• Login
  • Search Icon

Ons kan doen met drie en ‘n half miljoen

June 2010

Beste Grootneef

Daar word vertel dat as ‘n krokodil groot skrik, val sy stert af. Die probleem is egter, ‘n krokodil skrik vir niks!

Kêrels, die mielies is geil. Langs sommige paaie staan mielies soos bloekomplantasies. Dalk hier en daar ‘n versuipkol. ‘n Mens hoor ook van mieliekoppe sonder gewig na al die somerwolkeskadu. Feit is egter, na ‘n wonder seisoen van ongekende reën, is hier ‘n mielie-oes op pad wat soos ‘n krokodil, skrik vir niks. Jy kan maar sê die hele ooste, Vrystaat en Noordwes se mielies het van Januarie tot einde Maart onder ‘n hemelse spilpunt gegroei.

As ons die Nasionale Oesskattingskomitee kan glo is ‘n totale mielie-oes van tot 13,32 miljoen ton moontlik. As dit wel sou realiseer, is dit ‘n nuwe rekord vir Suid-Afrika. Sonder om soos ‘n Verimark-advertensie te klink, “dit is egter nie al nie!”, met die oordragvoorraad wat vir die vorige seisoen tot Mei 2010 verwag word, kan ‘n verdere 2,2 miljoen ton op die hoop mielies gevoeg word. Kêrels, dit gee ons ‘n mielievoorraad van bykans 15 miljoen ton!

Die probleem is dat al die beeste, perde, varke, skape, donkies, mense, hoenders en kalkoene in die republiek, nie hierdie berg mielies in ‘n jaar kan opvreet nie. Die binnelandse verbruik van mielies beloop slegs ongeveer 10 miljoen ton per jaar.

Wat kan help om die voorraad weg te werk, is tradisionele heelmielie-uitvoere na Afrikalande. Ongeveer 1,5 miljoen ton mielies word jaarliks uitgevoer na Botswana, Lesotho, Namibië, Swaziland, Zimbabwe (dankie Bob), Mosambiek en Kenia. Dit is nou as die paaie en spoorlyne die vrag noordwaarts kan vat.

Hier volg nou ‘n boeresom: Indien die oes en surplus van die vorige seisoen sou realiseer, sit ons waarskynlik met totale aanbod van oor die 15 miljoen ton. Neem ons formele binnelandse verbruik en eie plaasverbruik in ag wat hopelik 10 miljoen ton sal beloop, sit ons steeds met ‘n surplus van ongeveer 4 miljoen ton. Waarheen nou daarmee, Gehasi?

Hoekom is dit belangrik om die surplus so na as moontlik aan ‘n zero te plaas? Want die groot oordrag raak my gatsak, gegewe dat markpryse in afwagting van die reuse-surplus, val soos ‘n klip. Die moeilikheid is dat met huidige prysvlakke, ek nie meer winsgewend kan produseer nie. Ten spyte van die baie tonne mielies na ‘n goeie jaar, kan ek steeds nie al my verpligtinge nakom nie. En dit is net nie moontlik om so aan te gaan nie, geen besigheid kan op verliese bedryf word nie.

Wat se planne is daar te make? Die staat kan seker weer versoek word om etanolproduksie uit mielies te magtig. Dit kan ‘n nuwe industriële mark vir mielies vestig. Die staat is egter so haaks soos ‘n alleenbees voor ‘n drukgang oor etanol uit mielies – sê dit kan kos uit die volk se monde vat... Die mening ten spyte van jaarlikse mieliesurplusse oor die afgelope aantal jare. Die roete is ook ‘n langtermyn storie, want baie koppe moet nog geswaai word voor ons met mielieetanol rondry.

Wat is die alternatief? Want die hoop mielies gaan nie vanself verdwyn nie! Volgens Graan SA se manne is die enigste korttermyn opsie om die 3,5 miljoen ton surplus uit die mark te isoleer deur ‘n poel. Indien daarin geslaag kan word, kan pryse weer nader aan invoerpariteit begin styg. Maar dit sal ‘n opoffering vra van elke mielieboer, want om so ‘n poel te laat werk en genoeg voorraad uit die mark te isoleer, sal elke boer ‘n deel van sy oes aan die poel moet toevertrou.

Hoeveel vra jy ou Neef? Ongeveer ‘n derde van jou oes, sê ek jou. En nie net ‘n vae belofte nie. Nee, ondervinding het al geleer dat dit eenvoudig nie werk nie. Ons praat van silosertifikate want dit sal harde besigheid wees. Die voorbehoud vir die poel sal wees dat daardie mielies uit die tradisionele mark verwyder moet word. Ons praat dus van diepwateruitvoere na Japan en China of waarheen ook al.

Die feit van die saak is dat boere tevrede sal moet wees om ‘n nederige voorskot uit die poel te aanvaar sonder om te weet of ‘n agterskotjie sal realiseer. Die bedoeling is eenvoudig, gee ongeveer ‘n derde van jou oes vir die poel sonder enige prysverwagting, met die waarskynlikheid dat vir die res van jou oes jy invoerpariteitspryse kan realiseer, mits, en dit is ‘n groot mits, daar minstens 3,5 miljoen ton in die poel beland!

Wat is die alternatief? Net so eenvoudig. Huidige lae pryse gelyk aan uitvoerpariteit word gehandhaaf vir die onvoorsienbare, vir die totale oes. Met al die negatiewe gevolge daarvan vir elke mielieboer. Hier lê dus ‘n toets voor vir alle mielieboere.

Graan SA sal natuurlik ook die pad gelyk moet maak vir so ‘n poel. Eerstens sal by die Mededingingskommissie verbygekom moet word. Hulle kyk mos grootoog na alles wat lyk na moontlike inmenging in die vryemark. Verder sal steun van landboubesighede en uitvoerders verkry moet word. Finansierders sal ook hul kant moet bring. Die staat sal ook moet aandui of daar begrip en vrede oor so ‘n poel is. Feit soos ‘n koei, om ‘n vrywillige poel vir uitvoere in ‘n vryemark te maak staan, is nie vir sissies nie. Onthou, die poel moet binne twee jaar weggewerk word!

Wat van die komende plantseisoen? Kêrels, as ons nie in die komende seisoen vir die beskikbare mark plant nie, maar weer ‘n reuse surplus produseer, sal die probleem net sneeubal tot ‘n sneeustorting sonder brieke. Daar sal fyn geluister moet word na Graan SA se markruimte aanbevelings. En alles sal afhang van die sukses van die poel al dan nie.

Gewis, hier wag ‘n grootse uitdaging vir Suid-Afrika se mielieboere en vir Graan SA.

As ons die knoop kan deurhaak...

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: June 2010

Section: E-mails

Search