• Login
  • Search Icon

Padvinders

November 2014

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Dit was weer nat, koud en winderig by hierdie jaar se Megaweek. Die koring, gars en kanola lyk pragtig en die Wes-Kaap het weer eens ‘n baie mooi jaar. Verrassend genoeg is daar hierdie jaar nie oor die liggingsdifferensiaal gepraat nie. Grondsake was aan die orde van die dag.

Vir my was die hoogtepunt beslis die gesprek met nege van Graan SA se mentors. Manne wat uit eie wil en befondsing hul medeprodusente en arbeiders help en ‘n massiewe verskil in hulle lewens maak.

Hulle lyk soos alledaagse, gewone produsente, maar hulle harte is anders. Hulle vertel opgewonde oor hoe hulle elkeen ‘n plan bedink het om hul kollegas te help. Party het selfs as borg opgetree, want die finansiering is nie daar nie. Niemand wil help nie...Dit is hartseer.

Hulle deel die vreugdes. Niemand is spyt oor wat hulle doen nie. Hulle sal net graag hulp wil hê met finansiering en natuurlik meer grond. Ek leer by ons mense dat elkeen ‘n eie, unieke plan het. Dit is seker die belangrikste les vir die dag. Dít is nou manne wat nuwe grond breek!

As almal net wil besef dat niemand vir jou een bloudruk sal kan gee nie. Niemand het vir hierdie manne ‘n skop gegee om te begin nie. Dit was uit eie beweging. Dit sou beter wees as grondhervorming só kon werk. “Op jou eie teiken, op jou eie tyd, gaan aan” (à la SA Weermag).

In al my omswerwinge en vergaderings wat ek bywoon, kom ‘n mens op baie wyshede af. As jy fyn na mense luister, hoor jy dit. Een van hierdie suksesvolle mentors in die graanbedryf het die ander dag só ‘n klein wysheid kwytgeraak wat ‘n reuse-impak op die lewe het: Almal van ons weet dat landbou nie vir sissies is nie.

Ons kan mense sekere vaardighede leer en wat om alles te doen om kos te produseer vir mens en dier, MAAR as die druk kom en dinge raak moeilik, is dit karakter wat jou deurtrek en nie jou vaardighede nie.

Dit is juis hierdie wysheid en waarheid wat ons in landbou so koester. Of ons nou jong leiers by die Graan Akademie oplei, of ons jong landbouleiers in die waardeketting aan gesoute mentors blootstel tydens die jongleierslaboratorium of bloot net ‘n opleidingsessie voor 'n hoofbestuursvergadering: Karakter kom eerste! Karakter word nie ge-download van die internet af nie. Karakter volg as jy aanhou om die regte dinge te doen vir die regte redes en volhou daarmee, ongeag.

Daar is baie karakterboutyd in alleenwees en self besluite neem wat nie net almal op jou plaas raak nie, maar ook hulle wat die kos verwerk en eet wat jy produseer.

Daar is ‘n gesegde wat sê dat jy eers kan ruik of dit ‘n roos of kakiebos is as jy dit op die grond met jou voet stukkend trap. Dan kom die ware geur na vore. Hoe “ruik” jý as jy onder druk is? Watse woorde spoel oor jou lippe – roos of kakiebos? Ek word gereeld getoets as ek in die grondhervormingsvergaderings sit en die een na die ander golf van beskuldigings onophoudelik oor jou spoel.

Dan is kalm bly en selfbeheersing die karakter wat jy nodig het om maar weer na die middelgrond te beweeg en net vir die waarheid te staan. Dit is juis hier waar die genade groot is.

Laat ons dan met integriteit vasstaan en die waarheid spreek tot voordeel van almal. Of ons nou grondhervormingsdebat voer, pryse met insetverskaffers of kopers onderhandel, of sommer net vir jou kind leer dat ‘n mens al die wette van die land moet nakom.

Publication: November 2014

Section: Features

Search