• Login
  • Search Icon

ONKRUIDDODERSKADE: Wie is aanspreeklik?

September 2016

JACK JOOSTE, spesialiskonsultant in Onkruidwetenskap

Sedert 1993 het ek etlike honderde gevalle ondersoek waar onkruiddoders gewasse beskadig het. Dit is maar net dié waarvan ek weet. Dit is beslis ‘n onrusbarende toedrag van sake, omdat die meeste hiervan verhoed kon gewees het indien onkruiddoders volgens geregistreerde aanbevelings aangewend is.

ONKRUIDDODERSKADE: Wie is aanspreeklik?

Nie alle onkruiddoders is ewe veilig vir die betrokke gewas nie

Alhoewel die vereistes vir registrasie bepaal dat bewys gelewer moet word dat die betrokke onkruiddoder veilig vir die gewas moet wees, bepaal dit nie hoe veilig nie. Tydens die ontwikkeling van ‘n nuwe chemiese onkruiddoder, bepaal die betrokke maatskappy ook die risiko wat die bemarking van die betrokke produk mag inhou.

Dit word gedoen deur ‘n groot verskeidenheid proewe onder verskillende omgewingstoestande teen verskillende toedienings hoeveelhede uit te voer. Hierdie proewe word uitsluitlik uitgevoer deur wetenskaplikes van internasionale maatskappye of hul plaaslike agentskappe. Die betrokke maatskappye is normaalweg verseker teen moontlike skade wat die betrokke onkruiddoder mag veroorsaak – mits dit volgens voorskrif aangewend word. Dit spreek vanself dat indien ‘n maatskappy nalatig sou optree, hy nie maklik weer versekering sal bekom nie, of verhoogde premies sal moet betaal.

Wanneer die patent van ‘n onkruiddoder verval (na 20 jaar in Suid- Afrika) staan dit enige persoon of maatskappy vry om die produk te vervaardig. Daar is tans ‘n groot verskeidenheid van generiese onkruiddoders op die mark.

Om registrasie te bekom, is dit vir die betrokke organisasie nodig om chemiese sowel as biologiese ekwivalensie te bewys. Gevolglik kan aanvaar word dat die generiese produkte soortgelyke resultate as die oorspronklike sal lewer. Dit spreek vanself dat die generiese produk ook aan dieselfde risiko’s as die oorspronklike produk onderhewig sal wees.

Wie doen die aanbevelings?

Verkoopsverteenwoordigers van verspreidingsmaatskappye bestaan nie meer nie. Aanbevelings op die plase word tans deur agente gedoen. Dit is dus belangrik om uit te vind of die agent voldoende verseker is.

Dit is ook belangrik om te verseker dat die aanbevelings ooreenstem met die aanbevelings op die betrokke etiket. Indien die aanbevelings van die agent strook met dié van die etiket, verskuif die verantwoordelikheid na die registrasiehouer.

Ongeregistreerde aanbevelings is meestal nie voldoende nagevors nie en daarom riskant. Daarbenewens is dit ‘n kriminele oortreding om ongeregistreerde aanbevelings te maak. Alhoewel ‘n aanbeveling geregistreer is, mag dit nog steeds onder sekere spesifieke omstandighede skade veroorsaak.

Waar hierdie spesifieke omstandighede nie op die betrokke etiket uitgesluit is nie, word die skade die verantwoordelikheid van die registrasiehouer. Dit is daarom vir gebruikers van onkruiddoders noodsaaklik om hul te vergewis van enige uitsluitsels op die etiket.

Daar is egter sekere uitsluitsels op die etiket wat nie deur ‘n hof aanvaar sal word nie, omdat dit nie spesifiek genoeg is nie. ‘n Voorbeeld hiervan is die volgende: “Die onkruiddoder mag die gewas onder koue en nat toestande beskadig.”

Waarom is dit belangrik dat die aanbeveling geregistreer moet wees?

In die geval waar ‘n geregistreerde aanbeveling skade veroorsaak, is die registrasiehouer verantwoordelik indien dit kan bewys word dat die onkruiddoder volgens die geregistreerde etiket aangewend is.

Indien ‘n agent ‘n ongeregistreerde aanbeveling maak, is dit twyfelagtig of sy versekeraar vir enige skade as gevolg daarvan sal instaan. Neem kennis daarvan dat indien twee verskillende onkruiddoders op ‘n gewas geregistreer is, hulle nie in kombinasie gebruik kan word nie – tensy dit op die betrokke etiket of etikette so aanbeveel word.

