• Login
  • Search Icon

Paspoortstelsel voeg waarde toe

February 2018

ZANDER SPAMMER, junior landboukundige, Southern Oil (Soill)

Southern Oil (Soill) is die afgelope ses jaar besig om relevante data vanaf kanolaprodusente in te samel. Die kanolapaspoortstelsel, soos dit bekend staan, bevat onder andere die produsente se spuitrekords, watter kultivar en hoeveel hektaar van die betrokke kultivars geplant is.

Omdat Soill Hazard Analysis and Critical Control Points (HACCP)-gesertifiseer is en hierdie voedselveiligheidstelsel dit vereis, moet daar bewys kan word dat plaagdoderresidu op die inkomende saad weglaatbaar min tot afwesig is. 

Daarbenewens het die tweede fase van die Verbruikersbeskermingswet, Wet 68 van 2008, op 31 Maart 2011 in werking getree en noop dit alle partye in die voedselvervaardigingsketting, van die plaas tot die verbruiker se bord, om te voldoen aan alle wetlik-voorgeskrewe vereistes om die risiko van vervolging weens afwykings daarvan, te beheer en tot die minimum te beperk.

Dit is daarom van uiterste belang dat produsente hierdie inligting korrek en volledig voltooi voordat kanola by enige de­pot gelewer kan word. Spuitrekords moet pligsgetrou en deurlopend aangeteken en gemonitor word. 

‘n Lys van geregistreerde produkte word aan produsente voorsien en hulle moet poog om by hierdie lys van produkte te bly. Dit verseker dat slegs Suid-Afrikaanse geregistreerde spuitmiddels vir kanola deur die produsente gebruik word, teen die voorgeskrewe dosis en dat aanbevole onthoudingsperiodes gevolg word. 

Kanola word steeds geklassifiseer as ‘n minder belangrike gewas en in gevalle waar daar ‘n behoefte is aan sekere produkte wat nie geregistreer is nie, kan die bedryf dit in samewerking met Graan SA aan die registrateur deurgee.


Waardevolle inligting
Verder word daar ook waardevolle inligting uit die vorms wat deur die produsente ingedien word, verkry. Dit kan weer na die bedryf geneem word om waarde toe te voeg. Daar kan byvoorbeeld presies bepaal word hoeveel van watter kultivar in ‘n sekere gebied aangeplant is. Verder kan die data gebruik word om standaard spuitprogramme vir begrotingsdoeleindes op te stel.

Hierdie paspoortstelsel speel ‘n kardinale rol vir die maatskappy om te voldoen aan HACCP en die Verbruikersbeskermingswet se onbuigbare vereistes en om almal wat deel vorm van die kanola-olie- en kanola-oliekoekketting te beskerm teen wetlike vervolging van onaanvaarbare vlakke van chemiese residu.

Die stelsel vereis wel ekstra administratiewe werk van almal – vanaf die produsent tot die silo’s waar gelewer word, maar die stelsel is van onskatbare waarde en behoort in die toekoms ‘n vereiste te wees vir alle ander gewasse om volhoubare produksie van voedsel te verseker. Moutgars het ook ‘n soortgelyke stelsel.
 

Publication: February 2018

Section: Focus on

Search