• Login
  • Search Icon

Onkruid in die winterreënvalstreek: Deel 7

December 2014

Kaapse dubbeltjie (Spiny emex)

image

PJ PIETERSE, Departement Agronomie, Universiteit van Stellenbosch

Wetenskaplike naam: Emex australis
Afrikaanse naam: Kaapse dubbeltjie of Emex dubbeltjie
Engelse naam: Spiny emex or Devil's thorn

image

Daar kom net een Emex-spesie in Suid-Afrika voor en dit is ‘n onkruid in bewerkte lande en versteurde plekke. Dit is inheems aan die Kaapse provinsies, maar is tans oor die hele Suid-Afrika en ook die wêreld versprei.

Dit is veral in Australië ‘n baie ernstige onkruid nadat dit uit Suid-Afrika daarheen geneem is deur seilskepe. Dit is as bron van vitamien C op die skepe verbou omdat die jong blare eetbaar is. Die vrugte wat dwarsdeur die jaar gedra word, het drie sterk dorings wat pynlike wonde aan mense wat kaalvoet loop kan veroorsaak en dit veroorsaak ook erge pyn en ongemak vir diere wat deur digte stande daarvan loop.

Dubbeltjies is matige mededingers wat gewoonlik ‘n spreidende groeivorm het. As dit egter in digte stande voorkom waar toestande gunstig is vir hulle groei, kan dit ernstig met gewasse kompeteer en het dan ook ‘n meer regop groeiwyse.

In Australië is gevind dat digthede van 30 en 90 dubbeltjieplante per vierkante meter koringopbrengs met 25% en 50% onderskeidelik verlaag het (http://www.cabi.org/isc/datasheet/20826). Ook in Australië is gevind dat 300 uit ‘n kudde van 1 800 skape, sponssiekte (Clostridium chauvoei) opgedoen het as gevolg van wonde veroorsaak deur dubbeltjies; 60 hiervan het gevrek.

Daar is ook gevind dat die vermindering van dubbeltjie-stande van 150 na 30 plante per vierkante meter, die weidingsproduksie verdubbel het en ooie se gewig met 73% verhoog het. Redelik baie van dubbeltjies se nadele is dus half indirek en nie so ooglopend nie.

Dubbeltjies is kruidagtige, platgroeiende tot halfregop, eenjarige plante wat tot 60 cm hoog kan word. Dit het stewige penwortels en is vertak vanaf die basis. Die stingels is groen, fyngeriffeld en glad of bedek met sagte hare. Die blare is enkelvoudig en afwisselend of in klein bondeltjies gerangskik. Die blare is eiervormig tot langwerpig en is gaafrandig tot vlak gegolf. Dit kan 8 cm lank en 5 cm breed word. Die saadlobblare van die Kaapse dubbeltjie is heeltemal langwerpig net na-opkoms.

Die blomme is groen, okselstandig in bondeltjies en is tweeslagtig alhoewel die manlike en vroulike blommetjies op dieselfde plant voorkom.

Die vrugte is driehoekig en het drie holtes op elke vlak, met drie sterk, spreidende dorings. Die sade kan tot 5 mm lank word en is driehoekig met ‘n ronde basis en ‘n skerp punt. Die vlakke is effens ingeduik.

image

Voorkoms en verspreiding

Dubbeltjies kom wydverspreid in Suider-Afrika voor. Dit is ‘n minder belangrike onkruid in die koringlande van die oostelike Vrystaat, maar is ‘n belangrike onkruid in die gewasse van die winterreënvalstreek.

Rondom die 1980’s is dit beskou as een van die drie belangrikste onkruide in koring en die belangrikste in medics in die winterreënvalstreek. Die verskyning van meer effektiewe onkruiddoders, veranderde verbouingspraktyke en die ontwikkeling van onkruiddoderweerstand in sommige ander onkruide het dubbeltjies effens laer af op die ranglys van belangrike onkruide geskuif, maar in sommige dele met ‘n groot veefaktor bly dit die belangrikste breëblaaronkruid.

Dit floreer in sanderige grond. Veral waar eenjarige peulgewasweidings, soos medics, vir meer as een seisoen aaneenlopend verbou word, kan dubbeltjies baie ernstige afmetings aanneem.

Dubbeltjies plant slegs met saad voort. Die sade is groot en kan van diep af ontkiem en vir agt jaar in die grond kiemkragtig bly. Massiewe saadbanke van meer as 10 000 sade per vierkante meter is ná slegs een weidingsjaar in Australië aangeteken.

Gewoonlik ontkiem minder as 20% van dubbeltjiesaad in die eerste seisoen ná rypwording en die ander sade bly rustend in die saadbank (http://www.cabi.org/isc/datasheet/20826). Dit kan dwarsdeur die jaar ontkiem en vestig as voldoende vog beskikbaar is, maar in die winterreënvalstreek is vestiging uit die aard van die saak meestal gedurende die herfstyd.

