• Login
  • Search Icon

Om 'n plaashek oop te stoot

February 2012

– Februarie 2012

grootneef

Beste Grootneef

‘n Plaashek se droewe, droë kraak met die oopmaakslag bly een van die mooiste geluide. Dit sê ‘n klomp goed. Soos welkom tuis, of skud die stad se stof van jou voete af, of sommer net, agter die hek is die veld en mielieland aan jóú geleen vir jou leeftyd.

‘n Gedempte kraak komplimenteer die donker wolke in die lug deur te sê reën is op pad. ‘n Plaashek se skor kraak kan ook praat van stof en droogte en ellende. Om ‘n plaashek oop te maak, bly ‘n voorreg, bo dié van ‘n kantoordeur oop te stoot vir ‘n daaglikse bestaan. Dit is min beskore om veld en mielieland as lessenaar te hê en jou daaglikse brood in die ope natuur te verdien. Koester dus elke dag.

Ou Neef, hier oor Nuwejaar het ons by die familie in die stad gaan kuier. Sodom en Gomorra van vooraf, ek sê jou. Daar is meer karre as pad, met ‘n tolhekhoes om elke hoek en draai. En die mense ry asof dit ‘n laaste kans is om geld by die winkels uit te gee. Verkeersirkels word bestorm soos beeste ‘n drukgang en aan vingers en vuiste in die lug, is geen tekort nie. Ook nie aan toeters nie. Mamma se senuwees was aan flarde met almal wat indruk, toet en fuif hier om ons.

Op ‘n stadium moes ek keer of sy het ‘n taxi met ‘n hardgekookte eier gegooi toe dié doodluiters in die geel baan by ons verbyskuif en voor ons indruk...Ek ry maar met die reël van “bly in jou baan al gaan jy ook staan,” hier in die stad langs...

Die ergste was egter die duur vleis waaraan die stadslanders kou. Skaaprugtjoppies vir ‘n koel R150/kg! Ou Neef, met my eie oë gesien dat vier rugtjoppies jou ‘n hele R75 uit die sak jaag! Dit is amper ‘n hele bottel brandewyn werd. En die mossies! Sulke vaal, rookbesmeerde goedjies wat jou in die oggende wakker hoes.

Die stedelinge doen ook anders besigheid. As jy vinniger is as die eienaar, is dit joune. Het gehoor dat daar vanjaar ‘n nuwe atletiekitem kom! Aflos met ‘n flat screen...En vergeet van winkel toe gaan, alles wat jy nodig het, koop jy by die robot! Die nuutste roofkopie DVD, warm Fanta, lisensiehouers, selfoonlaaiers, portrette van Elvis en wat nog.

‘n Ander ding van die stedelinge! Dit is nie van hoendervang, vere pluk en kook nie. Ou Neef, hier is om elke hoek en draai ‘n eetplek met kitskos. En almal is vol mense. Waar almal geld kry om uit te eet, weet nugter.

Nee wat ou Neef, die stad se liggies lyk mooi van ver, maar daar gunter in die vlaktes is dit beter. Daarom dat die plaashek so mooi kraak gee met die tuiskomslag.

So van anderkant die plaashek gepraat. Ek lees in die geelbladsye dat die nuwe baas van Safex, Chris Sturgess, ten doel het om die mark meer deursigtig te maak en dat aan ‘n projek geskaaf word vir beter kontantverhandeling. Kom ons hoop dit lui die doodsklok vir die liggingsdifferensiaal waaraan geen graanboer meer sin het nie.

Ek lees in ‘n ander berig dat Julius Malema nou ‘n plaas gekoop het. Glo met die naam Schuilkraal naby Polokwane. Kêrels, skryf die man in as lid van georganiseerde landbou en leer hom boer! Dink net daaroor, hy kan vir ons ‘n staptog reël na die Uniegebou vir ‘n beter markomgewing en die behoud van die vrye mark! Maar dalk beskaam die hoop hiervoor.

Die sjampanjeproppe het weer behoorlik geskiet na die jaar se matriekuitslae. Die tragedie wat daarna by die Universiteit van Johannesburg gevolg het, laat ‘n mens egter dink. Dat ‘n skare ‘n person vertrap in die drang vir geleerdheid, is ongelooflik. Die matrieks wat wel die kans kry vir verdere studie moet dit des te meer ten volle benut. Vir baie bly dit net ‘n droom.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: February 2012

Section: E-mails

Search