• Login
  • Search Icon

Plant-parasitiese aalwurms op grondbone van nader beskou

May 2012

DR SONIA STEENKAMP, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Die onvoorspelbare nat en dan weer skielike droë weerstoestande wat ons oor die afgelope vier jaar beleef het, het nie net ‘n invloed op die opbrengste van die verskillende gewasse gehad nie, maar ook op die aalwurmpopulasies wat op die gewasse parasiteer.

Omdat grondbone hulle vrugte onder die grond dra, is dit seker een van die gewasse waar ‘n mens die invloed van die aalwurmpopulasies op oesopbrengste die beste kan sien. Tot dusver is daar 18 plantparasitiese aalwurmspesies op grondbone in Suid-Afrika geïdentifiseer.

Van die 18 aalwurmspesies kom knopwortelaalwurm (Meloidogyne spp.) en peulaalwurm (Ditylenchus africanus) die meeste voor. Dit is ook hierdie twee aalwurmspesies wat die meeste verantwoordelik is vir ekonomiese verliese by grondboonprodusente.

Knopwortelaalwurm

Omdat knopwortelaalwurm so ‘n wye gasheerreeks het, val hierdie aalwurm nie net die grondbone aan nie, maar ook die gewasse wat in die grondbone wisselbousisteem geplant word. Plante (ongeag die gewas) wat deur ‘n hoë knopwortelaalwurmpopulasie aangeval word, se bogrondse simptome sluit in vergeling, verdwerging en dit lyk dikwels verlep, al het die plante genoeg water gekry.

Dit is egter die ondergrondse simptome wat so tipies aan hierdie aalwurm is. Die wortels (en soms die peule ook) van die grondboonplant vertoon duidelik die onooglike galle wat deur die voeding van die knopwortelaalwurmwyfie veroorsaak word (Foto 1).

Die galle bestaan uit gewone plantselle wat deur die knopwortelwyfie omvorm word om vir haar vir die res van haar lewe voedsel te vervaardig. Die gevolg is dat die plant dan nie behoorlik kan funksioneer deur genoeg voedingstowwe en water op te neem nie en vandaar die geel, verlepperige bogrondse voorkoms.

Hierdie aalwurm is ook in staat om op die stikstofbindende bakteriese knoppies te voed (Foto 2) en verhoed sodoende dat die plant behoorlik stikstof vir eie gebruik kan bind. Die gevolg is dus dat knopwortelbesmette grondbone nie die oesopbrengs lewer wat hulle moet nie. Sekondêre swaminfeksies kan dan ook intree as gevolg van die skade wat die aalwurm op die plant veroorsaak.

image

Omdat die stikstofbindende bakteriese knoppies net soos die galle wat deur die  knopwortelaalwurm veroorsaak word lyk, is daar dikwels verwarring oor wat knoppies is en wat galle is. Dit is egter baie maklik om tussen die twee te onderskei.

Stikstofbindende knoppies word feitlik heeltemal apart van die wortelweefsel gevorm en kan dus maklik afgevryf word sonder om té veel skade aan die wortel aan te rig. ‘n Knopwortelaalwurmgal daarenteen bestaan uit die wortel se eie selle en kan dus nie so maklik afgevryf word nie.

Nog ‘n maklike manier is om die knoppie/gal met ‘n knipmes oop te sny. ‘n Stikstofbindende bakteriese knoppie sal deur die seisoen rooi of groen vertoon, terwyl ‘n gal verrot aan die binnekant sal lyk.

Peulaalwurm

Die goeie nuus is dat peulaalwurm op ‘n verskeidenheid ander gewasse (en onkruide!) kan oorleef, maar slegs grondbone beskadig. Die slegte nuus is dat peulaalwurm dié aalwurm is wat vir die grondboonbedryf die grootste kopseer veroorsaak.

Eerstens is hierdie aalwurm saadgedraagd, met ander woorde, waar ook al besmette saad geplant word, sal peulaalwurm oorgedra word. Hierdie aalwurm kom dus dwarsoor die grondboonproduksiegebied voor. Anders as die meeste ander aalwurms, toon hierdie aalwurm geen bogrondse simptome nie. ‘n Produsent merk dus eers onraad as hy sy grondbone begin lig en teen daardie tyd is dit al klaar te laat.

Peulaalwurmbesmetting se eerste simptome kan gesien word aan die aanhegtingspunt van die anker en peul (Foto 3). Dit is ook waar die aalwurm hoofsaaklik die peul binnedring. Die aanhegtingspunt word tydens indringing beskadig en verswak, met die gevolg dat besmette peule tydens die lig van die grondbone in die grond afbreek en agterbly. In lande met ‘n hoë peulaalwurmbesmetting kan ‘n produsent 40% - 60% van sy oes op so ‘n manier verloor.

Die grootste kopseer is egter dat peulaalwurm ‘n direkte invloed op die kwaliteit van ‘n grondboonbesending het (Foto 4). Hoe hoër die peulaalwurmbesmetting, hoe hoër die ongesond, gevlek en vuil (OGV) persentasie pitte en hoe laer die gradering van só ‘n besending.

image

Baie keer word ‘n peulaalwurmbesmette besending afgegradeer na persgraad toe. Die finansiële implikasie? Tans verdien keurgraad R9 500, diverse graad R6 500 en persgraad R3 500 (Landbouweekblad, 23 Maart 2012). As ‘n besending dus na persgraad toe afgegradeer word, verloor die produsent minstens R6 000 as gevolg van hierdie aalwurm. Peulaalwurm is dikwels ook verantwoordelik vir sekondêre swaminfeksies.

Beheer

Om aalwurms te beheer, is nie altyd so maklik nie. Ontslae raak van hulle, sal ‘n mens nooit kan nie, daar sal altyd ‘n paar wees wat oorleef en verder moeilikheid maak. Al wat gedoen kan word, is om hulle getalle laag genoeg te hou sodat die skade wat hulle veroorsaak, nie aan die produsent se sak raak nie.

Knopwortelaalwurm kan redelik met chemiese beheer en wisselbou onder beheer gehou word. Vir ‘n suksesvolle wisselboustelsel wat daarop gemik is om knopwortelaalwurmgetalle te verlaag, moet die knopwortelaalwurmspesie akkuraat geïdentifiseer word.

Peulaalwurm is baie moeiliker om te beheer as knopwortelaalwurm. Wisselbou is nie doeltreffend vir peulaalwurm nie. Die rede hiervoor is omdat die aalwurm in klein getalle op die opvolggewasse leef en dan as gevolg van ‘n kort lewensiklus (7 dae) en ‘n hoë voortplantingspotensiaal en lewensvatbaarheid (tot 90% van die eiers sal uitbroei) weer skade op die opvolg grondboonaanplanting veroorsaak.

Chemiese beheer kan ook nie werklik toegedien word nie, omdat hierdie aalwurm eers werklik begin voed en voortplant sodra die plant begin ankers stoot. Dit val natuurlik ook in die weerhoudingstydperk vir die meeste van die aalwurmdoders wat vir aalwurmbeheer op grondbone geregistreer is, in.

Die enigste oplossing vir peulaalwurm is weerstandbiedende grondboonkultivars. Daar is tans nog geen weerstandbiedende kultivars op die mark beskikbaar nie, maar weerstandbiedende bronne is wel by die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) geïdentifiseer. Afhangende van befondsing, sal hierdie weerstand by reeds bestaande kultivars ingeteel word.

Publication: May 2012

Section: Wenartikels

Search