Daar kom twee tipes vrugte op ‘n dubbeltjieplant voor. Die vrugte wat na aan die grondoppervlakte gedra word, is platter en het korter dorings. Die ryp onderste vrugte bly aan die plant geheg selfs nadat dit afgesterf het en sal waarskynlik in daaropvolgende jare ontkiem naby die plek waar die moederplant gegroei het. Die ander vrugte wat hoër op die plant gedra word, val van die plant af wanneer ryp is en is meer driehoekig, met die gevolg dat daar altyd ‘n doring na bo wys wat beteken dat die vrugte makliker deur diere en mense en selfs voertuie versprei word.

Beheer

Chemiese beheer
Die lys van onkruiddoders wat vir dubbeltjies geregistreer is wat in die publikasie A guide for the chemical control of weeds in South Africa genoem word, word in Tabel 1 aangetoon. Daar is ook ‘n paar onkruiddoders en toepassings bygevoeg wat geregistreer is nadat die gids gepubliseer is asook sommige nie-selektiewe onkruiddoders wat nie spesifiseer watter onkruidspesies beheer word nie, maar wat wel effektief teen dubbeltjies is as daar nie weerstand is nie.

image

image

Dubbeltjies is van die breëblaaronkruide wat effe meer gehard is en nie so geredelik met alle selektiewe breëblaaronkruiddoders beheer word nie. In heelwat gevalle is beheer wisselvallig en kan enigiets tussen 60% en 90% wees.

Sover bekend, is daar nog nie enige weerstand êrens in die wêreld by dubbeltjies waargeneem nie. Dit is egter steeds belangrik dat antiweerstandsmaatreëls toegepas word om te verhoed dat weerstand teen onkruiddoders ontwikkel. Dus moet sorg gedra word dat enige onkruiddoder onder goeie spuittoestande en die korrekte dosis toegedien word op onkruid wat nie groter as die vierblaarstadium is nie.

Te hoë en te lae dosisse veroorsaak hoë seleksiedruk vir teikensetel- en nie-teikensetelweerstand onderskeidelik. Wissel ook die gebruik van ‘n effektiewe onkruiddoder so gereeld as moontlik af met ander onkruiddoders met ‘n ander werkswyse (met ander woorde in 'n ander werkswysegroep).

Alternatiewe beheer
Met die oog op die voorkoming en bestuur van onkruiddoderweerstand, is dit noodsaaklik dat daar nie net op chemiese beheer staatgemaak word nie. Bewerking en fisiese verwydering is effektief, maar baie tydrowend. Vlak bewerking is effektief om dubbeltjiesaailinge te beheer.

Dubbeltjies is volgens Australiese studies een van die min onkruide wat bevoordeel word deur gewasrotasie waar weidings met kontantgewasse afgewissel word. Dit is as gevolg van die feit dat dit moeilik is om dubbeltjies in peulplantweidings effektief chemies te beheer. Aanhoudende verbouing van graangewasse (daar kan wel afwisseling tussen graangewasse wees) of aanhoudende meerjarige weidingsproduksie, soos in Nieu-Seeland, behoort dubbeltjies te onderdruk. Geïntegreerde beheer waar van chemiese beheer en weiding gebruik gemaak word, die sogenaamde spray topping metode, is ook ‘n redelike effektiewe manier om dubbeltjies te beheer. Die toepassing van geïntegreerde bestuursaksies is baie belangrik, nie net om weerstand te voorkom nie, maar ook om onkruidbeheer meer omgewingsvriendelik te maak.

Bedankings en verwysings

Die volgende persone het die artikel krities deurgelees en voorstelle ter verbetering gemaak waar nodig: Prof Andy Cairns (Universiteit van Stellenbosch), dr Erik Eksteen (Syngenta), mnr Org Lotter (Bayer CropScience), mnr Jim McDermott (Du Pont), mnr Hannes Schoeman (Monsanto), mnr Frik Potgieter (Nulandis) en mnr Dirk van Eeden (Terason).

Die lys van geregistreerde onkruiddoders is verkry vanuit die publikasie: A Guide to the chemical control of weeds in South Africa: A CropLife South Africa Compendium. Bestel by info@cropsolutions.co.za of 011 079 4199.

Inligting is ook verkry vanuit die boek Onkruide in gewasse en tuine in Suidelike Afrika en is beskikbaar by die LNR-Instituut virGraangewasse, Privaat sak X1251, Potchefstroom 2520. KontakMary James by 018 299 6253 of JamesM@arc.agric.za.

Die boek Probleemplante en indringeronkruide van Suid-Afrika deur Clive Bromilow is ook geraadpleeg en is beskikbaar by diemeeste boekhandelaars of raadpleeg die webtuiste van die uitgewers: www.briza.co.za.

Lesers kan die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand ook in PDF-formaat verkry van die skrywer van hierdie artikel by pjp@sun.ac.za. Dit is ook (in Engels) beskikbaar by die CropLife SA webtuiste (www.croplife.co.za).

Publication: December 2014

Section: On farm level

Search