële toename van 200 000 ton invoere of ‘n styging in invoere van 87% sedert 2009.

Pluimvee-invoere uit Brasilië

Die Pluimveevereniging het Brasilië egter uitgesonder en suksesvol aansoek gedoen vir ‘n teenstortingstarief teen die land se pluimveeuitvoere na Suid-Afrika. Indien die uitvoere van Brasilië vergelyk word met Suid-Afrika se invoere uit die wêreld, kan gesien word dat Suid-Afrika se invoere uit Brasilië meer as 70% vir Januarie tot April van die 2009 en 2010 kalenderjare beloop het.

Vanaf 2011 en 2012 (voorlopig) het invoere uit ander lande toegeneem en het Brasilië se aandeel in Suid-Afrikaanse invoere tot 55% vir die dienoor-
eenkomstige periode (Januarie tot April) gedaal.

Toename in pluimveeinvoere uit ander lande

Indien ‘n vergelyking getref word tussen April 2010 en April 2012 se invoere, is dit duidelik dat die oorsprong van pluimveeinvoere sedert 2012 uitgebrei het. Gedurende April 2010 was invoere beperk tot 13 lande.

Die belangrikste lande het Brasilië (12 900 ton), Argentinië (1 754 ton) en Kanada (1 660 ton) ingesluit as lande waarvan die invoere meer as ‘n 1 000 ton per maand beloop het. Teen April 2012 het die invoerbestemmings tot 18 lande toegeneem. Die belangrikste lande het Brasilië (22 159 ton), Nederland (6 712 ton), die Verenigde Koninkryk (1 974 ton), Argentinië (1 938 ton), Thailand (1 650 ton) en Duitsland (1 352 ton) ingesluit waarvan die invoere meer as 1 000 ton per maand beloop het.

Die totale pluimvee-invoere gedurende April 2010 het 17 458 ton beloop en het toegeneem tot 39 635 ton in April 2012.

Pluimvee-invoere uit Brasilië styg met 55 000 ton

Die bemarkingsjare vir mielies strek jaarliks van Mei tot April. Die pluimvee-invoere uit Brasilië is ook dienooreenkomstig die bemarkingsjaar vir mielies ontleed. Hier volgens blyk dit dat Suid-Afrika 178 000 ton pluimvee gedurende 2009/2010 (Mei tot April) ingevoer het.

Gedurende die daaropvolgende bemarkingsjaar het invoere met 8,7% tot 194 000 ton toegeneem. In die 2011/2012-bemarkingsjaar het invoere verder met 11,2% gegroei tot 215 000 ton. Gegewe hierdie toenemende
tendens is bepaal dat pluimvee-invoere potensieel met 8,2% tot 233 000 ton in die 2012/2013-bemarkingsjaar kan aangroei. Die groei in pluimvee-invoere het dus sedert die 2009/2010-bemarkingsjaar met 55 000 ton uit
Brasilië toegeneem. Gevolglik kan afgelei word dat die vraag na geelmielies in die pluimveevoermark weens hierdie styging in pluimvee-invoere met 55 000 ton moes afneem.

Totale pluimvee-invoere styg met 199 000 ton

Indien die totale invoere uit die wêreld met hierdie syfer van 55 000 ton uit Brasilië vergelyk word, is dit duidelik dat die groei in invoere uit ander wêrelddele anders as Brasilië meer toegeneem het. Só byvoorbeeld het invoere uit die wêreld sedert die 2009 kalenderjaar vanaf 231 000 ton tot 430 000 ton (geprojekteerde syfer vir 2012) toegeneem.

Dit is ‘n toename van 199 000 ton (ingesluit Brasilië) teenoor 55 000 ton uit Brasilië alleen. Dit kom dus voor asof die invoere uit ander wêrelddele ‘n groter toename toon as die toename in die invoere uit Brasilië alleen.

Opsomming

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het aansoek gedoen vir ‘n teenstor-
tingsmaatreël teen die invoere van pluimvee uit die grootste invoerland, naamlik Brasilië. Invoere uit Brasilië toon egter ‘n bestendige groei jaar-op- jaar, terwyl die groei in nuwe invoere uit ander lande ‘n groter toename toon.

Die groei van nuwe invoere uit ander wêrelddele het dus potensieel ‘n groter impak en invloed as Brasilië op ‘n daling in die vraag na mielieverbruik in Suid-Afrika.

Sedert die 2009/2010-bemarkingsjaar het die voerverbruik van geelmielies vanaf 4 265 000 ton tot 3 950 000 ton (geprojekteer vir 2012/2013) gedaal. Dit is ‘n verwagte daling gelykstaande aan 315 000 ton vir die vee voersektor in die algemeen; pluimvee ingesluit.

Volgens Graan SA se projeksies behoort die totale invoere van pluimvee uit alle invoerlande teen die einde van 2012, 431 000 ton te beloop. Teoreties vervang alle tipes ingevoerde pluimveeprodukte die binnelandse vraag na mielies met 431 000 ton. Dit is 431 000 ton wat andersins en ideaal gesproke plaaslik verbruik sou kon wees.

 

Publication: October 2012

Section: Input Overview

Search