• Login
  • Search Icon

OLIESADE-OORSIG: Internasionale risiko’s neem toe

September 2011

– 15 Augustus 2011

PROF JOHAN WILLEMSE, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Die risiko’s van kleiner oliesaadoeste in die Noordelike Halfrond, is besig om toe te neem te midde van hernude internasionale finansiële mark-onstabiliteit wat in die komende weke die rand/dollar-wisselkoers na een of ander kant gaan laat bokspring.

Internasionale oliesaadpryse is steeds op hoë dollarvlakke en dit wil voorkom of dit hoog gaan bly in die volgende paar maande. Indien die rand/dollar-wisselkoers sou verswak, sal dit plaaslike pryse lig en vir produsente gunstige prys-seine met planttyd gee. Dit sal dan heel waarskynlik ook ‘n plantseisoen wees waar daar reeds met planttyd begin kan word om pryse vas te maak, want tradisioneel is die pryshoogtepunte rondom November/Desember, veral wat sonneblomsaad aanbetref. In die geval van grondbone, is die dollarpryse die hoogste nog – wat baie aantreklike voorplantpryse vir produsente gee.

Internasionale vooruitsigte is riskant met die VSA sojaboonoes wat heelwat verlaag is teenoor aanvanklike oesskattings en nou rondom 83 miljoen ton geraam word teenoor verlede jaar se oes van 91 miljoen ton. Aanvanklike té nat toestande en daarna erge hittegolftoestande in sekere VSA en Europese produksiegebiede het afwaartse aanpassings genoodsaak. Die verwagte La Niña-fase wat gaan versterk in die volgende maande, kan volgens kenners probleme skep vir sekere produksiedele in Suid-Amerika (Sentraal-Argentinië en Suid-Brasilië) vroeg in 2012.

Die relatiewe hoë mieliepryse, wat op die oomblik verwag word om internasionaal voort te duur (en selfs nog te styg), sal in Suid-Amerika die skaal laat swaai ten gunste van mielieproduksie, wat dus beteken dat sojaboonpryse nog moet styg om mededingend te bly vir produsente in Suid-Amerika. Die volgende Suid-Amerikaanse sojaboonoes moet dus opmaak vir die bykans 10 miljoen ton waarmee die VSA oliesaadoeste kleiner is as verlede jaar.

Kliek op https://www.grainsa.co.za/documents/SAGraan%20Sept%2011_Oliesade%20oorsig.pdf  vir die volledige artikel.

Publication: September 2011

Section: Markoorsig

Search