• Login
  • Search Icon

Opbrengskompetisie in Suid-Afrika bekend gestel

October 2015

BARBRA MUZATA, DuPont Pioneer

DuPont Pioneer het op 1 September vanjaar die eerste jaarlikse Weeg & Wen™ nasionale opbrengskompetisie vir mielie- en sojaprodusente in Suid-Afrika bekend gestel. Die kompetisie is oop vir alle graanprodusente in Suid-Afrika en word in samewerking met John Deere, FNB en Senter 360 (’n Suid-Afrikaanse spilpuntvervaardiger) gehou.

“By DuPont Pioneer was ons doel nog altyd gewees om wetenskap en tegnologie op maniere wat die meeste saak maak na die wêreldmarkte te bring. Die opbrengskompetisie is nóg ’n voorbeeld hiervan en bied aan produsente ‘n geleentheid om genot daaruit te put om nuwe produksiepraktyke te toets, terwyl hul opbrengste maksimaliseer en idees uitruil,” sê mnr Rikus Schoeman, DuPont Pioneer se bemarkingsbestuurder in Suid-Afrika. “Produsente sal ‘n unieke geleentheid hê om mee te ding, te netwerk en om van mekaar te leer.”

Die opbrengskompetisie is geskoei op ’n soortgelyke kompetisie in Amerika wat erkenning gee aan die land se voorste mielieprodusente. Deelnemende produsente sal in vier mieliekategorieë mee ding, naamlik: Besproeiing nasionaal, Droëland – wes, Droëland – watertafelgronde en Droëland – oos.

Sojaprodusente wat deelneem, kan inskryf vir Besproeiing nasionaal, Droëland Oostelike Hoëveld (insluitend die Oos-Vrystaat), Droëland KwaZulu-Natal en Droëland – wes.

In die konteks van ’n droë klimaat, word daar verwag dat die besproeiingskategorie vir mielies die felste mededinging gaan lok. In hierdie kategorie sal die eerste vyf plekke toekennings ontvang, met drie plekke in al die ander kategorieë. Daar gaan ’n totaal van 14 mielie- en twaalf sojatoekennings wees.

Die inligting wat DuPont Pioneer gedurende hierdie kompetisie insamel, is nog ’n manier waarop die maatskappy met produsente saamwerk om vooruitgang aan te vuur en om die opbrengs per hektaar op die plaas te verbeter deur die regte produk op die regte hektaar aan te plant. Dit help ook om innoverende bestuurspraktyke te identifiseer wat gebruik word om die hoogste mielieopbrengste moontlik te behaal. Produsente word aangemoedig om innoverend te wees in die bestuur van hul oeste om die hoogste opbrengs te bewerkstellig.

“Ons kliënte soek ’n vennoot wat net so vinnig soos hulle beweeg om uitdagings aan te spreek...Vennote wat met dieper insig dink en optree en wat idees het wat nuwe waarde toevoeg – op landerye, in stede, in voertuie, in winkels...En boonop vinnig.

Die maatskappy bied die beste saadgenetika in Suid-Afrika asook betroubare landboukundige advies om die regte produk op die regte hektaar te plant, wat produsente help om hul wins te maksimaliseer,” sê Schoeman.

Die bekendstelling van hierdie kompetisie vind plaas op ’n tydstip wat Suid-Afrikaanse produsente deeglik bewus is van die prestasie van hul Amerikaanse eweknieë in die opbrengskompetisie wat deur die National Corn Growers Association in Amerika aangebied word.

Die opbrengste wat produsente soos mnre Kip Cullers en David Hula behaal het, het die verbeelding van plaaslike produsente aangegryp toe hulle in Februarie 2014 tydens vyf boeredae in Suid-Afrika aanbiedings gedoen het. Meer as 1 000 produsente het die aanbiedings bygewoon en talle het die wens uitgespreek dat ‘n soortgelyke kompetisie in Suid-Afrika gehou moet word.

Daar word verwag dat ongeveer 200 produsente vanjaar aan die kompetisie gaan deelneem. Die wenners sal tydens die toekenningsgeleentheid in Augustus 2016 aangewys word. Inskrywings open op 1 September 2015 en sluit op 30 April 2016, of wanneer die maksimum aantal inskrywings behaal is.

Enige Suid-Afrikaanse produsent van 18 jaar of ouer kan ‘n minimum van 2 ha inskryf wat aangeplant is met ‘n geregistreerde variëteit van enige saadmaatskappy teen ’n koste van R1 000 per inskrywing. Om te wen, moet produsente die mielie- of soja-oes met die hoogste opbrengs kweek.

DuPont Pioneer is daartoe verbind om te help om landbounavorsing en -tegnologie te verbeter en sal R62 miljoen teen 2017 belê om ’n nuwe streekstegnologiesentrum in Suid-Afrika te vestig om die hele vasteland te bedien. Die vestiging van die navorsingsentrum sal Suid-Afrika vestig as die middelpunt van innovering met betrekking tot die ontwikkeling van nuwe genetika.

Om meer oor die kompetisie uit te vind, besoek WeegenWen.co.zaof stuur ’n epos aan weegenwen@pioneer.com.

Publication: October 2015

Section: Relevant

Search