• Login
  • Search Icon

Ottosdal Bewaringslandboukonferensie: Positiewe impak op produsentebewustheid

May 2015

HENDRIK SMITH, bewaringslandboufasiliteerder, Graan SA

imageDanksy die hoogs suksesvolle Ottosdal Bewaringsland boukonferensie wat in 2014 gehou is, is ‘n tweede konferensie vanjaar op 11 en 12 Maart gehou. Die oorweldigend positiewe terugvoer van konferensiegangers was ‘n aanduiding dat daar ‘n soortgelyke positiewe impak op produsente se bewustheid van hierdie tema was.

Die Ottosdal No-Till Club (Geenbewerkingsklub) het, in samewerking met Graan SA, daarin geslaag om verlede jaar se hoë standaarde te handhaaf deur weer eens 'n baie suksesvolle bewaringslandboukonferensie op Ottosdal aan te bied.

Meer as 300 produsente en ander belangstellendes het die konferensie bygewoon. Die bywoning van ‘n Argentynse afvaardiging, wat deur middel van die Graan SA/Argentynse-samewerkingsooreenkoms aan die projek meewerk, het verder ‘n internasionale geur aan die geleentheid verleen.

Konferensiegangers is deur mnr Dirk Laas (voorsitter van die Ottosdal Geenbewerkingsklub) verwelkom, waarna mnr Ernst Janovsky (Absa AgriBesigheid) die konferensie geopen het.

Dr Hendrik Smith van Graan SA en die Mielietrust het ‘n oorsig oor bewaringslandbou gegee en mnr Kallie van der Merwe (‘n produsent in die omgewing) het ‘n voorlegging oor chemiese onkruidbeheer in bewaringslandbou gedoen.

Ná ‘n aanbieding deur mnr Tony da Costa (produsent van Nigel, Gauteng), het mnr Frikkie Kirsten (van die LNR-Instituut vir Plantbeskermingsnavorsing) en me Lushka Labuschagne (Univer siteit van Pretoria) terugvoer gegee oor navorsing wat op die gedrag en beheer van knaagdiere in graan gedoen word, terwyl dr André Nel (LNR-Instituut vir Graangewasse) die jongste resultate van proewe wat op Ottosdal onderneem is, bespreek het en deelnemers op die namiddag se veldbesoeke aan die proewe voorberei het.

Hierdie proewe is deur die Ottosdal Geenbewerkingsklub onderneem as deel van die projek wat die Mielietrust onder die Bewaringslandbou Boere-Innoveringsprogram by Graan SA befonds.

Mnr Klaas Mampholo (Departement van Landbou, Bosbou en Visserye) het die tweede dag ingelei en belangrike stappe in bewarings landbou op nasionale vlak bespreek, waarna verskeie bewarings landbouprodusente van die Noordwes Provinsie voorleggings gedoen en hulle suksesse en probleme ten opsigte van bewaringslandbou gedeel het.

Mnr Wessel van Wyk (Proteïennavorsingstigting) het toe ‘n aanbieding oor die verbouing van sojabone gedoen en daarna het beide mnre Cobus Burger (SGS Nvirocrop) en Willie Pretorius (Soil Health Solutions) praatjies oor grondgesondheid gelewer.

Die toekenning vir die beste voorlegging, geborg deur Landbouweekblad, is aan Van Wyk gegee.

Publication: May 2015

Section: Relevant

Search