• Login
  • Search Icon

Om ‘n plaas te sien brand

January 2011

Beste Grootneef

Die weerlig slaan vanjaar oraloor, maar die reën is tot dusver skraps in ons wêreld. Stowwe, man en winde! Jy sal dink die Vrystaat heet nou die nuwe Kaap van Storms! Saterdagnag ‘n week terug, bel my buurman my met nuus dat die weerlig die veld aan die brand geslaan het. Gelukkig het ‘n buitjie reën die vlamme help blus.

Die volgende oggend het die wind makkerig saam met die son opgestaan, maar gou spiere met erge rukwinde gewys. Met die wind se krag van agter, het die smeulende kolle gou weer opgevlam en ontaard in ‘n wal van vuur. Ou Neef, die verterende krag van vlamme in ou gras en katbos, met ‘n wind wat petrol gooi van agter, wil ek nie gou weer beleef nie. Ons het gedink ons keer die vuur by die grondpad, maar watwou – die vlamme het los bo-oor gespring!

Die rookwolke het gou die onheilsein gestuur. Bure van heinde en verre het kom help. Teen die einde het ek twaalf bakkies met vuurvegters getel wat op verskeie fronte help vlamme blus het. Die vuur is uiteindelik drie plase verder finaal teen ‘n spruit vasgesmoor.

‘n Vlakhaas het net-net voor die bakkie se voorwiel opgevlieg en laat spaander – reg voor die vlamme in. Ek kon nie deur die rook sien of hy dit maak nie. Maar kan jy glo, geen verliese aan lewens of vee nie. Net die weiding wat weg is. Nou hoop ons op nuwe genade van sagte reën om die pikswart velde weer groen te doop.

Die volgende dag stap ek met die brandspoor terug om te sien waar die moeilikheid begin het. Kan jy glo – op die bult ‘n ou klippaal wat die weerlig getref het! Jy kan duidelik die swart spoor van die trefslag teen die klip tot op die grond sien. En na die donderslag het die wind natuurlik die vonke in die droë gras vorentoe gedryf die bult af. Hoed in die hand voor die klippaal kry ‘n mens nuwe respek vir die krag van die natuur. Wat is die mens...?

Ou Neef, suur mynwater is ‘n ander turksvy. En die probleem gaan nie weggaan nie. Al gaan woon ek daar doer in die Bosveld, raak die Witwatersrand se vrot water ook my probleem. Ek lees in die Volk se blad dat die belastingbetalers vir die gemors sal moet uithaal en wys. Dit is nou vir die erfporsie van mynskagte vol suur water wat die goudmyne van weleer goedgunstiglik aan ieder en elk nagelaat het. Praat van uit die skag regeer.

Volgens die berig sal ek en jy moet help hoes om die suur water wat onder die Rand en die middestad van Johannesburg opwel, te ontsuur, voordat dit verder in waterlope losgelaat kan word. Die moeilikheid is dat as niks gedoen word nie, die hele Vaalrivierstelsel met tyd so kan versout dat die water vir niks sal deug nie. Ek drink hoeka nie meer van ons dorp se water sonder brandewyn nie.

Ou Neef, my vraag is, wat het geword van die billike reël dat as jy ‘n gemors veroorsaak het, jy dit ook moet regmaak! Ek verstaan dat van die ou myne aan die Rand nie meer bestaan nie, maar die werkswyse wat nóú gevestig word, is dat myne grond en water kan opmors en dat belastinggeld dit sal regmaak. Klink nie vir my reg nie. Hoe dit ook al sy, in dié geval is ons “de kleine man” wat Jan Taks op sy bene hou, terwyl die mynbase en hul nageslag al die pad bank toe lag.

Ou Neef, dis dalk ‘n nuwe jaar voor ons, maar met ou probleme. Kom ons hoop dat die nuwe jaar ook wysheid vir nuwe oplossings sal bied.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: January 2011

Section: E-mails

Search