Die byvoeging van ‘n swamdoder of insekdoder is ook teenstrydig met die etiket. Omdat swamdoders en insekdoders benattingsmiddels in die formulering mag bevat, kan dit tot skade aanleiding gee en dan is die aanbeveling buite registrasie – tensy dit op die onkruiddoderetiket aanbeveel word. Ongeregistreerde aanbevelings is nie voldoende nagevors nie en is hoofsaaklik die oorsaak van onkruiddoderskade.

Wanneer gewasskade opgemerk word

In die geval van skade, is vinnige optrede die wagwoord. Die betrokke agent moet onmiddellik in kennis gestel word. ‘n Skriftelike aanvaarding van verantwoordelikheid moet dadelik van die agent en/of die registrasiehouer (verkieslik albei) geëis word. Indien dit nie verkry word nie, moet ‘n onafhanklike deskundige dadelik ingeroep word.

Daar moet seker gemaak word dat die deskundige bevoeg is om in die onderhawige geval ‘n oordeel te vel en indien nodig, bereid sal wees om in ‘n hof te getuig.

Poog ten alle tye om die verantwoordelikheid vir die skade en die omvang daarvan self of deur bemiddeling uit te klaar. Nieteenstaande moet voorsorg getref word dat alle betrokke gegewens sorgvuldig bewaar word indien dit later in ‘n hofgeding benodig mag word. Ernstige probleme onstaan gewoonlik waar vinnige optrede agterweë bly.

Waarom ontstaan verskille?

Daar is agente en maatskappye wat onmiddellik verantwoordelikheid vir onkruiddoderskade op ‘n gewas sal aanvaar, mits hulle oortuig is dat dit wel hul verantwoordelikheid is. Daar is ook ander wat hulle verantwoordelikheid uit beginsel sal betwis. Net só is daar ook verskille onder produsente en deskundiges, na gelang van hul kennis en ervaring. Omdat almal se siening van ‘n situasie nie dieselfde is nie, ontstaan daar geskille.

In die verlede het maatskappye potensiële eise na hulle versekeraars toe deurgegee sodra hulle oortuig daarvan was dat die skade deur die betrokke onkruiddoder(s) veroorsaak is en dat die skade van redelike omvang is. Die versekeraar het dan ‘n eise-bemiddelaar aangestel om die saak te ondersoek en aanbevelings te maak.

Die eis is dan deur die eise-bemiddelaar beredder. In die meeste gevalle is die eise tot beide partye se tevredenheid afgehandel. In enkele gevalle egter is die eise na die hof verwys. Vir redes wat nie duidelik is nie, het hierdie gebruik in die afgelope aantal jare skynbaar afgeneem. Blykbaar reageer versekeraars al meer en meer slegs wanneer amptelike eise deur middel van ‘n dagvaarding ontvang word.

Die voormalige gebruik het tot gevolg gehad dat die potensiële eise vroegtydig ondersoek is en indien nodig, is die hulp van onkruidwetenskaplikes ingeroep. As dit nie vir hierdie praktyk was nie, sou menige eis in die hof beland het. Aangesien hierdie praktyk blykbaar ‘n afname toon of uitsterf, is dit van uiterste belang dat die gewasprodusent pro-aktief moet optree indien gewasskade opgemerk word om te verseker dat sy saak nie benadeel word nie.

Oorhoofse gedagte

Chemiese onkruiddoders is onontbeerlik vir ekonomiese gewasverbouing, maar die groot verskille in grond en klimaatsfaktore wat die werking van onkruiddoders beïnvloed, veroorsaak dat gewasskade onder sekere omstandighede wel kan voorkom.

In die geval van geregistreerde aanbevelings is die voorkoms van skade gering. Die meeste gevalle waar gewasskade as gevolg van onkruiddoders voorkom, is as gevolg van ongeregistreerde aanbevelings. Die persoon wat die onkruiddoder aanbeveel moet dus seker wees dat die aanbeveling wel geregistreer is deur die etiket te lees, anders is die aanspreeklikheid op hom/haar. Al sou die agent oor voldoende versekering beskik, is dit twyfelagtig of sy versekeraar sal instaan vir skade wat deur ‘n ongeregistreerde aanbeveling veroorsaak is.

Kontak die outeur by 021 843 3024, 082 894 4606 of docjackj@vodamail.co.zavir verdere navrae.

Publication: September 2016

Section: Focus on

Search