• Login
  • Search Icon

Om 'n draad te span

June 2013

– Junie 2013

image

Beste Grootneef

‘n Lamlendige heining lei gou tot onmin. Dit is mos gewoonlik op ‘n Sondagmiddag dat Buurman se beeste deurbreek in jou mielies in! Ou Neef, ek sê altyd sonde met die bure vat kortpad deur ‘n pap draad. En ‘n lekker stewige heining lei tot harmonie. ‘n Ander mooi ding van draad span met ‘n buurman, is dat albei bydra tot die koste daarvan.

Draadspan kan baie oorsake hê. ‘n Ou verroeste draad wat plek-plek meegee, kan mens lap en las tot op ‘n punt, maar later bly oorspan al genade. Die lekkerste draadspan is op ‘n nuwe plaas – om die kampe so in te rig dat dit by jóú boerdery pas.

Hoe dit ook al sy, om ‘n draad reg en styf te span, is nie speletjies nie. Gewoonlik moet die ou draad verwyder en opgerol word. Dan verwens jy die dikke binddraad wat die ou doringdraad so styf aan die pale en sparre geknoop het! Met al die hegdrade af, kan die ou draad lyn vir lyn op die veld uitgelê word vir die groot oprol.

Met die laaste draad opgerol en op die sleepwa gelaai, is dit reguit bloekombos toe. Daar word dit tussen die ander ou ysters opgestapel. Oupa Willem het altoos gesê, jy bêre ‘n yster nie vir tien jaar nie, dan kry jy dit nodig! Ek sien die vrouens koop nou tuinpotte wat van ou doringdraad gevleg is!

Die volgende aksie is om seker te maak al die ou sparre word opgelaai en gestoor. Ou ystersparre hou ‘n leeftyd – hier en daar moet jy net weer een reguit tik met ‘n hamer. ‘n Spar het egter sy eie voete – los hom ‘n dag in die veld en hy is weg! Tel hulle maar dadelik op soos hulle loskom en gaan bêre hom in die stoor...

Die groot werk is egter om die ou ysterpale een vir een uit die grond te trek. Dit is asof ‘n paal wortelskiet oor tyd, so vas sit hy! Dis nie net vir loswikkel nie – die enigste raad is om ‘n ketting om die paal en ‘n trekker se lift vas te maak en die trekker die werk te laat doen! Partykeer is dit so ‘n gestoei om die paal uit te kry, dat die trekker se wiel pap druk teen die grond. So ‘n paal kom dikwels krom gebuig uit die grond, maar met ‘n 10 pond hamer en ‘n bietjie geweld, slaat jy hom weer reguit vir die volgende heining.

Grensdrade kan egter ‘n ding afgee. Of dit ‘n nuwe grensdraad is vir ‘n onderverdeling, of ‘n ou grens waaroor met Buurman stry gekry word, laat kom maar die landmeter. Oor tyd waai ou penne mos toe, of die houtpaal soos op die kaart omskryf, word deur rysmiere opgevreet. Die landmeter sal sommer gou die grens pyl en ‘n klompie penne inslaan waarvolgens die grens gespan moet word.

As alles uitgemeet is en jy en Buurman het vrede, kan die spanaksie begin. Eers sit jy die swaar hoekpale in – lekker dik teerpale, so derde van hul lengte in die grond geplant. Die hoekpale moet jy behoorlik anker. Slaan maar ‘n heel ysterpaal met ‘n 45o hoek in die grond en heg dit aan die hoekpaal met ‘n bloudraadspoel, lekker styf opgewen – hierdie is jou teenwig vir wanneer die drade lyn vir lyn spanning op die hoekpale sit. Daar is nie ‘n groter pyn as ‘n hoekpaal wat uit die grond uit klim as jy begin spanning laai met die lyne se styftrekkery nie. Dan moet jy alles oordoen. Party manne stamp die hoekpaal vas met ou olie en sand om die water en goggas weg te hou.

As jou hoeke eers staan, word die ander stutpale so 150 treë uitmekaar geplant – elk met ‘n lekker ysterpaalanker aan weerskante, om die spanning na alkant toe te verdeel. Mooi mik is nou die antwoord om al die stutpale in ‘n reguit lyn te plaas. Waar jy oor ‘n koppie gaan, gebruik maar ‘n vlag op ‘n riet om seker te maak jy bly in ‘n suiwer lyn.

Hierna is dit die ysterpale se beurt. So halwe drom om op te staan help baie, want jy moet genoeg hoogte en krag hê om die paal met die moerneuker in die grond in te dril. Die moerneuker bestaan gewoonlik uit ‘n ysterpyp met ‘n gewig bo-op, wat oor die paal pas, en wat twee man dan ritmies optel en laat val, totdat die paal diep genoeg ingekap is. Die geklap van die moerneuker op die ysterpaal hoor jy vir myle – veral as dit ‘n klipveld is waar daar gewerk word. Weer is mooi mik vir ‘n reguit lyn die wet van draadspan.

Die blink rolle draad word hierna een vir een uitgerol langs die stutpale en ysterpale af. Gewoonlik is so ses drade voldoende vir gewone vee, maar as jy wil seker maak, sit agt drade in die lyndraad. Dan kom niks deur nie.

Met die draad uitgelê word dit een vir een aan die hoekpaal geheg en na die stutpaal getrek. Hier kom die kuns – die drade moenie te styf wees nie, ook nie te slap nie. Dit moet net reg wees! Party manne het ‘n rekveer met ‘n rooi kol om die spanning van die trekker aan te wys. As die spanning reg loop, word die draad om die stutpaal gevou en met ‘n sluitaksie om die draad vasgewoel.

Met al die nuwe drade wat blink hang van hoek tot stutpaal, word die sparre uitgemeet. Weer is dit elke boer se eie besluit hoeveel sparre tussen die ysterpale inpas – elkeen soen mos sy vrou op sy eie manier. Die spar word aan al die lyne doringdraad geheg met binddraad en ‘n flinke draai met ‘n tang en siedaar, die draad is gespan!

Om draad te span, is ‘n lekker werk. As die son eers blink op die nuwe draad en jy met jou een oog mik oor ‘n lyndraad wat pylreguit in die verte verdwyn, dan weet jy dit is goed en reg gedoen.

Wanneer die dorpsjapies so op die teerpad verby heinings rits, wonder ek of hul ooit besef wat dit vat om ‘n meester-draadspanner te wees?

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: June 2013

Section: E-mails

Search